Dricus praat Afrikaans ná UFC-triomf

Dricus du Plessis op die voorvoet teen Darren Till. Foto: Sean M. Haffey/Getty Images/AFP.

“Dankie almal by die huis!” het Dricus “Stillknocks” du Plessis trots in Afrikaans gesê kort nadat hy vir Darren Till in die UFC-hok ore aangesit het.

Die 28-jarige Suid-Afrikaner het in die derde ronde van hul geveg die Engelsman grond toe gebring en met sy geoefende Rear Naked Choke-beweging die tweestryd tot ʼn skielike einde gebring.

Baie van Du Plessis se ondersteuners meen egter dat die geveg reeds in die eerste ronde stopgesit moes word nadat hy ongetwyfeld die oorhand gehad het. Hy het die stomme Till teen die draadwerk vasgedruk en omtrent met sy vuiste losgetrek.

Die Liverpool-vegter het egter gereeld die boodskap aan die gevegsbeampte probeer oordra dat hy nog oukei is en hy het later goed in die ronde teruggeveg.

Dit het in die daaropvolgende ronde gelyk of Du Plessis se tenk effens leeggeloop het, maar hy is ʼn Suid-Afrikaner: Daar is altyd ʼn bietjie petrol in die tenk oor omdat ʼn mens nooit weet wanneer die brandstofprys weer sal styg nie.

Net vóór die aanvang van die derde ronde het die plaaslike gemengdegevegskuns-ster – wat in die vorige ronde maar taamlik moeg gelyk het – ʼn baie selfversekerde glimlag gegee.

Ja-nee, Till het toe nie ʼn kat se kans gestaan nie.

“Ek het inderdaad gedink dat die geveg al in die eerste ronde stopgesit sou word en ek het daarna daarop gefokus om nie te veel punte af te staan nie,” het Du Plessis ná afloop van die hoksessie vir Joe Rogan gesê.

“Maar dit is Suid-Afrikaners vir jou – ons sal altyd die laaste ronde wen!”

Hy is nou een van die topsterre in sy gewigsafdeling en hy het terstond weer vir die Amerikaners ʼn les gegee om sy naam en van korrek uit te spreek – die laaste “s” in Du Plessis word immers nie uitgespreek nie.

“Ek het al ná my tweede geveg vir julle gesê om my naam te onthou en dat ek binnekort onder die toptien-vegters sal tel.”

Dit is nou skaars ʼn paar maande later en Du Plessis het ongetwyfeld die daad by die woord gevoeg.

Saaiman té sterk vir Kozlow

Cameron Saaiman staan vir niemand terug nie. Foto: Sean M. Haffey/Getty Images/AFP.

Vroeër het Cameron Saaiman sy UFC-buiging met ʼn uitstekende oorwinning teen Steven Kozlow gevier.

Die oudleerder van Hoërskool Garsfontein was aanvanklik in die sop omdat hy die Amerikaner op ʼn ietwat onwettige wyse met sy knie bygedam het, maar hy het later net hopeloos te veel skietgoed gehad.

Sy vuiste het die praatwerk gedoen en die geveg is in die derde ronde beëindig.

“Dit is ʼn ongelooflike ervaring – aan God al die eer,” het Saaiman vir Rogan gesê terwyl hy ook sy afrigters en spanmaats by die CIT Performance Institute bedank het.

Die 21-jarige ster oefen saam met Du Plessis in Pretoria en sy drome is beslis besig om waar te word.

“Ek droom daarvan om een van die beste vegters, of dalk selfs dié beste vegter, in my gewigsklas te wees,” het hy in ʼn vorige onderhoud met Maroela Media gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Johan ·

Jy bedoel “slaan ander mense vir geld en aansien” voort?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.