Dronkbestuurder pleit skuldig jare ná verloofdes verongeluk

Ruan Coen en Jessika Kennedy.

Die dronkbestuurder wat die oorsaak was van die motorongeluk wat die lewens van die pasverloofde paartjie Ruan Coen en Jessika Kennedy geëis het, het nou byna vyf jaar later skuldig gepleit op die aanklagte teen hom.

Andrew Kagiso Malele het Maandag in die Pretoriase streekhof verskyn waar hy skuldig gepleit het op aanklagte van strafbare manslag.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid sê egter Malele het geen ander keuse gehad as om skuldig te pleit nie aangesien daar ’n sterk saak teen hom is.

Die beskuldigde het voor sy verskyning tydens ’n emosionele gesprek met onder meer Coen se ma, Ursula Kors, om verskoning gevra dat hy die jong paartjie se dood veroorsaak het. Sy glo egter dat die reg sy gang moet gaan.

“Ons is baie dankbaar dat hy skuldig gepleit het,” het Kors intussen gesê. “Ons is opreg dankbaar dat ons uiteindelik berusting kan vind. Selfs al het ons vergewe, glo ek vas dat geregtigheid moet geskied en dat ’n mens verantwoording moet doen vir die keuses wat jy in die lewe maak.”

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, sê ook geregtigheid moet geskied. “Ons is baie bly dat hy skuldig gepleit het en dat die proses van vonnisoplegging nou kan ontvou. Die traumatiese gesprek wat ons vanoggend gehad het, het Ursula gehelp om berusting te vind. Ons is egter almal onwrikbaar in ons besluit dat die vonnisopleggingsproses moet voortgaan en dat die beskuldigde ’n regverdige vonnis moet kry vir die trauma wat hy veroorsaak het.”

Die motorwrak.

Coen en Kennedy het op 23 Desember 2017, enkele weke ná hul verlowing, met die N4 van Witrivier na Pretoria teruggekeer toe hulle in die ongeluk betrokke was. Hulle het na Pretoria teruggekeer nadat hulle by Kennedy se ma in Witrivier gaan kuier het.

Volgens ooggetuies het ’n groot BMW in die aankomende baan beheer oor die motor verloor en in die paartjie se baan beland voordat dit teen hul Ford Ka gebots het. Ruan en Jessika is destyds albei op slag dood terwyl Malele geringe beserings opgedoen het.

Volgens ooggetuies het Malele met polisielede op die toneel geskerts.

’n Saak van strafbare manslag is destyds ná die ongeluk teen Malele aanhangig gemaak, maar daar is min vordering in die saak gemaak. Kors het eindelik AfriForum genader nadat die dossier na bewering by die Silverton-polisiestasie verlore geraak het.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het daarna nou saam met kol. Werner Everson van die Silverton-speurtak en sers. Piet Ferreira van die Sinoville-speurtak gewerk om die dossier weer saam te stel sodat Malele vervolg kon word.

Die saak is verlede jaar eindelik op die rol geplaas.

Die saak is Maandag tot 7 Julie uitgestel. Dié keer vir ’n proefbeampteverslag en slagofferimpakstudie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Jr ·

Nog n WEN vir Afriforum. Steunpillar van ons mense. JULLE IS YSTERS

JM ·

Skuldige “skerts” met polisielede op die toneel, dít nadat hy twee mense se dood veroorsaak het!

Marcello ·

Snaaks dat hy nie weer verwys is vir sielkundige probleme nie, hy is defnitief nie jammer oor wat hy gedoen het nie, want wie skerts met die Polisie nadat jy 2 mense se doood veroorsaak het. Siek……. sluit hom toe een gooi die sleutel weg.

Frank ·

Afriforum vir president!!
Kan hulle nie nou verder gaan en die mense wat nie wou vervolg, dosier laat wegraak ens ens ook vervolg nie? Hoekom is dit elke keer vir Afriforum nodig om in te gryp, net omdat ander mense nie hulle werk wil doen nie?!

piet ·

Ek dink dronkbestuurders moet van moord aangekla word. As jy suip moet jy mos weet jy is ‘n gevaar op die pad en voorsien dat jy iemand anders se dood kan veroorsaak (dolus eventualis). IS OSCAR AL VRYGELAAT?

Shakespeare ·

Net nog n bewys van Afriforum se puik diens. Ek doen ‘n beroep dat ons mense hulle finansieel steun. Ek doen dit klaar. Geen bedrag per maand is onbenullig nie. Dink net R10 per maand en 1 miljoen ondersteuners beteken R10miljoen per maand stukrag vir Afriforum.

TRP ·

Amper kom hy weg daarmee so ek wonder hoe jammer hy werklik is. Geregtigheid moet behoorlik geskied.

Piesang ·

Na VYF JAAR…? En dit met ‘n stetk saak teen die skuldige? Eish!

Swerwer ·

Kan Afriforum maar nie Justisie oorneem nie, dit blyk dat daar dan reg sal geskiet.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.