Dr. Nandi vertel in trane hoe sy deur Bester ‘ontvoer is’

Dr. Nandipha Magudumana (Foto: Becker Semela/GroundUp)

Deur Daniel Steyn en Becker Semela, GroundUp

Die veroordeelde moordenaar, Thabo Bester, se vriendin, dr. Nandipha Magudumana, het Dinsdag tydens haar borgtogaansoek in die landdroshof in Bloemfontein in trane gesê Bester het haar ontvoer en teen haar wil na Tanzanië geneem.

Die staat het haar stelling egter betwis en voer aan Magudumana het aktief aan Bester se ontsnapping deelgeneem. Die staat het aangedui dat hulle haar borgtog teenstaan.

Magudumana, wat teregstaan op aanklagte wat verband hou met Bester se ontsnapping uit die tronk in Mei 2022, doen tans aansoek om borgtog. Sy is op 7 April vanjaar in Tanzanië saam met Bester in hegtenis geneem en is sedert 13 April in aanhouding by die Bizzah Makhate-gevangenis in Kroonstad in die Vrystaat.

In ’n beëdigde verklaring, voorgelees deur haar regsverteenwoordiger, adv. Frans Dlamini, het Magudumana gesê dat sy op 17 Maart vanjaar deur Bester “opdrag gegee en beveel is” om in ’n voertuig te klim en na ’n onbekende plek te ry.

“Ek het geweier, maar hy het my in die voertuig ingedwing. Ek het onder die druk geswig weens die dreigemente wat hy aan my gerig het,” het Magudumana in haar beëdigde verklaring gesê.

Sy het aan die hof gesê dat sy ten tyde van haar inhegtenisneming R50 000 per maand verdien het en dat sy bates ter waarde van R1 miljoen het. Sy het aangedui dat sy borgtog van R10 000 sal kan bekostig.

Die ondersoekbeampte in die saak, lt.kol. Tieho Flyman, het egter gesê hy betwis die bewering dat sy deur Bester ontvoer is.

Volgens Flyman het Magudumana self gery om Bester ná sy ontsnapping in KwaZulu-Natal te gaan haal, dat hulle saam in ’n huurhuis gebly het, dat Magudumana sowel as Bester die huurooreenkoms vir daardie huis onderteken het en dat die egpaar saam gereis en gebly het in die maande ná die ontsnapping.

Flyman het gevra waarom Magudumana nie ’n ontvoeringsaak teen Bester geopen het terwyl hy in die tronk was nie. Hy het ook melding gemaak van Magudumana se gedrag tydens haar vorige hofverskyning (op 8 Augustus) met Bester, waartydens die twee heel danig met mekaar was.

“As daar gekyk word na hoe die applikant betrokke is, en die rol wat in die ontsnapping gespeel is, is daar geen bewys dat sy in enige stadium gedwing of op enige manier gedreig is nie,” het Flyman aangevoer.

Flyman het aan die hof gesê dat Magudumana volgens polisie-ondersoeke in die dae voor die ontsnapping in Bloemfontein gebly het en twee liggame op bedrieglike wyse van staatslykhuise geëis het. Een van die liggame is in Bester se tronksel aan die brand gesteek terwyl die ander in ’n rivier in Bloemfontein gestort is.

Terwyl die staatsaanklaer, Sello Matlhoko, Flyman se beëdigde verklaring voorgelees het, het Magudumana, wat in die beskuldigdebank gesit het, haar kop geskud.

‘’n Poging om verhoor te ontduik’

Thabo Bester en sy vriendin, dr. Nandipha Magudumana vir die eerste keer saam in die hof. (Foto: Skermgreep)

Magudumana het aan die hof gesê dat sy borgtog moet kry. Sy het gesê dat sy van plan is om onskuldig te pleit op die aanklagte teen haar wat insluit hulpverlening tydens ’n ontsnapping uit aanhouding, die skending van liggame en bedrog.

