
Nicholas Ninow in die hof. (Foto: Mia Spies/eNuus)
Terwyl die meeste mense in die hooggeregshofsaal in Pretoria spontaan opgespring en begin sing en dans het, het Nicholas Ninow se ouma verslae op haar arms gehuil nadat regter Mokhine Mosope hom lewenslank tronk toe gestuur het vir die verkragting van ʼn tenger sewejarige dogtertjie.
Ninow is skuldig bevind aan verkragting, die besit van onwettige middels en dwarsboming van die gereg. Hy het skuldig gepleit dat hy die kind verlede jaar in die badkamer van ʼn restaurant in Pretoria verkrag het.
“Wat ʼn gelukkige uitstappie na ʼn Dros-restaurant moes wees, het in ʼn nagmerrie vir die familie ontaard.
“Die beskuldigde het ʼn jong, weerlose kind verkrag,” het Mosope gesê kort voordat hy Ninow ʼn lewenslange vonnis vir die verkragting opgelê het.
Talle mense in die openbare galery het by aanhoor hiervan hande geklap en gefluit.
Mosope het Ninow ook vyf jaar tronkstraf opgelê vir die besit van onwettige middels en nóg vyf jaar vir dwarsboming van die gereg. Laasgenoemde vonnis word gelyklopend met die vonnis vir verkragting uitgedien. Die regter het ook beveel dat Ninow se naam in die register van seksoortreders opgeteken word.
Ninow is blitsig ná die vonnisoplegging uit die hof geneem.
Ninow se ouma, Pauline Gericke, het vroeër by die hof gepleit om haar kleinseun, wat sy soos haar eie kind van die ouderdom van agt grootgemaak het, genadig te wees. Gericke het onder meer aan die hof gesê Ninow, ʼn dwelmverslaafde, ondergaan ʼn gedaanteverwisseling wanneer hy dwelms gebruik.
Sy het volgehou hy sou nooit gedoen het wat hy gedoen het, as hy nugter was nie.
ʼn Forensiese maatskaplike werker van die polisie het vroeër vandag getuig oor die uitwerking wat die verkragting op die kind, wat nou agt jaar oud is, gehad het.
Kapt. Karin Botha het aan die hof gesê die dogtertjie kry steeds nagmerries oor die voorval en dat sy geweldig angstig daaroor word.
Sy het gesê die voorval het nie net die kind nie, maar ook haar uitgebreide familie diep geraak en dat die verkragting haar waarskynlik lewenslank gaan bybly.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
74 Kommentare
Gepaste straf vir die oortreding, wens die doodstraf was nog beskikbaar.
Dwelms wen altyd. Daar het hy dit nou.
Gee ‘n kas Bells vir daai regter, hy is nou waar hy behoort, hy het daai onskuldige kleine dogtertjie se lewe verwoes, kan ons die regter nie gebruik by alle verkragting sake nie. elke verkragting moet n stempel op hul voorkoppe uitgebrand kry as hulle iemand verkrag…
Hoe lank is lewenslank
Hopelik het dit nou dié norm gestel vir ALLE verkragters. Wat goed is vir die een, is goed vir die ander