Duisende daag op om ’n eeueoue gelofte te eer

Die son op die Senotaaf (Foto verskaf)

Ná 184 jaar bly Afrikaners getrou aan die gelofte van hul voorouers. Duisende mense het vandag by die Voortrekkermonument (VTM) in Pretoria saamgetrek om Geloftedag te herdenk.

Die monumentterrein is douvoordag oorval met besoekers om die diens by die amfiteater by te woon. Die gelofte is afgelê deur ’n vyftienjarige nasaat van Piet Uys, Denzel Labuschagne. Labuschagne het vroeër vanjaar uitgevind van sy unieke familieherkoms en het nie geskroom om in te stem om die gelofte met Geloftedag af te lê nie.

“Dis ’n voorreg om my voorvader hier by so groot Geloftefees by die Voortrekkermonument te verteenwoordig,” sê Labuschagne.

Byna 20 000 mense het vanjaar die Voortrekkermonumentterrein besoek.

Dr. Johann Ernst behartig die diens (Foto verskaf)

Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die Voortrekkermonument, sê: “Hierdie is ’n bewys van ’n volk wat saam staan. Dit is verseker een van die grootste Geloftefeeste wat in dekades by die Voortrekkermonument gehou is.”

Dr. Johann Ernst het die diens waargeneem wat tot elke Afrikanerhart gespreek het. “Swaarkry is nie verniet nie,” sê Ernst. Hy vertel dat die Voortrekkers nie geweet het wat God se groter raadsplan is toe die moorde by Bloukrans en Weenen plaasgevind het nie, maar net soos God se hand in die geskiedenis by die Slag van Bloedrivier gesien kan word, so kan dit ná die Slag van Bloedrivier steeds gesien word.

“Die nalatenskap van die gelofte is die vestiging van die kerk. Ons is die natrekkers van ’n God wat nog altyd voorsien.”

Soos verlede jaar het Ghapi na afloop van die diens die Gelofte-lied gesing. Dit is egter nie Ghapi se stem wat die voortou geneem het nie, maar die stemme van tienduisende Afrikaners wat die lied uit volle bors saamsing en bevestig.

Ghapi sing die Gelofte-lied (Foto verskaf)

Selfs besoekers van so ver as die Verenigde Nasies het die Geloftedagfees bygewoon.

Ilse Wallace, ’n Suid-Afrikaner tans woonagtig in Clover in Suid-Carolina, sê dit bly spesiaal om die gelofte te aanskou en dit is hoekom sy elke jaar terugkom.

Ilse Wallace van Clover in Suid-Carolina (Foto verskaf)

Tiaan Loots van Oos-Londen voeg by: “Geloftedag gaan vir my om eer te gee aan die Here dat Hy ons voorvaders beskerm het tydens die Slag van Bloedrivier.”

Martin Müller kan nie uitgepraat raak oor hoe beïndruk hy is met die feesdag en terrein nie.

“Geloftedag is iets waarin ons almal deel het, veral die jongmense. Ons almal het deel daarin en moet dit beleef,” sê Müller.

Marzanne Lootz vertel dat sy en haar familie nog altyd Geloftedag vier en dat haar ouers haar grootgemaak het om die gelofte te eerbiedig. “Ek dink dit is ongelooflik om nog steeds eer te gee aan die Here en om in so bevoorregte posisie te wees om God se wonderwerke te kan sien en te weet dat dit nie net in die Bybelse tyd gebeur het nie, maar dat ons vandag steeds wonderwerke kan ervaar,” sê Loots.

Sy gaan voort en vertel dat sy, noudat sy ouer is, God se grootheid kan sien.

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, het intussen gesê uitstaande manne en vroue wat oor geslagte heen groot opofferings gebring het vir die ideale waarin hulle geglo het, het ’n belangrike rol daarin gespeel om mense met dieselfde waardes en ideale saam te snoer.

“Om hierdie rede het elke volk die reg, maar ook die plig, om die verlede te gedenk wat eindelik aan elke volk ’n eie en spesiale kulturele woning geskep het. Op 16 Desember vier die Afrikaner Geloftedag om hulde te bring en erkenning te gee aan al sy helde wat diep spore getrap het in die geskiedenis en vorming van die Afrikaner.”

Groenewald sê diegene wat by Bloedrivier hul lewe op die spel geplaas het vir ’n toekoms vir hul nageslag, word vandag in die besonder gedenk, maar so ook elke persoon wat gehelp het om aan ’n toekoms te bou.

“Geloftedag is vir die Afrikaner nie ’n dag wat ’n regering of politieke party geskep het nie. Op dié dag word ’n heilige gelofte herdenk en eerbiedig en geen regering kan aan die Afrikaner voorskryf oor die waarde wat aan dié dag geheg moet word nie. Sou die regering versoening op dié dag wil vier, is dit sy reg. Die Afrikaner was nog nooit teen versoening met ander volkere in Suid-Afrika nie. Net so is dit die Afrikaner se grondwetlike reg om sy kultuur te vier en te gedenk. Wat die amptelike naam ook al is, bly vir die nageslag van die Voortrekkers ʼn dag van besondere betekenis om in ere te hou.”

Volgens Groenewald word ʼn mens op hierdie dag word opnuut daaraan herinner dat die verlede, hede en toekoms onafskeibaar is. “Net soos gister se helde, is vandag se leiers ook besig om ’n weg te baan vir die nageslagte wat kom. Ons beleef tans baie uitdaging en bedreigings in Suid-Afrika, maar moet altyd ons hoop vestig op die Hemelse Vader net soos die Voortrekkers dit op hierdie dag in 1838 gedoen het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.