Dolfyn wat op Gqeberha-strand uitspoel, gered

(Foto: NSRI)

Die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) in Gqeberha in die Oos-Kaap het Saterdag gespook om ’n dolfyn wat by Sardiniabaai uitgespoel het, te red.

Volgens Kevin Warren van die NSRI in Gqeberha, is die span om 14:08 na die strand ontbied om die Bayworld-oseanarium en die Nelson Mandelabaai-munisipaliteit by te staan met die dolfyn. Die publiek het die oseanarium en munisipaliteit gekontak nadat hulle op die dolfyn in die vlak water afgekom het.

“Met die NSRI se aankoms op die toneel, het hulle gevind dat die dolfyn in ’n goeie toestand was. Hulle het die dier op ʼn gespesialiseerde seedier-draagbaar vasgemaak en op ’n voertuig van Bayworld gelaai voordat die dier na die NSRI-reddingstasie in Gqeberha geneem is. Die dier is vergesel deur mariene wetenskaplikes en NSRI-reddingswerkers,” vertel Warren.

Die dolfyn is op die NSRI se Rescue 6 Alpha-reddingsboot oorgelaai, wat vir die operasie gereed gestaan het.

“Die volwasse bottelneusdolfyn (’n mannetjie) het ’n paar oppervlakkige en ligte beserings opgedoen. Dit kan daarop dui dat die dolfyn moontlik met ’n haai gestoei het.”

(Foto: NSRI)

(Foto: NSRI)

Die dolfyn is sowat vyf seemyl die see ingeneem en by Algoabaai in onstuimige seetoestande vrygelaat.

“Dit het gelyk asof die dolfyn sterk wegswem nadat hy een keer opgekom het om asem te skep. ’n Mariene wetenskaplike van Bayworld is versigtig optimisties dat die dolfyn sal oorleef.”

Toe NSRI-lede om 17:26 na die reddingstasie in Gqeberha teruggekeer het, is hulle ingelig dat ’n 23-jarige man in die moeilikheid is by Hobiestrand. Volgens inligting was die man besig met swemoefening toe hy vermoedelik in sterk seestrome beland het. Dit het hom verhoed om die strand te bereik.

“Die Rescue 6 Alpha is weer ingespan om op die voorval te reageer. Die waterreddingsnetwerk van die munisipaliteit is ook geaktiveer, asook die polisie en provinsiale nooddienste.”

(Foto: NSRI)

Toe reddingswerkers op die toneel aankom, het omstanders op die strand verduidelik dat die 23-jarige plaaslike man in die branders spartel.

“Die NSRI-reddingsboot is na die man en bemanningslede het hom op die boot gehelp. Hy is na die NSRI-reddingstasie geneem waar paramedici hom geassesseer het. Hy het geen mediese behandeling nodig gehad nie en is na Hobiestrand teruggeneem om sy motor te gaan haal.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Olive ·

Ja baie dankie. Dit is sulke pragtige mense wat mens sommer trots maak om te se dis my mense. Sekere spesies sal gewoonlik nie ‘n vinger lig om te help waar diere of plante hulp of ingryping benodig nie. Mooi loop dolfyntjie.

Di ·

Baie dankie aan hierdie groep! Maak mens so trots om te sien dat daar wel nog mense in hierdie land is wat omgee vir ons diere se lewens.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.