Duisend myl op tandemfiets vir geliefde laerskool

Twee vasberade en fikse ouers van Laerskool Eloff, ʼn Afrikaanse skool op Delmas, Mpumalanga, het ʼn reuseavontuur aangepak in ʼn poging om geld vir die skooltjie in te samel.

Lambert Langerman, voorsitter van die skool se beheerliggaam, en sy vrou, Nicolene, het Donderdag met hul reis van 1 000 myl (1 600 km) in Vanderbijlpark begin. Hulle sal uiteindelik 1 060 km  grondpad en 566 km teerpad ry tot hulle by die eindbestemming in Bloubergstrand aankom.

Weldoeners kan elke kilometer wat hulle aflê, borg.

“Ons gebruik Unbound Africa’s Legendary Adventures se 1 000 Mile Joburg2Blouberg-roete. Ons sal die eerste tandemspan wees wat dit aanpak,” vertel Nicolene aan Maroela Media.

“In hierdie stadium haak ons egter ʼn bietjie vas, maar ons behoort weer môreoggend in die pad te val,” sê sy.

Die plan was oorspronklik om die roete in 11 dae te voltooi, teen ʼn gemiddelde afstand van 150 km per dag. Dinsdag, net buite Hanover, het die teenspoed egter getref: twee van hul tandemfiets se speke het die gees gegee.

“Ons was so 10 minute uit Hanover toe ons skielik ʼn klapgeluid hoor; twee speke van die agterwiel het gebreek. Dit was waarskynlik weens die swaar gewig, want ons ry met ons bagasie agterop.

“Ons kon gelukkig ʼn plan maak om die fiets te herstel om darem tot op die dorp te ry. Daarna het ons nuwe speke bestel wat vanoggend reeds gekom het – maar Lambert het verkeerd gemeet, so die speke sou nie vir ons fiets werk nie.”

Nicolene vertel dat hul ondersteuningsgroepie – wat uit ouers en vriende van die skool én fietsrygroepe bestaan – ingespring het om vir hulle ʼn nuwe wiel te laat kom wat uit Bloemfontein bestel is.

“As alles uitwerk soos dit moet, sal ons weer Donderdag ons reis kan voortsit. Ons het reeds meer as 700 km afgelê.

“As ons môre in Wortelfontein aankom, is ons amptelik halfpad; dan het ons 805 km gery,” sê Nicolene.

“Ons volgende stop is op Victoria-Wes.”

(Foto: Verskaf)

Nicolene sê hulle het al heelwat mense op hul roete ontmoet en ieder en elk is ongelooflik vriendelik en behulpsaam.

“Die een aand het ons nogal laat in een van die dorpies aangekom – ek dink dit was die tweede aand – iemand het ons voorgekeer en ons gevra of ons verblyf benodig, dit was te dierbaar.

(Foto: Verskaf)

“Ons het egter reeds slaapplek gehad, maar die mense is regtig vriendelik. Hulle wil graag help en almal wil ons net volg en weet waarheen ons volgende op pad is.”

En ná honderde kilometers op ʼn fiets se saal is die bene en boude maar lekker styf, vertel Nicolene.

“As ons op die fiets klim, kan ons dit beslis voel. Ons bene en boude is baie seer, maar dit sal ons nie keer nie. Ons is vasberade om ons reis te voltooi.”

Trap ten bate van skool

Die energieke ouerpaar vertel dat hulle die reis aangepak het omdat hulle graag die Laerskool Eloff wil help.

“Dit is ʼn klein Afrikaanse skool en daar is maar mense wat nie altyd die skoolfonds kan bekostig nie. Die skool het altyd een of ander geldinsamelingsprojek om te help en ek en Lambert het net gevoel dat dit ʼn opwindende manier vir ons sal wees om ʼn bydrae te lewer.”

Louise van Niekerk, skoolhoof van Laerskool Eloff, sê die noemenswaardige en onbaatsugtige projek wat die egpaar aanpak, maak hulle uiters trots en dankbaar.

“Ons is ʼn klein, plattelandse skool waar die personeel, ouers en beheerliggaam deurlopend besig is met geldinsamelingsprojekte om gehalteonderrig en die bes moontlike geleenthede vir elke leerder te bied.

“Lambert en Nicolene gee ons almal nuwe moed en hoop.”

Die egpaar sou Sondag die spreekwoordelike eindstreep oorsteek, maar sê hulle vermoed dat hulle nou moontlik eers Dinsdag in Bloubergstrand gaan aanland.

“Ons koppe is reg, ons lywe moet net saamwerk,” skerts Nicolene.

Volg die twee se avontuur hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Raadsman ·

Afrikaanse skole kry minimale bystand van regering, nie soos ander skole waar kos ens uitgedeel word nie. Hulle sal ons nie onder kry nie, want dit is nie die eerste keer waar afrikaners deur moeilike tye gaan nie. Trots op mense soos Lambert en Nicolene.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.