Drukgroep gevra om Frischke-saak te bekyk

Die drukgroep Action Society is deur die familie van die vermiste Duitse toeris Nick Frischke (22) gevra om dieper ondersoek na dié saak in te stel en ʼn oorsigrol in te neem.

“Ons sal alles in ons vermoë doen om bystand in die saak te bied. Die familie sit in ʼn ander land en kry nie gereeld nuwe inligting oor die saak nie. Dit bekommer hulle,” het Kaylynn Palm, woordvoerder van Action Society, gesê.

“Ons sal die saak fyn dophou, dit monitor en ons hulpbronne inspan.”

Maroela Media het vroeër berig dat Frischke sedert 15 Februarie vermis word. Verskeie soektogte deur lede van wetstoepassingsagentskappe, vrywilligers en lede van die gemeenskap het nog geen teken van Frischke opgelewer nie.

Vyf mans is sedert sy verdwyning op 15 Februarie in hegtenis geneem nadat daar van sy persoonlike besittings in hul besit gevind is. Die mans het al verskeie kere in die Wynberg-landdroshof verskyn.

Hulle het erken hulle het Frischke beroof terwyl hy gestap het, maar nog nooit ʼn woord gerep oor waar hy moontlik kan wees nie.

Igshaan Fisher, Jason Abrahams, Vanroy Petersen, Carlo Guenantin en Melvin Guenantin word van roof met verswarende omstandighede aangekla en sal op 22 Junie weer in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.