Drie tieners in die see vermis

Monwabisi-strand. (Foto: Dmitri Marine/Facebook)

Drie tieners het die afgelope naweek aan die Wes- en Suidkus vermis geraak nadat hulle in die see gaan swem het.

Reddingspanne is steeds op soek na die tieners, maar die vermoede bestaan dat hulle reeds verdrink het.

Craig Lambinon, woordvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), sê die soektog na ʼn 17-jarige is Sondag naby Monwabisi voortgesit.

Die NSRI en die Kaapse metro se reddingsnetwerk is Saterdag kort voor 18:00 na die gebied ontbied ná berigte van ʼn verdrinking.

“Die familie van die tiener, wat oorspronklik van Nyanga is, het aan reddingspersoneel vertel dat hy by die Wolfgat-natuurreservaat gaan swem het, maar nooit teruggekeer het nie,” sê Lambinon.

“Die tiener is die laaste keer gewaar toe hy onder die water weggeraak het.”

Die Stad Kaapstad se marine-eenheid, tesame met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en lede van NSRI Stranfontein het ʼn uitgebreide soektog na die tiener van stapel gestuur. Ten spyte van die soektog is daar nog geen teken van die tiener nie.

Volgens Lambinon sit polisieduikers Maandag die soektog na die tiener voort. Jetski’s en die NSRI se reddingsvaartuig is ook op die toneel om die polisieduikers in hul soektog by te staan.

(Foto: Mi7/Facebook)

Nog twee tieners het Vrydag in ʼn afsonderlike voorval aan die Suidkus van KwaZulu-Natal verdrink.

Die nooddiensoperateur Mi7 National Group is Vrydag kort ná 13:00 na Park Rynie ontbied om die polisie se soek-en-reddingspanne te help soek na twee tienermeisies wat deur sterk strome in die see meegesleur is.

Die tieners, onderskeidelik 12 en 15 jaar oud, se families het in die omgewing vakansie gehou toe hulle in die branders gespeel het en die stroom hulle dieper in die see getrek het.

Omstanders het daarin geslaag om die liggaam van die 15-jarige meisie uit die see te haal, en ʼn soektog na die jonger meisie is van stapel gestuur.

Die soektog is die naweek afgelas weens die weerstoestande, maar die hoop is om die soektog na die meisie Maandag voort te sit.

Die NSRI het intussen ʼn beroep op alle vakansiegangers gedoen om in gebiede te swem waar lewensredders teenwoordig is en ten alle tye waterveiligheid toe te pas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

SwartBees ·

Is ek paranoid om nie my kids vir een oomblik onder my oe uit te laat by die see?

Jaco ·

Glad nie. Probleem is mense ken nie die see en hoe strome werk nie, en al ken jy dit moet jy nog steeds n redelikke swemmer wees. Enige iets kan enige tyd gebeur. Dit is hoekom jy tussen die vlae moet swem. Nie dat niks kan gebeur nie maar dat jy n beter kans het om gered te word. Maar soos genoem jy moet nog steeds sterk genoeg wees om jouself no die water te hou tot hulp opdaag. Ek het al mense gesien knie diep in die water wat ingetrek word.

George ·

en n groot probleem is, mense gaan om red, ongelukkig is dit net so gevaarlik as jy nie opgelei is nie, n verdrinkende persoon se reaksie is om op te kom en te bly, druk dikwels die redder so onder water, en so word dit baie 2 wat verdrink.

Johan ·

Selfs volwassenes het geen verweer teen die see nie, so ek verstaan.

George ·

nope, glad nie – as meer mense dit gedoen het. Ons het onder toesig geswem tot laat tiener jare.

bfree ·

Bring soveel herinneringe terug… 22 Desember , 3 jaar terug het my niggie-sus verdrink by jeffreysbaai… as ek sien hoe ons familie steeds sukkel… ai ek voel vir die ouers en families!

Lillian ·

wanneer gaan mense leer dat die see is nie jou maat nie? Dis die mooiste plek op aarde, maar baie gevaarlik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.