Droogte: Boere benodig honderde miljoene rande

Skape in die Noord-Kaap word gevoer weens die uitmergelende en voortslepende droogte. (Foto: Elaine Krige)

Boere in die droogtegeteisterde Noord-Kaap het meer as R600 miljoen nodig net om ekonomiese stabiliteit in dié provinsie te verseker totdat dit behoorlik reën.

Só sê boere by wie Maroela Media die afgelope week besoek afgelê het. Die Noord-Kaapse regering het na afloop van ʼn besoek van adj.pres. David Mabuza aan dié provinsie, R30 miljoen na hulpbehoewende boere gekanaliseer.

Nicol Jansen, president van Agri SA in die Noord-Kaap, sê R3 miljoen hiervan is opsy gesit vir vervoerkoste om voer wat geskenk word, na boere te vervoer. Die ander R27 miljoen is in koepons omskep vir boere om voer te koop. “Dit beteken elke boer het R3 000 gekry. Dié bedrag is genoeg om sowat 60 skape vir 10 dae lank te voer. Ons is ontsettend dankbaar hiervoor, maar dit bring nie noemenswaardige verligting nie,” sê Jansen.

Hy sê boere in die Noord-Kaap het R688 miljoen nodig om die ekonomiese stabiliteit van die volgende drie maande in die Noord-Kaap te verseker, totdat dit reën. “Ons vergader volgende week met die regering. Maar jy weet hoe dit gaan. SAL soek geld, Eskom soek geld. Waar pas ons in?”

Dirk Sacco, ʼn boer van Vanwyksvlei naby Prieska, sê politici praat nie eens oor die droogte nie. “Ek weet nie meer aan watter deur om te klop om die regering te laat wakker skrik nie.” Hy sê die regering het ʼn plig om boere te help, aangesien al minder plaaswerkers in diens geneem word en dit dus ʼn uitwerking op werkloosheid in die omgewing het.

Herman Scholtz voer lammers op ‘n plaas by Griekwastad. (Foto: Elaine Krige)

Dirk Burger, ʼn boer van Niekerkshoop naby Griekwastad, sê die meerderheid van skenkings en hulp wat hulle ontvang, is van ander boere, landsburgers en “mense wat ons nie eens ken nie”. Hy sê in vergelyking met private instansies se bydraes is die regering se bydrae ʼn druppel in die emmer.

Jansen sê dis ʼn skande dat private organisasies en lede van die publiek ʼn groter bydrae lewer om boere te help as wat die regering doen. “Die regering versuim in sy plig aan boere.”

ʼn Klein bietjie reën het wel Saterdagaand in Griekwastad uitgesak. Boere meen egter dit sal jare vat voor die grond en kuddes in die Noord-Kaap behoorlik van die droogte herstel.

“Al sou dit nou goed begin reën, het ons nodig dat dit vir die volgende paar maande bo-gemiddeld baie reën. Dan moet ons vir ten minste nóg sewe jaar gemiddelde reënval kry voor ons behoorlik van hierdie ramp herstel,” sê Jansen.

Hy sê in vroeëre jare het ʼn droogtesiklus sewe jaar geduur, gevolg deur sewe jaar van reën. “Sedert 2010 het ons egter sewe jaar van droogte en slegs drie jaar van reën gehad. Die veld het dus nie genoegsaam kans gehad om te herstel voor die nuwe droogtesiklus begin het nie,” sê Jansen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Leon ·

Met klimaat verandering, moet ons besef die noord Kaap gaan minder en minder reen kry. Is dit nie tyd om te aanvaar dat die die streek te droog gaan word vir ektensiewe klein vee boerdery, en begin kyk meer na ektensiewe wild boerdery en tourism

Henk Ackermann ·

En wat moet die wild vreet as daar nie eers natuurlike weiding vir skape is nie ? Grond ?

Vita ·

Wat van die Oos Kaap, dit net so droog by ons , sal bly wees as iemand ook die boere hier wil help, dit die grootste droog in meer as 40 jaar hier, wens ek kan op die boodskap fotos van die plase opsit

Sê net ·

Elke keer plaas julle sulke berigte, maar sê my waar kan ons geld skenk??? Hoe kom ons met Herman Scholtz in die foto in aanraking? Al kan ek net 10 sakke lam melkpoeier skenk of enige iets. Ons wil graag help! Sit details saam berigte op asseblief

John ·

Geen brief is tot nog toe vanuit die Hemel afgelewer wat daarop dui dat die klimaat nou nooit weer gaan draai nie. Tydens die Depressiejare na 1929 het dit baie erger gegaan en baie boere in SA het hul geloof in die Hemelvader afgesweer… sommige met groot woede… en tog was daar weer ‘n ommekeer. Wat wel nodig is, is dat die regering wat sonder om te skroom miljarde bloot net laat vermors, en boere bloot miljoene afsmeek, gehoor moet gee. Die behoefte van staatsondernemings is nie groter as ander s’n in die land nie.
Boere het nie beheer oor die klimaat nie.

Sic? ·

As die droogte , droogte is . As die pes , kanker edm is . As die swaard , die moorde en misdaad is . As hongerrsnood die ekonomie is . As die wilde dier nie leeus is nie en die regering nie god is nie . Waarom vra ons die regering

kobie ·

Met die noordkaap as n onafhanklike tuisland kan daar n ontsoutings plant gebou word by Kleinzee en daar kan met behulp van n kanaal sisteem die noordkaap n landbou paradys maak die moondhede soos die VSA,europa sal help finansieel, ons moet net n onafhanklike landjie kry.

Karl ·

Wat het geword van die sg. GABM wat kwansuis 1.5 biljoen rand aan die boere sou skenk ? Kyk gerus na hul FB bladsy waar Agri SA afgekraak word … laakbaar om die boere in die droogte gebiede vals hoop te gee!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.