Duur motors, gholfkarretjie gevat oor Eskom-korrupsie

Die Kusile-kragsentrale naby eMalahleni in Mpumalanga. (Foto: Phill Magakoe/AFP)

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) se batebeslagleggingseenheid (AFU) en die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) gaan op verskeie bates beslag lê wat gekoop is uit die opbrengs van ʼn korrupte tender by Eskom se Kusile-kragstasie.

Die AFU en SOE het Donderdag ʼn hofbevel vir die beslaglegging deur die Pretoriase hooggeregshof bekom, ingevolge die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad (POCA), wet nr. 121 van 1998.

Volgens Lumka Mahanjana, woordvoerder van die NVG in Gauteng, sluit die bates in twee gedeeltes van die Casambo Exclusive Guest Lodge, ʼn kommersiële eiendom in Mbombela, ʼn huis op ʼn landgoed, vyf motors – waaronder ʼn Lotus Europa-sportmotor, ʼn Subaru Impreza, twee Volkswagen Polo Vivos, ʼn Toyota Hilux – ʼn gholfkarretjie en ʼn vierwielmotorfiets.

“Hierdie bates is gekoop met geld wat vanuit die korrupte tender by Eskom se Kusile-kragstasie bekom is,” sê Mahanjana.

Die SOE is deur die wet gemagtig om alle onwettige aktiwiteite by die kragstasie te ondersoek.

Die voorlopige ondersoeke deur die SOE het aan die lig gebring dat Eskom ten opsigte van hierdie saak byna R400 miljoen verloor het weens die onwettige tender wat aan die ondernemer toegestaan is.

Volgens Mahanjana is die betrokke maatskappy wat onder verdenking is Tamukelo Business Enterprises, wat van Junie 2009 tot November 2020 rou en drinkbare water vanaf die Kendal-kragstasie na die Kusile-kragstasie tydens die Eskom Kusile-terreinprojek vervoer het.

“Tamukelo Business Enterprises het verskeie betalings gemaak tot voordeel van verskeie huidige en voormalige Eskom-amptenare.

“SOE se bevindings plaas dus die lede en verteenwoordigers van Tamukelo Business Enterprises onder verdenking.”

ʼn Voormalige Eskom-werknemer, Duduzile Babalwa Moyo, het betalings of voordele van meer as R24,5 miljoen ontvang, wat van Tamukelo Business Enterprises betaal is vir die vervoer van die water.

“Die volgende stap sal wees om aansoek te doen om ʼn verbeurdverklaringsbevel. Sodra ʼn verbeurdverklaringsbevel toegestaan is, sal die eiendomme op ʼn openbare veiling verkoop word en die opbrengs aan Eskom teruggegee word. Ondersoeke duur nog voort.”

Tamukelo ondergaan tans ʼn deregistrasieproses en dit beskerm nie die maatskappy en sy direkteure van aanspreeklikheid nie.

Casambo Property Development, wat ook betrek word, het die kommersiële eiendom teen ʼn verlaagde prys van R3 000 000 te koop aangebied. Die hofaksie steek nou egter ʼn stokkie voor dié verkooptransaksie.

“Hierdie bewaringsbevel is deel van die instelling van die nasionale teenkorrupsie-strategie deur wetstoepassingsagentskappe om die stryd teen korrupsie te versterk, veral wanneer sulke misdade deur staatswerknemers in vertrouensposisies gepleeg word wat dienste ter voordeel van lede van die publiek en die ekonomie moet lewer.”

Nog instansies en mense wat onder verdenking is:

  1. Carol Zenzile Sanderson, eienaar van die Casambo Exclusive Guest Lodge
  2. Siphiwe Musa Wandile Mkhwanazi, ʼn voormalige operasionele bestuurder by Tamukelo en hooflid van Phuwanda Trading CC, ʼn subkontrakteur van Tamukelo
  3. Lloyds Muzi Sambo, ʼn hoof- operasionele beampte en hooflid van Tamukelo
  4. Mukelo Pertunia Sambo, stigter van Tamukelo en voormalige lid van Tamukelo
  5. Zenzile Carol Sanderson, Sambo se vrou en voormalige lid van Tamukelo
  6. Casambo Property Development
  7. Judith Ann Gable
  8. Phindile Ntombikayise Msimango
  9. Lusanda Trading CC
  10. Mwakasambo Pty Ltd

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Waarnemer ·

Wat van die eskom amptenate,soos ditekteure,bestuutders, endv?

Eiervrug ·

Geld uit opbrengs van veiling word teruggegee aan Eskom…. Mmmm, net sodat dit weer die volgende week terug is in een van die maatjies se beursies… Die volgende ou het alreeds sy order vir ‘n golfkar ingesit…

Shakespeare ·

Die ANC sal nie hulle kriminele pêlle laat vervolg nie want 95% van hulle is self kriminele. Soort sorg vir soort.

Plotman ·

Is oogverblindery, laat klein jakkelsies val sodat grotes met groot geld wegkom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.