Dwaalkoeël by begrafnis tref inwoner van ouetehuis

Kebby Maphatsoe word ter ruste gelê. (Foto: Departement van militêre veterane/Facebook)

’n 75-jarige inwoner van ’n ouetehuis in Westdene in Johannesburg is Sondagmiddag deur ’n dwaalkoeël in die been getref, terwyl sy in haar tuin gesit het. Die koeël was glo afkomstig van die begrafnis vir ’n MK-veteraan wat by die begraafplaas naby die ouetehuis gehou is.

Nóg ’n koeël het boonop deur ’n slaapkamervenster in die naburige Montgomery Park gebars en ’n bejaarde man (87) op sy bed met enkele meters gemis.

Dié skote is klaarblyklik by die begrafnis van die nou ontbinde Umkhonto we-Sizwe militêre veterane-vereniging (MKMVV) se leier, Kebby Maphatsoe, afgevuur.

Honderde patrone is glo by die Westpark-begraafplaas in die lug afgevuur waar talle ondersteuners Sondag van Maphatsoe afskeid geneem het.

“Altesame 236 leë koeëldoppies is tot dusver by die begraafplaas opgetel,” het DA-LP James Lorimer Woensdagoggend aan Maroela Media gesê.

Lorimer is Maandag deur ’n plaaslike DA-raadslid in kennis gestel dat Margaret Holloway, ’n inwoner van die Eeufees Oord-ouetehuis, die vorige dag in die hospitaal opgeneem is nadat sy deur ’n dwaalkoeël in die been getref is. Daar word glo vermoed dat die koeël dié van ’n AK47 is.

Volgens Lorimer het verskeie inwoners van omliggende buurte intussen na vore gekom en gesê hulle het talle outomatiese geweerskote Sondagmiddag gehoor. Die skote het na bewering tot 30 minute aaneen afgegaan.

Een van die dwaalkoeëls wat in die woonbuurte om die begraafplaas gevind is. (Foto: Verskaf)

Lorimer bestempel die skietery as “pure wetteloosheid”.

Brig. Vish Naidoo, nasionale woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media bevestig dat klagte in verband met Maphatsoe se begrafnis aanhangig gemaak is.

Die klagte het aanvanklik gehandel oor die groot aantal roubeklaers wat die begrafnis bygewoon het. Klagte oor die oortreding van die Vuurwapenwet is eers later ingedien.

“Ons het later berigte ontvang dat ’n 75-jarige vrou in haar been geskiet is, na bewering deur een van die patrone wat tydens die begrafnis afgevuur is. ’n Verdere saak van poging tot moord word nou ook ondersoek,” sê Naidoo.

Luidens berigte kan die koeël nie uit Holloway se been verwyder word nie en die bejaarde is intussen uit die hospitaal ontslaan. Sy verkeer in baie pyn, berig News24.

Polisie sit hande gevou

Lorimer vertel daar was glo verskeie senior polisiebeamptes by die begrafnis teenwoordig, maar hulle het glo niks gedoen toe daar wild en wakker in die lug geskiet is nie.

Om sake te vererger, het polisiebeamptes van die Sophiatown-polisiestasie glo nie gereageer toe Holloway deur die dwaalkoeël getref is en die ouetehuis die polisie ontbied het nie. Dié inligting kon egter nog nie bevestig word nie, aangesien Maroela Media sedert Dinsdag sukkel om die ouetehuis-bestuur in die hande te kry.

Volgens Lorimer is dit al vir ’n paar jaar algemene gebruik dat skote tydens begrafnisse by die Westpark-begraafplaas afgevuur word. Talle hooggeplaastes word by die begraafplaas ter ruste gelê. Die skietery gebeur egter glo veral wanneer bendelede ter ruste gelê word.

Plaaslike DA-raadslede het reeds verskeie klagte in dié verband by die polisie en metropolisie ingedien. Volgens Lorimer word daar egter geen poging aangewend om die probleem aan te pak nie.

“Indien die polisie nie die mannekrag, organiseringsvermoë of die moed het om hierdie [skietvoorvalle] stop te sit nie, kan hulle dalk net inwoners waarsku wanneer bendelede of senior ANC-amptenare ter ruste gelê word, sodat hulle onder die bed of in die kas kan wegkruip,” het Lorimer tong in die kies gesê.

Lorimer doen ’n beroep op die polisie om diegene wat Sondag skote afgevuur het, in hegtenis te neem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

29 Kommentare

Heinrich ·

Ek kan nog steeds nie verstaan hoe ‘n politieke party toegelaat word om sy eie privaat weermag aan te hou nie, en dan nog so te kere gaan. Dis sottigheid en almal draai ‘n blinde oog.

