‘Donker dag’ ná vyf skoolkinders in Kaapstad-ongeluk sterf

ʼn Botsing tussen drie voertuie vroegoggend in AZ Berman-rylaan in Mitchells Plain in Kaapstad het die lewens van vyf kinders geëis.

ʼn Sesde kind is in ʼn bedenklike toestand nadat die bakkie waarin hulle op pad skool toe was, etlike kere gerol het ná die botsing tussen dié voertuig, ʼn passasiersbus en ʼn afleweringsvoertuig.

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, sê paramedici was kort ná 08:00 op die toneel om lede van die Wes-Kaapse metropolisie en nooddienswerkers van die stad by te staan wat reeds op die ongelukstoneel was.

“Verskeie kinders, vermoedelik tussen 13 en 16 jaar oud, is ʼn ent uit die bakkie geslinger,” sê Meiring.

“Vyf kinders het reeds aan hul veelvuldige beserings beswyk en ʼn sesde was in ʼn kritieke toestand, ook met veelvuldige beserings.”

Dié kind is inderhaas na ʼn hospitaal geneem nadat hy op die toneel gestabiliseer is.

Geordin Hill-Lewis, burgemeester van Kaapstad, het die stad se innige medelye met die families van die jong slagoffers betuig.

“Ons stad treur saam met die families van die skoliere wat vanoggend gesterf het. Dit is ʼn verskriklike, donker dag vir ons stad.

“Ek is self ʼn ouer en my hart breek vir diegene wat nie vandag hul kinders van die skool sal sien huis toe kom nie.

“Hoewel dit nooit die lewens wat so tragies geneem is, kan terugbring nie, vertrou ons dat owerhede al die feite betreffende hierdie voorval sal vasstel sodat daar aanspreeklikheid vir enige oortreding kan wees.”

Sers. Wesley Twigg, polisiewoordvoerder, sê die Mitchells Plain-polisie ondersoek ʼn saak van strafbare manslag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Skappie ·

Sterkte aan elkeen van hierdie kinders se ouers, gesinne, en vriendekring. Mag ons Liewe Heer julle almal deur hierdie moeilike tyd deur dra.

JohanR ·

Hoeveel maal in Kaapstad sien jy nie ‘n oop bakkie vol met kinders of werkers agterop. Ek se nie, en weet nie of die kinders agterop ‘n oop bakkie gesit het nie maar asseblief Stad Kaapstad verbod enige iemand agter in, of op ‘n oop bakkie. My inige simpatie aan die ouers en families.

Koos 100 ·

Sterkte aan die naasbestaandes. Ek weet julle is afhanklik van die tipe vervoer, maar ek raak dik vir die operateurs wat die vervoer doen, vir geld ten koste van lewens. Vanoggend, in Pretoria, moes ek skerp rem en uitswaai vir ‘n minibus met seker 20 kinders in, wat net dood eenvoudig ‘n stopstraat verontagsaam en reg voor my indraai.

Roek ·

Daar is geen wetstoepassing oral in ons land nie , hul hou padblokades en kyk na jou kar lisensie, beweegende oortredings is die dood op die pad , almal ry net soos hul wil , !!!

Minnie ·

Dis baie tragies.
Sterkte aan al die ouers en familie, ook aan die wat beseer is.

Martie ·

Liefde an sterkte aan elke liewe ouer en mag God jul in sy arms toevou met baie liefde en vertroosting.

Yvonne ·

Ek wonder wat het van verkeersmanne geword ….n mens sien min van hulle in die gemeenskap…langs die pad erens in hulle motors

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.