Sy het gesê sy stel nie belang daarin om die land te verlaat nie en dat sy geen reisdokumente het nie aangesien haar paspoort steeds in die polisie se besit is.

Sy het gesê as sy op borgtog vrygelaat word, sal sy by ’n vriend in Sandton bly. Sy het aangevoer dat sy die ouer van twee minderjarige kinders is en vir hulle sorg. Sy het gesê sy sal nie probeer om haar verhoor te ontduik of met staatsgetuies in te meng nie.

Maar Flyman het in sy beëdigde verklaring gesê Magudumana het “aansienlike aansporing om haar verhoor te ontduik”. Hy het gesê benewens die langtermyn-gevangenisstraf wat haar in die gesig staar as gevolg van die ontsnappingsaanklagte, minstens ses kriminele sake wat deur lede van die publiek teen haar aanhangig gemaak is, haar ook in die gesig staar. Hierdie sake hou verband met bedrog van tussen R150 000 en R15 miljoen.

Flyman het gesê Magudumana het in Maart saam met Bester landuit gevlug, wat daarop dui dat sy ’n vlugrisiko is.

Sy het die polisie “doelbewus ontduik” toe sy in Mei 2022 ’n bevel van die Pretoriase hooggeregshof aangevra het dat die liggaam wat in Bester se sel gevind is aan haar terugbesorg moet word en dat die polisie verbied word om haar te teister, het hy gesê.

Flyman het gesê dat Magudumana in daardie hofstukke gelieg het en dat haar prokureur ’n valse prima facie-hofbevel geskep het dat die liggaam wat in Bester se sel gevind is, aan Magudumana vrygestel word.

Flyman het gesê haar kinders word deur Magudumana se man versorg en hulle het haar sedert sy in gevangenis is, nog glad nie besoek nie. Hy het gesê telefoonrekords van die tronk toon dat sy haar man nog net een keer gebel het.

Die borgtogaansoek sal op Woensdag voortgesit word.

  • Hierdie berig is oorspronklik op GroundUp gepubliseer en word met vergunning op Maroela Media gebruik.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

50 Kommentare

Karoo ·

Wat ‘n klomp snert, net 2 weeke terug het die twee hande vas gehou en tot die ewigheid in mekaar se oe gestaar. Wat gaan met haar verdedigings span aan?

Anne-Marie ·

Ek stem…. sy’s besig met ʼn evil strategie (wat sy en Bester saam beplan). Hoop nie die regter val vir haar storie nie.

Danie ·

As dit nie die rassekaart is nie dan is dit slagofferskap. Dan kry sommige ‘n Oscar vir martelaar speel.

miche ·

Hoop nie hul val vir haar krokkediltrane nie. As ek teen my wil “ontvoer” was, sal ek nie so diep in my ontvoerder se oë kyk nie en ook nie so knus teen hom sit nie… ( foto verwys).

tweeling ·

Toe hulle gevang is was daar verskeie paspoorte gewees, wat keer haar om nog een te laat maak, geld is nie ‘n probeem om amptenare om te koop nie

MJLS ·

Na my opinie is sy net so skuldig soos Bester en moet sy nie eens oorweeg word vir borgtog of parool nie. As sy nie eens respek het vir ‘n lyk nie …. wat nog van ‘n lewende persoon.

Wondermaarnet ·

Sy is vol smiles saam met bester vir iemand wat ontvoer was teen haar sin.

Sêmanet ·

Kan iemand asb. tog net die Dr. vóór haar naam verwyder? Sy is mos nie meer ‘n Dr. nie?????

Juanita ·

Nee, haar Titel kan nie van haar af weg gevat word nie, sy het die graad behaal en sy bly dus Dokter al mag sy nie as ‘n Dokter werk nie. Dit is net ‘n titel.

Bolandse Nooi ·

Sy bly ‘n dokter, omdat sy die BSc.-graad gedoen en geslaag het (hoop ek!). Al wanneer sy nie meer “dr” is nie, is as sy van die rol geskrap word vir ‘n geldige rede – al het sy nou ‘n kriminele rekord, bly sy steeds “dr”.