Nie Verbaas ·

Jip soos alles verstaan ANC ook nie dat alles wat opgaan ook weer afkom nie. Logiese denke beperk.

Misky ·

Hier is soveel wat verkeerd is aan die berig, dat ek nie weet waar om te begin nie!!!! Hoeveel word toegelaat by begrafnisse? Ek moes gister aanlyn my swaer se begrafnis “bywoon”, want nie meer as 50 mense toegelaat nie en ek wou sy direkte familie en kollegas dit gun. En weereens afvuur van lewendige ammunisie in publiek en die keer selfs iemand gewond. Wat verstaan die terroriste nie? En dan die dra van maskers….. Nie eens Mantashe dra sy masker nie. Vat die saak verder asb en moenie net los nie

gatgogga ·

Dit sal maar net nog ‘n saak word wat vir altyd uitgestel word.

Jack ·

Ja ek het ook al gewonder hoe die klomp se koppe werk.Skiet sommer lekker by begrafnis en het nie ‘n benul waar die rondtes gaan slaan as hulle afkom nie.Maar dit is tipies hoe die ANC en sy volgelinge dink en funksioneer.Daar is geen maar geen logiese vooruitdenkunde beplanning of vooruitsig nie.Daar is geen bevoegdheid teenwoordig nie.Plat en so dom soos sand.

Werner ·

Wel as ou malema daarmee kan wegkom en ou zuma hoekom nie die res nie.Dis hoe anargie lyk wat buite beheer gaan spiraal.

Pampoen ·

Een stel reels vir my en jou. ‘n Ander stel vir die comrades.

Anel ·

Daar mak net blanks geskiet word. Dit word gewoonlik almal in ‘n veilige rigting geskiet en net 21 skote, in sarsies. Nie wil en wakker in alle rigtings met outomatiese gewere nie!! Het hulle ooit lisensie vir die goed? En hoekom mag hulle nog as ‘n weermag of wst ookal doenig wees as hulle veronderstel is om ontbind te wees? Al daardie wapens behoort gekonfiskeer te wees en die lot onbevoeg verklaar word. Verderkla hulle aan van poging tot moord. My maggies man! As dit ek was, was ek lankal in die tronk, sleutel weggegooi, my wapen gekonfiskeer, vir altyd en ek sou onbevoeg verklaar wees om ooit weer wapen te mag besit!!!

gatgogga ·

Cyril het beveel dat die veterane ontbind moet word. So, niemand steur hom meer aan Cyril nie – hy kan net praat, dis al, en dan gewoonlik leuens boonop.

Persheks Adri ·

So mag ons dit ook nou doen? Die logika van hulle darem. Jou rondte moet êrens stop as jy geskiet het…

Jakes ·

Dit is absoluut belaglik dat mense gewere afvuur by n begrafnis. MK was in elk geval n nikswerd militere spul wat swak opgelei was en n mens moet hierdie mense se IK ernstig bevraagteken.

Spook ·

Het ou Carltjie van Nieuwenhuis nie ook daar by die begrafnis ‘n goose step uitgepak nie?
Hy is mos ‘n Hoof-opper-veldmaarskalk-ter-velde in die organisasie.

Chef ·

Sluit elke persoon toe wat vuurwapen afgevuur het! Dis totale wetteloosheid!

Elinette ·

Wat is dit met dié “mense” en die afvuur van outomatiese en semi-outomatiese vuurwapens (goed wat – terloops – DEUR KOLONISTE EN SETLAARS aan hulle bekend gestel is) by byeenkomste, vierings en begrafnisse?

Johann ·

Mag en pag in die hande van gewapende onaantasbare massas. Om nie te praat van hoe de…..mmmmmmm…..van die klomp “veterane” is op hulle ouderdom?

Misky ·

Klomp van daai ‘veterane’ is nog bloedjonk en moet op skool wees

Elinette ·

Wel, hulle werk goed so bietjie agterstevoorom. Jy is nog ‘n “youth member” as jy 48 is en op 22 is jy ‘n “veteran” ….

SjN ·

Daar moet mos register gehou word van die beperkte begrafnis besoekers, sal mos maklik wees om die skuldiges op te spoor.

Perdeby ·

Al hierdie mense wat so beseer is moet maar ‘n eis in stel teen die SAPD en die MK veterane. Dis al pad om nou te stap.

Miskruier ·

Tydens die Taliban se feesvieringe is 17 dood agv dwaalkoeëls. Wat op gaan, kom weer af.

Pieter ·

Die NP het voor 1994 vir baba bang gemaak met die AWB gevaar. Duidelik is MK wel aanvaarbaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.