Drie vas ná 21 jonges in taverne sterf

Altesaam 21 tieners is onlangs by die Enyobeni-taverne dood. (Foto: AFP)

Die eienaar van die Enyobeni-taverne in die Oos-Kaap en twee van sy werknemers is oor die afgelope paar dae in hegtenis geneem ná die raaiselagtige dood van 21 tieners in dié taverne verlede maand.

Die inhegtenisnemings van die 52-jarige eienaar en sy werknemers, onderskeidelik 33 en 34, volg nadat die Oos-Kaapse Drankraad klagtes vir die oortreding van die Drankwet by die Scenery Park-polisiestasie ingedien het.

ʼn Ondersoek is van stapel gestuur waarna twee boetes van R2 000 elk aan twee werknemers uitgereik is. ʼn Lasbrief is vir die eienaar se onmiddellike inhegtenisneming en hofverskyning uitgereik.

Brig. Tembinkosi Kinana, polisiewoordvoerder, sê die ondersoek het ook op die beweerde oortreding van die provinsiale drankwet gefokus, wat die verkoop en voorsiening van drank aan kinders onder die ouderdom van 18 jaar oud behels.

Die eienaar sal na verwagting op 19 Augustus in die Oos-Londense landdroshof verskyn.

Die werknemers is die opsie gegun om die boetes van R2 000 elk te betaal. Indien hulle versuim om dit te betaal, sal hulle ook op 19 Augustus in dieselfde hof moet verskyn.

Die polisie het hul toewyding benadruk om te verseker dat alle ondersoeke na die tragiese voorval op ʼn professionele en goed georganiseerde wyse geskied om suksesvolle vervolging en skuldigbevinding in die hof moontlik te maak.

Lt.genl. Nomthetheleli Mene, provinsiale polisiekommissaris, het die ondersoekwerk wat tot dusver gedoen is, geloof en die polisie se waardering uitgespreek vir die naasbestaandes en gemeenskap se geduld in dié verband.

“Soos ons aan die begin gesê het, is die ondersoek ʼn proses wat met uiterse sorg en wysheid hanteer moet word sodat ons die gewenste uitkomste kan bereik waarop almal trots sal wees. Hierdie is die eerste aanduidings van die goeie werk wat agter die skerms gedoen word,” het Mene gesê.

Maroela Media het vroeër berig dat die jong mense, tussen die ouderdomme van 14 en 17, by die Enyobeni‑taverne gekuier het toe hulle onder omstandighede dood is wat steeds nie heeltemal duidelik is nie. Luidens sommige berigte is die tieners moontlik vergiftig.

Die forensiese ondersoek na die oorsaak van die tieners se dood duur in dié stadium voort. Die uitslae sal aan die slagoffers se geliefdes bekendgemaak word sodra dié ondersoek afgehandel is.

“Daar is geen nuwe verwikkelinge in dié stadium nie,” het Kinana gesê.

Pres. Cyril Ramaphosa het tydens die tieners se gedenkdiens vroeër die maand onderneem om op “gewetenlose” kroegeienaars toe te slaan wat regulasies verontagsaam en winste voor kinders se lewens plaas. Hy het ook voorgestel dat die wettige drinkouderdom in die land van 18 tot 21 verhoog word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

35 Kommentare

Maritza ·

Verhoog die drink ouderdom van 18 tot 21? Wat gaan dit help? Dit was op 18 en nog steeds is 13 – 17 jariges oorlede. Die staat raak al hoe meer verspot

SjN ·

Dit kom by opvoeding, as hul wil drink, dan sal hul plan maak om te drink om gesuip te raak.

Perdeby ·

Wat gaan die verskil maak. Hier is die ouers van hierdie kinders 100% ook skuldig! Het die staat hulle toestemming gegee om te gaan suip in die tavern, 13 jaar oud en lieg vir hulle ouers waar hulle vir die aand gaan wees! Dis reg dat die eienaar en die werkers in hegtenis geneem is, want dit is die tavern se verantwoordelikheid om hulle nie toegelaat het nie.

