Dokkie wys trauma van hiëna-aanvalle

Erco Janse van Rensburg vyf jaar ná die aanval (Foto: Skermskoot)

“Dit is goed om nou terug te kyk op jou herstelpad en te besin oor waar jy was en waar jy nou is. Dit is dan wanneer jy die vordering sien.”

Só vertel Erco Janse van Rensburg, ’n jong man van Centurion wat vyf jaar gelede sy linkeroog verloor het toe ’n hiëna hom in sy tent in die Krugerwildtuin aangeval het. Hy was destyds slegs 15 jaar oud.

Janse van Rensburg het saam met nóg ’n slagoffer van ’n hiëna-aanval, Nicholas Hudson, in ’n BBC-dokumentêr die negejarige Rodwell Khomazana van Zimbabwe ontmoet en hul ondervindings ná die onderskeie aanvalle met hom gedeel.

Khomazana het sy neus, linkeroog, die grootste gedeelte van sy bolip en gedeeltes van sy voorkop verloor toe hy op 2 Mei tydens ’n deurnagkerkdiens buite Harare deur ʼn hiëna aangeval is.

Spesialiste van Suid-Afrika het ná dié tragiese voorval hul vernuf en tyd aangebied om sy gesig te rekonstrueer. Hy het verskeie pynlike operasies ondergaan en het eindelik in September sy prostetiese neus en oog ontvang.

Rodwell het sy neus, linkeroog, die meeste van sy bolip en gedeeltes van sy voorkop tydens die aanval verloor. (Foto: MealSA)

Hy het tydens sy besoek aan Suid-Afrika vir Janse van Rensburg en Hudson ontmoet. Christian Parkinson, ʼn BBC-rolprentmaker, het die ontmoeting op kamera vasgevang en as dokumentêr bekendgestel.

“Dit is moeilik om so jonk soos Rodwell te wees en deur so baie trauma te moet gaan. Ek weet, want ek was ook so jonk toe ’n hiëna my aangeval het,” vertel Hudson in die dokumentêr.

ʼn Hiëna het Hudson op 12 Junie 2011 in die Hluhluwe-iMfolozi-wildreservaat in KwaZulu-Natal aangeval.

Janse van Rensburg – wat steeds ’n oogklap oor sy linkeroog dra – vertel die grootste les wat hy uit die ervaring geleer het, is dat die situasie waarin jy jouself op ʼn gegewe oomblik bevind, met tyd beter sal word.

“Solank jy op die positiewe fokus en nie op al die negatiewe nie, sal jy ʼn goeie uitkoms bereik,” sê Janse van Rensburg in die dokumentêr.

Sy ma, Cashandra, vertel in die program ook emosioneel vir Rodwell se ma, Shamiso Mabiko, dat sy steeds terugdink aan die dag van die aanval wanneer sy snags haar oë sluit.

“Ek het geleer om my oë oop te maak en vir myself te sê: Ons is nie meer daar nie, ons het aanbeweeg. Ons het al ver gekom. Dit is asof die duiwel ’n mens weer oor en oor wil terugneem na daardie dag,” vertel Cashandra.

Mabiko het met trane in haar oë beskryf hoe hartseer sy oor die aanval op Rodwell is. Sy sê hul ontmoeting met Hudson en Janse van Rensburg gee haar egter hoop.

“Toe ek die ander jong mans sien wat nes Rodwell beseer is, het ek hoop gekry dat my seun ook so goed sal herstel,” vertel Mabiko.

Rodwell sê hy droom daarvan om eendag ʼn dokter te word sodat hy ander kan help – nes die dokters wat hom gehelp het.

Territoriale, dominante karnivore

Volgens die Krugerwildtuin se webwerf is hiënas dominante karnivore wat gewoonlik in ʼn spesifieke habitat jag.

Volgens Heike Schutze, soogdierkenner van die wildtuin, sal hiënas aggressief reageer op enige ander roofdier of selfs mense wat hul gebied binnedring.

Andrew Nezar, ’n bestuurder by die Jukani Wildlife Sanctuary, sê konflik tussen hiënas en mense is egter ʼn seldsame verskynsel en wanneer dit wél plaasvind, sal dit in natuurreservate gebeur of op plase waar boere op hiënas op hul grond afkom.

“In natuurreservate sal sulke aanvalle gewoonlik plaasvind wanneer mense hulle in die hiënas se habitat bevind. Op plase hou hiënas gewoonlik nie sommer ’n bedreiging vir die boer se lewe in nie, maar eerder die vee op die grond,” sê Nezar.

“As ʼn hiëna ʼn mens aanval, is dit omdat die dier bedreig voel of selfs, meer waarskynlik, omdat dit honger is en die persoon as ʼn maklike maaltyd beskou. Hiënas is opportunistiese jagters.

“Hulle wil net ʼn happie kos hê, en gee nie om waar dit vandaan kom nie.”

Schutze sê hiënas jag meestal in troppe van tussen tien tot 40. Die trop word gewoonlik deur die dominante wyfie gelei.

“Hiënas het ʼn ongelooflike vermoë om die kwesbaarste dier in ʼn kudde te soek en dié dan van die kudde te isoleer.”

Hy sê hiënas is ook jagters met baie uithouvermoë wat hul prooi sal aanhou jag nadat hulle bloed geproe het.

“Hiënas kan vir lank ’n vinnige pas handhaaf en só hul prooi oor ʼn paar kilometer jaag. Hul prooi word gewoonlik moeg en dit is dan wanneer die hiënas hulle inhaal en oorval.”

In troppe jag hiënas gewoonlik grootwild – waaronder wildebeeste, sebras en koedoes en soms ook buffels. As hulle alleen jag, soek hulle kleiner diere soos bobbejane, tarentale, volstruise, slange en skilpaaie.

“Hiënas het uiters kragtige kake wat die bobeen van ʼn buffel kan vergruis. Hulle kan prooi wat tot ’n derde van hul eie gewig (15 kg) weeg tydens ʼn enkele sitting opvreet.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Dries ·

Hyenas is nou n probleem in Cape Vidal karavaanpark. DAAR SAL DRINGEND IETS AAN GEDOEN MOET WORD. Daar is kinders en oumense wat in die nag ablusie blokke toe moet loop. Hierdie grwilde visvang oord gaan ook deur die gatte getrek word deur die parke raad. Daar word glad nie gedink nie. Red hierdie pragtige wereld erfinis gebied vir ons kinders asb.

Frank John ·

Maak dat ek nie meer wildtuin wil besoek nie. Dis nie goed nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.