Down-sindroom-tennisster ryg goud vir SA in

Clari Lehmkuhl (33) het drie goue medaljes by die Trisome Games wêreldtenniskampioenskap verower. (Foto: Verskaf)

Clari Lehmkuhl (33), ʼn tennisspeler met Down se sindroom wat Suid-Afrika by die Trisome Games wêreldtenniskampioenskap in die Turkse stad Antalya verteenwoordig het, spog met drie goue medaljes.

Lehmkuhl het goud in die enkel- en dubbelspel saam met Rusland verower en ʼn verdere eerste plek in die gemengde dubbelspel saam met Argentinië.

Clari se ma, Lizette, het haar na die kampioenskap vergesel en was langs die baan om dié spesiale oomblik te deel.

“Ons is geweldig trots op ons dogter. Dit gebeur nie elke dag dat ʼn ouer oor so ʼn prestasie kan spog nie.  Die wete dat ek saam met haar daar was om dit te vier, maak dit net soveel meer spesiaal.”

Lehmkuhl is in Alberton gebore, maar die gesin woon al die afgelope 17 jaar in die Verenigde Arabiese Emirate (VAE).

Sy het haar liefde vir die sport by haar wyle oupa Basie Pretorius geërf en was as sesjarige reeds met die raket in die hand doenig.  ʼn Foto van haar oupa pryk ook steeds op Lehmkuhl se bedkassie.

Sy is ook die land se eerste gesertifiseerde Zumba-instrukteur met Down se sindroom en het in 2019 haar vyfde stel kwalifikasies by ʼn konvensie van 7 500 ander onderwysers in die VSA verwerf.

Lehmkuhl het oor die 27 000 volgelinge op sosiale media waar sy nie skroom om haar danspassies met die wêreld te deel nie.

En die woorde “jy kan nie” bestaan nie in hierdie jong vrou se woordeskat nie.

Clari Lehmkuhl (33). (Foto: Instagram)

“Ek hou daarvan om mense verkeerd te bewys; ek sien dit as ʼn uitdaging. Ek oefen elke dag harder – om nie net ander nie – maar ook myself, verkeerd te bewys. Ek sien myself nie as ʼn sportvrou met ʼn gestremdheid nie – ek weet ek is net so goed soos die atleet langs my.”

Hoewel sy nog wik en weeg oor wat haar toekoms inhou, beoog Lehmkuhl om Suid-Afrika in die nabye toekoms by ʼn Olimpiese Spele te verteenwoordig.

“Ons as gesin sal altyd ʼn spesiale plek vir ons geboorteland hê.  Veral Clari – sy is ʼn Suid-Afrikaner in murg en been,” sê Lizette.

As daar rugby op die kassie is, dra sy haar Springboktrui.

Lehmkuhl is ʼn heeltydse kantoorassistent by Corporate Sports Marketing in die VAE.

Sy het in 2019 haar buiging tydens die Spesiale Olimpiese Spele gemaak waar sy die enigste tennisspeler van die VAE-span was.  Vier jaar later was sy weer in aksie en het sy met silwer en brons medaljes gespog.

Sy is boonop vasberade om atlete met haar prestasies te motiveer.

“Glo in jouself!  Moet nooit moed opgee nie,” is haar raad.

Lizette sê die dokters het twee dae ná haar dogter se geboorte vermoed dat sy Down-sindroom het. “Ons moes ses weke vir die finale uitslag wag – dit was die langste ses weke van my lewe.

“Ek het Clari geleer lees en skryf en ons groot doel was om haar in ʼn hoofstroomskool te plaas. Sy is ʼn gelukkige kind wat haar liefde vir sport en dans ten volle kan uitleef.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Leeubekkie ·

‘n Dogter waarop enige ouers trots kan wees. Baie geluk!!

Kobus ·

Baie mooi en geluk maar dit is vir jou en jou familie nie die komin land nie

melaney ·

This gorgeous young lady has what it takes. And she wants to share her expertise! Thats love!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.