Wondermaarnet ·

Gaan die ouers van die minderjariges nie vervolg word nie? Dit is nie net die eienaar wat skuldig is omdat hy minderjariges toelaat in sy taverne nie.

Maritza ·

Ek dink hulle het klaar hulle straf gekry waarmee hulle sal moet saam lewe

Jean ·

Nee dit is mos nie reg nie, die wette geld vir almal maak nie saak van jou persoonlike probleme nie.

Chillipit ·

Op grond waarvan moet die ouers vervolg word ? Die sjebeen het die wet oortree. Kinders vandag het geen respek vir reels wat ouers voorlê in elkgeval, nie op n ouderdom as hulle verkeerde vriende het ook nie. Kinders jok maklik vir hul ouers oor waar hulle is, omdat die ouers hulle vertrou, en dan gaan staan en vang hulle dom dinge aan, sonder die ouers se wete. Niemand kan sê die ouers was sleg en het nie omgegee nie. Kinders doen baie “weird”dinge om te probeer deel wees van n groep…

Toy ·

Dit was altyd 21, toe wil die Staat mos he die kinders van vandag moet vinnig grootmense wees en maak dit 18, ‘n Kind van 18 is onverantwoordelik, gaan kyk hoeveel matriek kom iets oor in hul matriekjaar omdat hulle op 18 kan drink en bestuur.

Piet ·

Toy, ek weet nou nie hoe oud jy en die 4 smileys is nie, maar ek kon in 1975 (18) reeds wettig alkohol gebruik.

andre ·

Ek stem saam, 1972, was ek 18, en in die weermag, en kon ons alkohol wettig gebruik

sopbeen ·

en dan wonder hulle hoekom daar so baie tiener swangerskappe is

Hennie ·

R 2 000…belaglik! Sotte in beheer van alle fasette van ons samelewing!

Wiele ·

Die polisie moet nog die GANGSTERS wat die MOORDE gepleeg het uitkrap en aankla van MOORD!

Chillipit ·

Dis teveel moeite ! So hulle begin maar eers by die sjebeen eienaar en werkers, net om te kan sê hulle het wel ietsie gedoen tenminste… so sal die ouers ook seker nooit weet wat hul kinders se dood regtig veroorsaak het nie…

Keelvol ·

Chillipit…. As jy kennis het van ondersoek werk (wat te betwyfel is) sal jy weet dat die eienaar van die sjebeen dalk kan ligwerp oor die dood. Hy het die wet oortreë. Nou is daar gevolge.

Johann ·

So hoe word die “polities korrekte dringendheid” in die agterstand met fosensiese prosesse hanteer? Of is onbesonne onbevoegdheid sprekend van die feit dat daar steeds geen uitslag is oor wat gebeur het nie?

Of “monitor” die polisie die kantore waar die toetse gesien word?

En nou skielik word die eienaar arresteer? Het hy nou eers wette oortree? Hiejim het die “community” nie laaaankal sy onwettige suip plek aangegee nie?

En dan durf ons mos nie die ouers aanspreeklik hou vir hul onverandwoordelikheid om kinders laat nag in sulke suip krippe te laat uithang nie?

Kensy ·

Ek verstaan nie hoe kan mense verwag die ouers moet aangeklae word nie??
Hulle het seker nie tieners nie – anders sou hulle geweet het n tiener sal juis dit doen wat die ouers verbied.
As hulle skelm wil drink sal hulle!!
Hulle gaan nie toestemming vra nie!

Debby ·

Dis waar maniere en respek inkom, as hulle dit geleer is sal kinders gehoorsaam wees

Swerwer ·

Sluit die ouers van daardie afgestorwenes toe want hul is net so skuldig soos die eienaar van die tarverne. Opvoeding en dissipline begin by jou ouer huis. Dit is nie ” gewetenlose” kroegeienaars nie maar gewetlose ouers!

