Dr. Nandi se appèlaansoek verwerp

Dr. Nandipha Magudumana (Foto: Facebook)

Deur Daniel Steyn, GroundUp

Dr. Nandipha Magudumana se aansoek om verlof tot appèl teen die Vrystaatse hooggeregshof se beslissing dat sy ingestem het om na Suid-Afrika terug te keer, is met koste van die hand gewys.

Regter Philip Loubser het Dinsdag Magudumana se aansoek verwerp en bevind dat dit geen redelike vooruitsig op sukses het nie.

“Daar is namens Magudumana aangevoer dat daar nie toestemming tot ongrondwetlike optrede gegee mag word nie omdat dit die doktrine van objektiewe grondwetlike ongeldigheid sal ondermyn,” het Loubser gesê.

Die jongste aansoek spruit uit ʼn aansoek wat Magudumana in Mei ingedien het waarin sy die hof versoek het om haar inhegtenisneming in Tanzanië en uitlewering aan Suid-Afrika onregmatig en ongrondwetlik te verklaar.

Sy is vroeër vanjaar saam met die veroordeelde moordenaar Thabo Bester in hegtenis geneem en staan ​​tans tereg op verskeie aanklagte wat met sy ontsnapping verband hou. Dit sluit in bedrog en lykskending.

Magudumana het ook gevra dat sy uit aanhouding vrygelaat word en het aangevoer dat die Bloemfonteinse landdroshof haar nie op aanklagte waarop sy teregstaan, kan verhoor nie.

Loubser het in Junie die aansoek met koste van die hand gewys, maar gesê hy gee Magudumana gelyk dat haar uitsetting uit Tanzanië moontlik as ʼn uitlewering verbloem is. Sy het haar egter in geen stadium teëgesit toe sy na Suid-Afrika teruggebring is nie, het die regter bevind.

Magudumana het haar daarna na die appèlhof gewend waar sy gevra het dat haar “onregmatige uitlewering” getoets word.

Sy het in haar jongste aansoek aangevoer dat Loubser versuim het om die optrede van die Suid-Afrikaanse amptenare in Tanzanië ongrondwetlik te verklaar.

Loubser het in reaksie hierop gesê daar was geen melding van ʼn grondwetlike uitdaging in die oorspronklike kennisgewing van die mosie nie. Magudumana het bloot gesê sy wil hê die hof moet haar terugkeer na Suid-Afrika as onregmatig en onwettig verklaar.

Hy het gesê dat Magudumana slegs grondwetlikheid in haar beëdigde verklaring genoem het.

“Ten spyte hiervan is die kennisgewing van die mosie nooit gewysig nie,” het hy gesê.

Loubser het gesê hy kan nie Magudumana verligting gee waarvoor sy nie gevra het nie.

Magudumana het in haar aansoek om verlof tot appèl aangevoer dat haar toestemming nie behoorlike toestemming was nie; dit was nie skriftelik of onomwonde gestel nie, en dit kon nie ʼn onwettige handeling omverwerp nie.

Loubser het nie saamgestem nie en het bevind dat Magudumana vrywillig na Suid-Afrika teruggekeer het deur te sê dat sy huis toe wil kom om haar kinders te sien.

“Ek is nie oortuig dat ʼn ander hof tot ʼn ander gevolgtrekking sou kom nie,” het hy gesê.

Magudumana sal na verwagting op 8 Augustus weer in die Bloemfonteinse landdroshof verskyn.

  • Hierdie berig is oorspronklik op GroundUp gepubliseer en word met vergunning hier gebruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Lillian ·

Miskien moet julle ophou om na haar te verwys as Dr. Syt daai voorreg verbeur toe sy met kriminele geheul het.

SjN ·

Sy doen die titel oneer aan Lilian, hoop sy word geskrap van die rol.

Di ·

Verbasend HOE arrogant hierdie kriminele kan raak!! Sy hoort agter tralies, lewenslank

Johann ·

Vermetelde arrogansie. Sit huis op met ‘n moordenaar en verkragter, en nou wil sy losgelaat word?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.