Dringende onderwys-ingryping in Noord-Kaap nodig

(Argieffoto: pixabay)

Die Noord-Kaap beklee vanjaar die onbenydenswaardige laaste plek wat betref die slaagsyfer vir die Nasionale Senior Sertifikaat‑eksamen, met 75,8% van leerders in dié provinsie wat geslaag het.

Dit is wel ʼn verbetering van 1,2% van die jaar tevore.

Namakwa is die onderwysdistrik in dié provinsie met die beste prestasie: altesame 81,6% van leerders hier het geslaag.

Dr. Izak Fritz, die DA se premierskandidaat in die provinsie, het die leerders en onderwysers wie se harde werk en toewyding vrugte afgewerp het, met hul prestasies gelukgewens.

Hy het veral die skoolgemeenskap van die Elizabeth Conradie Skool in Kimberley – wat spog met ʼn slaagsyfer van 95,25% – geloof en sê die prestasie is behaal ondanks die talle bykomende uitdagings wat die Covid-19-pandemie vir leerders met spesiale behoeftes geskep het.

“Helaas word voorvalle van individuele uitnemendheid oorskadu deur sistemiese mislukkings en bewyse van ʼn stelsel wat dringend gered moet word.”

Fritz sê onderwys in die provinsie het die spoor byster geraak en die Noord-Kaap bevind hom nou heel onderaan die provinsiale punteleer.

“Indien jy die getal gr. 10-leerders wat in 2021 ingeskryf en die skool verlaat het voor hulle in 2023 die matriekeksamen afgelê het, in ag neem, is die werklike slaagsyfer in die Noord-Kaap maar 42,8%.

“Dit kan geen verrassing wees wanneer 81% van gr. 4-leerders en 56% van gr. 6-leerders nie met begrip kan lees nie.”

Fritz sê dit is nou tyd om terug te keer na die tekenbord. “Ons moet skoolhoofde, adjunkhoofde en vakhoofde toerus met die gespesialiseerde bestuursvaardighede wat nodig is om onderwyssukses te behaal.

“Dit is ook ononderhandelbaar dat alle opvoeders ʼn ware geesdrif vir die beroep het.

“Ons moet skole se infrastruktuur herstel, veilige koshuisruimtes skep en betroubare leerdervervoer verskaf,” sê Fritz.

Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) het ook vroeër gesê dat presterende skole, ook in minder bevoorregte gemeenskappe, bewys dat goeie bestuur, bekwame onderwysers en leerders wat deur hulle gemeenskappe aangespoor word, ʼn beduidende uitwerking kan hê.

Fritz meen ook dat dit belangrik is dat gemeenskappe eienaarskap van skole neem en leerders in hul buurte ondersteun.

“Sosio-ekonomiese beperkinge dra by tot die hoër uitvalkoers en hoë koers van tienerswangerskappe in die provinsie. Die lewenskostekrisis maak die alledaagse lewe vir baie gesinne omtrent onbekostigbaar. Dit is belangrik dat bure mekaar help soos en wanneer hulle kan.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Johann ·

Maar wat is die “gemiddeld” van die massas wat so wonderbaarlik in ‘n verkiesings jaar slaag? Vertrou nie ‘n woord of statistiek wat via die ANC se kader stelsel gaan nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.