#Dorplitiek: Midvaal faal inwoners selde

Peter Teixeira, DA-burgemeester van Midvaal. (Foto: Midvaal.gov.za)

In die Midvaal-munisipaliteit in Gauteng het inwoners skynbaar min rede om te kla. Tog erken die burgemeester niemand is perfek nie.

Dié munisipaliteit is een van die weiniges buite die Wes-Kaap wat ten volle deur die DA beheer word, sedert dié party die munisipaliteit in 2011 by die ANC afgerokkel het.

Midvaal ontvang vir die afgelope tien jaar skoon ouditverslae en is verlede jaar deur die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Plaaslike Regerings (Salga) aangewys as die munisipaliteit wat die grootste verbetering getoon het met betrekking tor die invordering van inkomste en skuldbestuur.

Burgemeester Peter Teixeira skryf dit toe aan streng gehaltebeheer en verantwoordbaarheid. “Ons skuldinvorderingskoers is veral puik, met tussen 90% en 95% van skuld wat ingevorder word.”

Hy meen inwoners betaal makliker wanneer hulle sien ʼn diens word gelewer. “Inwoners vertrou ons met hul geld, want ons kan rekenskap van elke sent gee.”

ʼn Plaaslike sakekamer is in 2022 weer hier op die been gebring en Teixeira sê hulle fokus daarop om die plaaslike ekonomie te laat groei, ten einde werkloosheid aan te pak. “Ons lok ál meer beleggers en ons sien dit in ons plaaslike werkloosheidskoers (17,6%) wat van die laagste in die land is.”

Geld moet egter steeds fyn bestuur word om seker te maak alles word gedoen. “Ons padnetwerk is verouderd en ʼn onlangse oudit het gewys dit sal ongeveer R800 miljoen kos om dit heeltemal oor te laat doen. Ons sal dit beslis nie alles op een slag kan doen nie, maar ons kan begin met die dringendste werk, sodat dié wat ná ons aan bewind kom, die werk kan voortsit. Ons moet gedurig proaktief wees en beplan.”

Teixeira erken egter die Midvaal is, nes enige ander munisipaliteit, nie immuun teen uitdagings nie. “Ons is steeds deel van Gauteng [wat deur die ANC regeer word] en swak dienslewering op provinsiale vlak laat dit dikwels lyk of ons nie ons werk doen nie.” Hy verwys veral na provinsiale paaie binne die munisipaliteit wat nie opgeknap word nie, of skole wat oorvol is.

Bekwame munisipale beamptes is vir Teixeira en sy span belangrik.

“Toe die DA destyds beheer van die munisipaliteit oorgeneem het, het ons onmiddellik ʼn oudit van munisipale werkers se vaardighede gedoen en seker gemaak die mense wat ons in diens neem, is gekwalifiseerd om die werk te doen. Ons stel net bevoegde en gekwalifiseerde mense aan, maak nie saak watter kleur hul vel is nie.”

Selfs lede van opposisiepartye in die munisipaliteit kan nie veel kry om mee fout te vind nie. Ockert Brits is ʼn wyksraadslid in Midvaal en lid van die VF Plus. Hy sê die munisipaliteit is vinnig om te reageer op klagtes en die werk word gedoen. “Ek dink inwoners kan redelik tevrede wees met die manier waarop die munisipaliteit bestuur word.”

Nie alle inwoners is egter ewe tevrede met die gehalte van dienslewering in die Midvaal nie.

Inwoners van Savanna City stort glo hul vullis in die veld. (Foto: Louis Klopfer)

Louis Klopfer is ʼn melkboer in die omgewing van Apple Orchards. Sy grond is reg langs ʼn reusebehuisingsprojek, Savanna City, waar ʼn vullishouer aangebring is om inwoners se tuinvullis te stort. Talle inwoners gebruik dit egter om van ander vullis, waaronder plastiek, ontslae te raak en stort ook nie altyd die vullis in die houer nie.

“Die plastiek waai oor na my grond en beeste onderskei nie tussen gras en plastiek nie. Verskeie van my beeste het al gevrek nadat hulle plastiek ingekry het en ander moes ten duurste geopereer word.” Dít, sê hy, het tot verliese van om en by R200 000 gelei.

Hy sê die munisipaliteit maak nie gereeld die vullishouer leeg nie. Hy meen ook dienste wat in die landelike gebied van die munisipaliteit gelewer word, is nie van dieselfde gehalte as dié in meer gegoede gebiede soos Meyerton nie. “Die DA gaan beslis nie mý stem in die komende verkiesing kry nie.”

Teixeira sê hy is bewus van hierdie spesifieke voorval en dat die munisipaliteit gereeld hier probeer skoonmaak. Hy erken wel dit is soms moeiliker om dienste in landelike gebiede te lewer, as in gebiede wat ten volle ontwikkel is, met behoorlike infrastruktuur.

“Dit is wel die munisipaliteit se plan om ook die landelike gebiede se infrastruktuur ten volle te ontwikkel, soos om grondpaaie te teer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.