Witwax ·

As die eienaar geweier het om vir hulle van drank te voorsien sou hulle sy plek afgebrand het.

Martin ·

Die R2000 boetes vir die 2 werknemers is darem verskriklik baie, baie meer werd as ‘n kind se lewe…

Elize ·

Daar was voorheen gese die kinders is dood aan koolstofmonoksied inaseming. Daar was sprake van ‘n kragopwekker in die vertrek waar hulle gedans het?? Nou is dit skielik vreeslik sinister??

JohanR ·

Kan iemand vir my se hoe moelik of maklik is dit on ‘n drank liksensie in die land te kry? Sekerlik voordat jy ‘n drank liksensie kry moet iemand jou area en perseel inspekteer. Dink nog as die drink ouderdom opgaan van 18 tot 21 sal dit van hulp wees.

marius ·

Lasbrief vir die onmiddelike inhegtenisname van die eienaar is uitgereik . maar hy verskyn eers 19 Augustus in die hof ? Brul soos ‘n ou sirkus leeu sonder tande . Hoe tiperend …..

Tante Toekie ·

Hoe arresteer jy mense as die forensiese ondersoek nie heeltemal afgehadel is nie? O ja, nou onthou ek. Die polisie het ‘bottomless’ koffers vol geld om te mors op unlawfull arrest…ja MORS. Raak ontslae van die kaders. Hulle leef nie eers op ons planeet nie

Atta ·

Dis vir die verkoop van drank aan minderjariges waarvoor hy nou gearresteer en die 2 werknemers beboet is. Die kinders se dood is ʼn ander saak.

Hans ·

Die taverne/sjebeens is groot probleem in swart woongebiede. Sommige langs skole en kerke.
Die kinders het heel waarskynlik van koolstofmonoksied vergiftiging agv konka vuur en kragopwekker uitlaatgasse in geslote ruimte. Sjebeen eienaars sluit hul gebruikers toe, om risiko van arrestasies vir dronk op straat of verkragtings te verminder. Die provinsiale drankrade gee maklik taverne lisensies as “werkskepping”!

Miskruier ·

Ek woon naby, glo my die harde musiek is hoorbaar oor 2km. Dit stop ook nie maar gaan die hele naweek aan en my werker is op n Maandag poegaai.

Koos 100 ·

CR, kom ek vertel jou wat die probleme is:
1. Na 1994 het jou ANC begin om wette af te water.
2. Wit SAPS lede is die deur gewys omdat regverdige bevorderinge nie meer moontlik was vir hulle nie. Jou bekwame lede is na die privaat sektor of buiteland.
3. Daar is moontlik net 1 drankoffisier per polisiestasie, sommige stasies is daar geen. Die lid moet dan ook vuurwapenlisensies doen, dan sommer ook misdaad voorkoming doen en naweke spesiale operasies doen. Waar dink jy moet die lid tyd kry om sy werk te doen?
4. Dit is ‘n maatskaplike probleem nie ‘n misdaad probleem nie. As die ouers regte het, maar nie die verantwoordelikheid vir die regte kan hanteer nie, is dit gevolge daarvan.
5. Jy en jou “leiers” stel die voorbeeld. As julle nie verantwoordelik gehou kan word nie (en dan op mense skree) hoef niemand mos verantwoordelik te wees nie.
Ek kan aangaan maar besef ek mors my tyd want jy weet al hierdie dinge, maar KIES om niks te doen nie!

Atta ·

Wat vir my vreemd is, hoekom is dit net minderjariges wat dood is terwyl die plek stampvol was. As dit koolstofmonoksied vergiftiging was, hoe het die eienaar, sy werknemers en ander (ouer) klante dit dan oorleef? Klink vir my meer of dit alkoholvergiftiging kan wees.

Erika ·

Almal wat daar werk en besit moet n tronkstraf kry vir moord.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.