#Dorplitiek: Gʼn water in De Aar, maar ANC wil skool bou

‘n Sooispitseremonie in De Aar. (Foto: Facebook)

Inwoners van De Aar in die Noord-Kaap was verbaas toe ʼn sooispitseremonie vir ʼn nuwe skool skynbaar oornag gereël is, veral aangesien die dorp vandeesweek sonder krag was en boonop amper nooit water het nie.

Die krag was vandeesweek vir dae lank af nadat munisipale werkers per ongeluk verlede Sondag ʼn kabel beskadig het en kundiges moes van Bloemfontein kom om dit te help herstel. Dit het inwoners dus onkant betrap toe ʼn klomp stootskrapers Maandag op die dorp opgedaag en ʼn oop stuk grond in die dorp begin platstoot het.

Dieselfde middag is die hoofde van omliggende skole op die nipper uitgenooi na ʼn sooispitseremonie vir ʼn nuwe spesiale skool, wat die volgende dag hier plaasgevind het. Die Noord-Kaapse premier, dr. Zamani Saul, het sélf die seremonie bygewoon, die tweede keer in ʼn week wat hy dié dorp besoek. ʼn Klomp fietse is ook die afgelope week tydens ʼn seremonie aan inwoners oorhandig.

“Dis alles maar politieke goed. Die sooi sal waarskynlik weer toegewaai het teen die tyd wat hulle wel die skool begin bou,” het Gerhard Engelbrecht, DA-wyksraadslid van De Aar, aan Maroela Media gesê.

Dié dorp word bedien deur die Emthanjeni‑ plaaslike munisipaliteit, waar die ANC in 2021 ʼn 60%‑meerderheid van stemme behaal het. Ten spyte van wesenlike agteruitgang in dienslewering die afgelope jare, het die ANC die afgelope Woensdag – ʼn dag ná die sooispitseremonie – met ʼn oorweldigende meerderheid in ʼn tussenverkiesing gewen. Die ANC het 79% behaal, weliswaar minder as die 92% in ʼn vorige verkiesing. Die EFF het 6% van die stemme gekry, ook heelwat minder as die 26% wat hulle vroeër behaal het.

Munisipale werkers in De Aar herstel ‘n beskadigde kragkabel . (Foto: Verskaf)

Inwoners het aan Maroela Media gesê veral watervoorsiening het die afgelope twee jaar in die slag gebly. ʼn Amper ondenkbare probleem, aangesien die dorp op ʼn massiewe ondergrondse watertafel geleë is.

“Daar is beslis nie ʼn gebrek aan water nie, maar die reservoir hier is nooit meer as 12% vol nie. Die infrastruktuur word eenvoudig nie in stand gehou nie,” sê Engelbrecht.

Hy sê die hospitaal op die dorp, wat ongeveer vyf jaar gelede geopen is, is pal sonder water, aangesien water nie van die dorp se reservoir na die hospitaal se reservoir gepomp kan word nie.

Maroela Media het die munisipale bestuurder, Humphrey Molaole, gevra hoe water dan nou aan die nuwe skool voorsien sal word. Hierop het hy gesê die munisipaliteit werk aan ʼn aantal moontlike oplossings, insluitend die aankoop van versterkerpompe om die waterdruk te verbeter. “Die groot probleem is ʼn gebrek aan geld om instandhouding te doen. Munisipaliteite reg oor die land sukkel daarmee. Ons het darem nou ʼn bykomende subsidie van die departement van water en sanitasie gekry om die probleem van watervoorsiening te takel,” het hy gesê.

ANC hoop vir nog ʼn oorwinning 

Molaole is nie blind vir sy munisipaliteit se foute nie, maar is oortuig dat die ANC wéér vanjaar tydens die nasionale verkiesing sal seëvier.

Engelbrecht wil liewer nie ʼn raaiskoot waag nie. “Die mense hier sê hulle is moeg vir die ANC, en dat hulle vanjaar vir ʼn ander party gaan stem. Dan kom die ANC weer gratis T-hemde en kos uitdeel en dan stem almal maar weer vir dieselfde party.”

Fransonet Swanepoel, eienaar van die De Herberg-gastehuis in De Aar, is beslis nie een van dié kiesers nie. Sy en haar man sien wel uit om hul kruisies op 29 Mei te gaan trek, om verandering aan hul dorp en die land te bring.

Só moedeloos was sy oor die kragprobleem die afgelope week, dat sy sommer self die premier, wat op die dorp tuisgegaan het, Maandag om hulp genader het. “Die burgemeester het my toe vol beloftes gebel, maar daar het niks van gekom nie.”

Die munisipale swembad in De Aar is vervalle. (Foto: Verskaf)

Sy sê dienslewering in die dorp laat veel te wense oor.

“Vullisverwydering vind nie meer plaas nie en mense stort hulle rommel sommer so tussen die huise. Ons sportterrein is ook al so vervalle dat daar nie meer openbare geleenthede gehou kan word nie. Die water is ook ʼn groot probleem. Sommige woonbuurte het vir weke aaneen nie water nie.”

Inwoners kon die afgelope twee maande ook nie hul munisipale rekeninge betaal nie, weens ʼn fout met die finansiële aanlyn stelsel.

Molaole het aan Maroela Media erken dit is omdat die munisipaliteit die diensverskaffer geld skuld. Dié se kontrak het intussen tot ʼn einde gekom. “Ons werk hard om ons skuld af te betaal en is besig om ʼn tender uit te reik om ʼn nuwe verskaffer aan te stel.”

Engelbrecht sê dít is ʼn enorme probleem, aangesien die munisipaliteit nou dié broodnodige inkomste verloor. Molaole is egter vol vertroue dat die munisipaliteit dié skuld sal kan verhaal sodra die stelsel weer funksioneel is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Jannie ·

Hierdie sooispit was seker die meeste werk wat anc gedoen het afgelope 4 jaar daar

Mariana ·

Hoekom soek hulle altyd verskoning vir als. Hoekom stem die inwoners dan nog vir die ANC as daar soveel probleme is. Mense moet hul oë en ore oopmaak en dan reg stem. Die ANC kom nooit hul verkiesingsbeloftes na nie, nie in 30jr het hulle mense se lewens verbeter nie. Daarom moet die kiesers hulle nie laat omkoop deur hempies en kospakkies en fietse nie, selfs nie deur kastige nuwe skool nie…….maar hulle doen dit maar net weer…..nie baie slim nie…..

Cassie Carstens ·

Jammer, maar ek wil eers sien wanneer die nuwe skool gebou gaan word.

Piet parys ·

Politieke taktiek en die dommes sonder skole glo hulle…….

Martie ·

Jammer om te se maar dis maar die tropbenadering, ons volg die leier al gaan hy ook waar. Het vir jare in Ooskaap en Natal gewoon. Die hoofman kan maak net wat hy wil, hy bly hoofman oor honderd. Tradisie. jy gaan dit nooit uit hulle kry.

Papsak ·

O verseker hulle probeer hard stemme werf hier nie water nie maar hulle wil skole bou net om weer af te brand hoekom kyk hulle nie liewers laat die water reg kom nie tyd hier hulle moet waai hulle mors ons geld en tyd ???????

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.