Drie vermeende dwelmhandelaars sal na verwagting Maandag in die Chatsworth-landdroshof verskyn, ondanks hul poging om polisiebeamptes met R100 000 om te koop.
Die drie persone is Vrydag tydens ʼn gesamentlike operasie deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens se provinsiale dwelmtaakspan en die honde-eenheid, met die bystand van die polisie se misdaadintelligensie-eenheid en die Durban metro se dwelmtaakspan in hegtenis geneem, het lt.kol. Thulani Zwane, woordvoerder van die polisie, gesê.
Die verdagtes, tussen 40 en 45 jaar oud, sal Maandag in die Chatsworth-landdroshof verskyn op aanklag van dwelmhandel. Een van die drie staan ook tereg op ʼn aanklag van omkopery, het Zwane bygevoeg.
“Ná ʼn paar maande se waarneming en ʼn geheime operasie, is die eerste verdagte Vrydag in Pelicanrylaan in die Bayview-gebied in hegtenis geneem. Hy het kokaïen in sy besit gehad.
“Die verdagte is na sy huis in die gebied geneem waar beamptes nog kokaïen gevind het met ʼn straatwaarde van meer as R500 000. Nog twee persone is in die huis in hegtenis geneem,” het Zwane verduidelik.
Een van die verdagtes wou die beamptes omkoop. Sy het R100 000 kontant vir die beamptes aangebied, maar hulle het geweier om betrokke te raak by enige korrupsie. Sy is in hegtenis geneem op aanklag van omkopery en die beamptes het beslag gelê op die kontant.
Genl.maj. Bheki Langa, waarnemende provinsiale polisiekommissaris, het die polisie se span geloof vir die inhegtenisneming. “Ons het ʼn toegewyde span wat bereid is om hard te werk om dwelmmiddels in ons provinsie uit te roei. Diegene wat dink hulle kan ons lede omkoop, en dink hulle kan met misdaad wegkom, sal tronk toe gaan. Ons versoek die gemeenskap om die span te ondersteun en waardevolle inligting te verskaf oor enige dwelmhandelaars in hul gebied. Die gemeenskap kan 08600 10111 kontak indien hulle vir hul lewens vrees.”
die feit dat die geld so maklik en openlik aangebied word, wys vir my die dwelmhandelaars het ondervinding van baie meer as net een polisiebeampte wat maar tog te gewillig is om die geld te aanvaar.
Ja en hulle gaan nog Maandag baie maklik borg kry yerwyl die KFC groep in aanhouding bly, wat is meer gevaarlik omkopery en dwelms of KFC
Dankie vir die eerbare polisiemanne in die saak.
R100 000 tussen die span te verdeel is mos peanuts
Janee,as die regte tjommies saam daar was het ons niks van die storie gehoor nie….