Donker Kersfees wink vir Lichtenburg en kie

Lichtenburg. (Argieffoto: ANA)

Lichtenburg, Coligny en Blydeville in Noordwes kan dalk die res van die jaar in die donker deurbring omdat die Ditsobotla-distriksmunisipaliteit steeds versuim om sy enorme kragrekening te betaal.

ʼn Kennisgewing aan die Noordwes-premier, die LUR vir die provinsiale tesourie en die LUR van plaaslike regering en tradisionele sake bepaal dat die krag 10:00 Vrydag afgeskakel sal word, aangesien die munisipaliteit versuim het om sy afbetalingsooreenkoms met die diensverskaffer na te kom.

Die munisipaliteit skuld meer as R1 miljard vir die verskaffing van grootmaatelektrisiteit.

“Die munisipaliteit het die datum vir betaling verskeie kere uitgestel en vanoggend (Donderdag) sy kantore gesluit sonder om die rekening te vereffen of kontak met die diensverskaffer te maak,” lui die kennisgewing.

Volgens Carin Visser, lid van die parlement en afgevaardigde van die Nasionale Raad van Provinsies vir Noordwes, sal die ekonomiese spilpunt waarvoor Lichtenburg bekend was, waarskynlik nie hierdie jongste aanslag oorleef nie.

“Agrico [ʼn vervaardiger van besproeiingstelsels vir die landbousektor] het my vanoggend in kennis gestel dat hy sy aanleg in Lichtenburg waarskynlik nie weer sal oopmaak indien die krag weer ontkoppel word nie. Dit sal ongetwyfeld werksverliese tot gevolg hê.”

Lichtenburg is gereeld sonder krag en in Oktober vanjaar moes inwoners vir drie weke sonder krag klaarkom nadat weerlig een van die substasies uitgeslaan het.

“Sakeondernemings in die omgewing ly geweldige verliese en inwoners is al raadop oor die gesukkel. Hulle het al soveel verliese gely omdat hulle reeds vir langer as drie weke sonder yskaste en vriesgeriewe moet klaarkom en in algehele ongemak lewe,” het Naudé Pienaar, adjunkhoofbestuurder van Agri-Noordwes, destyds aan Maroela Media gesê.

In Julie het ʼn kragmas van ʼn private verskaffer op Eskom se kragdrade geval en groot dele van die dorp sonder krag gelaat. ʼn Transformator het terselfdertyd onder vandale deurgeloop. Die krag is eers sowat ʼn maand later herstel en Eskom is daarvan beskuldig dat hy die situasie misbruik het in ʼn poging om die Ditsobotla-munisipaliteit se enorme skuld te probeer verhaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.