Kabous ·

Sy moet sit!!! maklik om n paspoort in die hande te kry en sy het geld, so beweer sy. Sy gaan verdwyn en dit gaan die staat of vir ons weer geld kos om haar te gaan haal en weer trane stort vie bejamering, lekker sit SANNIE!!

JohanR ·

My gooiste man gaan net tronk toe, moenie verby GO gaan nie en moenie $100 op tel nie.

Daizee ·

Pops, jy sit dan en ogies maak vir dié perd innie hof?! Ontvoer?!….ja, én my Ouma was een van die Ninja Turtles!!!

Marie ·

Wel as ek na haar naels gisteraand op die nuus kyk, word sy lekker gepamperlang in die tronk.

Niklaas ·

Tronke in SA is heerlike ontspanningsplekke , veral as jy heelwat geld het. Jy kan feitlik alles koop vanuit jou sel.

Kobus ·

Ek bly verbaas as ek na die dame se kleredrag kyk. Sy is reg vir enige voorblad met al die grimering en daai naels, daai naels kom nie goedkoop nie. Het sy ander voorregte wat die gewone gevangenes nie het nie?

Riana ·

Daai trane is omdat sy uitgevang was, stem ook saam, handjies vas hou en kyk so graag diep in jou oe, se heeltemal die teenoorgestelde as wat sy beweer.

domheks ·

Die bedorwe brokkie speel die hof. Sy lieg soos ‘n tandetrekker. En die howe in SA sal haar glo!
Ontvoer met byvoordele??? mmmm?

S ·

daar was so paar weke of so terug ‘n berig oor hoe hulle vir mekaar glimlag en ogies maak in die hof nou wil sy kom sê hy het haar ontvoer en in die motor gedwing. *Eye roll *Face palm

Amelia ·

en waar kry s y die miljoen trane help nie altyd nie kom ons hoop maar in haar geval ook seker trane omdat sy gevang is is baie vroue se wapen die tranedal hoop jy sit baieee lank

Etienne ·

Hiedie sogenaamde dokter is nou nie net ‘n krimineel nie maar ook ‘n akteur

Niklaas ·

Ja Nandi, ons glo jou en ons wag ook op Kersvader se aankoms hier teen 25 Desember , soos hy gewoonlik doen.

TO ·

Wat n grap, onlangs het sy smoorverlief na hom gestaar, handjies vasgehou

Patch ·

Eers huil sy die SA amptenare het haar teen haar wil uit Tanzanië terug SA toe geneem en nou huil sy Bester het haar teen haar wil Tanzanië toe gevat.
Wonder wat sy nog skantig “teen haar wil” gedoen het. Sy gaan nou seker sê die lyke wat sy bekom het, het sy ook teen haar wil gedoen. Het nêrens gelees dat iemand ‘n geweer teen haar kop gehou het om al die misdade te pleeg nie.
Vir ‘n “dokter” is sy maar onnosel. Sy het elke keer ‘n ander storie te vertel. Sy hoort vir die res van haar lewe agter tralies.

Marius ·

Eers sê sy die arrestasie was ‘n ontvoering, nou sê sy haar kêrel het haar ontvoer. Shame, die vrou het ‘n tawwe lewe

Di ·

Om ‘n traan te pik gaan haar nie help nie. Dis ‘n infame leuen, sy soek nou enige verskoning om uit die tronk te kom. Sy hoort in die tronk, PUNT

AH ·

Ek wonder hoekom party mense die deursnee Suid-Afrikaners se intelligensie so onderskat? Is daar werklik iemand wat hierdie bogstorie gaan glo?

Helena ·

Ertjie size IK. Jy’t nie oor jou 2 kiddies geworry nie…. Net so gelos! Kry vir jou nog ñ paspoortjie of 2…R15 miljoen bedrog… Sekerlik kan jy Paar bekostig! Soos Miche sé…. Baie diep in sy oë gestaar! Sirkus!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.