E-afval ‘toksies vir SA’

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: John Cameron/Unsplash)

Elektroniese toestelle en toebehore wat die lewens van miljarde mense vergemaklik, kan in sogenaamde “moordmasjiene” verander wanneer dit afbreek en nie behoorlik van ontslae geraak word nie.

Min Suid-Afrikaners en plaaslike regerings doen egter daadwerklike stappe om te keer dat die land deur hope van dié tikkende tydbomme oorweldig word.

Kenners sê die probleem is so omvangryk dat elke Suid-Afrikaner jaarliks meer as 6 kg se elektroniese afval voortbring, waarvan slegs 12% uiteindelik hergebruik of herwin word.

Die res van die selfone, skootrekenaars, oorfone, laaiers, televisies, mikrogolfoonde, wasmasjiene, yskaste en batterye wat nie herwin word nie, beland op stortingsterreine, besoedel die omgewing of bedreig die gesondheid van mense wat per toeval daarop afkom.

Circular Energy raam daar word wêreldwyd ongeveer 40 miljoen ton se elektroniese afval elke jaar gegenereer. Dit is soos om 800 skootrekenaars elke sekonde weg te gooi.

In geheel bestaan 70% van die wêreld se totale giftige afval uit elektroniese afval.

“Elektroniese afval is die soort afval in die wêreld wat die vinnigste groei, juis omdat mense so maklik toegang tot elektronika het,” sê Patricia Schröder, woordvoerder van Circular Energy.

Dié organisasie bestuur ʼn landwye terugneemskema om enige en alle soorte elektroniese toestelle in te samel en verantwoordelik daarvan ontslae te raak, te herstel of te herwin.

Te veel, te vinnig

Schröder sê elektroniese afval is enige toestel of voorwerp met ʼn elektriese stroom. Dit sluit werkende en nie-werkende toestelle in.

“ʼn Voorwerp word beskou as afval sodra die oorspronklike gebruiker nie meer ʼn doel daarvoor het nie,” sê sy.

“Daar is egter so ʼn lang lys van goedere wat geklassifiseer word as elektroniese afval, want kragproppe, kabels en huishoudelike gloeilampe is ook alles elektroniese afval. Dit is deels waarom elektroniese afval so ʼn groot probleem in Suid-Afrika en die wêreld is.”

Schröder is van mening dat die tegnologiebedryf so gereeld toestelle opdateer dat tonne toestelle ongebruik gelaat word. Die gemiddelde persoon vervang elke 18 maande hul selfoon.

“Hedendaagse toestelle word dikwels ook so gemaak dat dit slegs vir ʼn beperkte tyd bruikbaar is voordat dit in elk geval die gees gee en vervang moet word,” sê sy.

“Dit is dikwels ook duurder om toestelle vir herstelwerk te stuur as om dit te vervang. Dit lei tot meer elektroniese afval.”

Gevare in oorvloed

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: John Cameron/Unsplash)

“Die impak wat elektroniese afval op die omgewing het, is ernstig en ons moet almal daarop begin ag slaan,” sê Schröder.

“Enige selfoon, skootrekenaar of elektroniese toestel bevat ʼn gevaarlike komponent wat skadeloos is wanneer die toestel in gebruik is, maar gevaarlik raak sodra dit begin afbreek of lek.”

Sy verduidelik dat werkende yskaste soms op stortingsterreine beland en die kompressors begin gas afgee.

“Die gas wat vrygestel word uit yskaste dra tot tien keer meer by tot aardverhitting as koolstofdioksied,” sê sy.

Die Elektroniese Afvalvereniging van Suid-Afrika (eWASA) sê die meeste elektroniese toestelle bevat metale soos koper, nikkel, berillium, lood, soldeersel, tin, kadmium en kwik, asook glas en ander komponente wat diere en mense kan benadeel. Die gifstowwe wat hieruit kom, kan waterbronne besoedel wat op sy beurt lewensgevaarlike gevolge vir mens en dier inhou.

Volgens Schröder het daar boonop onlangs ʼn kommerwekkende tendens met betrekking tot die insameling van elektroniese afval kop uitgesteek.

“Mense het begin kabels bymekaar maak en dit aan skroothandelaars verkoop vir die koper wat dit bevat. Die probleem is egter dat hierdie individue dikwels die omhulsels van die kabels brand om by die koper uit te kom sodat hulle meer geld daarvoor kry,” sê sy.

“In die brandingproses word gevaarlike gasse in die lug vrygestel. Dit is al bewys dat hierdie gasse selfs kanker kan veroorsaak.”

Schröder sê hierdie tendens is iets waarvoor Circular Energy hom beywer om te beëindig “sonder om mense van die reg te ontneem om ʼn lewensbestaan te verdien”.

“Ons wil op die ou end dit regkry dat diegene wat die kabels bymekaar maak dit na Circular Energy toe bring en dan dieselfde betaal word as wat hulle by skroothandelaars sou kry. Hulle hoef egter nie hul lewens in gevaar te stel om daardie geld in die hande te kry nie.”

Byna 100% herwinbaar

Die meeste elektroniese afval is byna 100% herwinbaar, maar Schröder sê dit werk nie soos met ander produkte waar ʼn broodrooster skielik in toiletpapier verander nie.

Sy sê dikwels word toestelle wat nog in ʼn goeie toestand is, herstel om in die tweedehandse mark verhandel te word. In die meeste gevalle waar die toestelle nie behoorlik van ontslae geraak is nie, word die fisieke komponente en gifstowwe waaruit die toestelle bestaan stuk-stuk verwyder vir hergebruik. Die klein bietjie wat nie hergebruik kan word nie, word vernietig.

Volgens eWASA bevat alle elektroniese toestelle seldsame natuurlike elemente soos silwer, goud, palladium en ander aardmetale.

“Dit is waardevolle en kosbare hulpbronne wat ons nie net moet weggooi nie,” sê die vereniging.

“Dit is egter belangrik dat dit verantwoordelik van ontslae geraak word.”

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: John Cameron/Unsplash)

Die jongste wetgewing oor elektroniese afval onderstreep die feit dat hierdie afval slegs by gelisensieerde fasiliteite, wat deur die departement van bosbou, visserye en die omgewing goedgekeur word, herwin mag word.

Die meeste van hierdie fasiliteite is egter in private besit, met min openbare fasiliteite waarvan Suid-Afrikaners gebruik kan maak.

Schröder sê die departement, onder leiding van minister Barbara Creecy, het in die afgelope paar jaar positiewe stappe gedoen om dit te verander.

“Die probleem is dat die meeste munisipaliteite in die land bloot net nie die geld of hulpbronne het om so ʼn groot onderneming aan te pak nie.”

Circular Energy is besig om saam met verskeie munisipaliteite te werk om eindelik private kontrakteurs te kry om die afval in te samel.

“Dit sal werk soos gewone vullisverwyderingsdienste, maar vir elektroniese afval.”

Mense kan dié organisasie ook direk kontak en versoek dat die afval direk by hul huis afgehaal word. Daar is boonop meer as 500 Woolworths-takke reg oor die land waar mense van hul gebruikte batterye en gloeilampe ontslae kan raak.

Ter viering van internasionale e-afvaldag het Circular Energy ook Saterdag insamelingspunte by die Centurion-winkelsentrum in Gauteng opgestel, asook by ses ander winkelsentrums in KwaZulu-Natal.

“Dit is elke Suid-Afrikaner se verantwoordelikheid om na hul omgewing om te sien en een manier om dit te doen is om al hul ou toestelle Saterdag by ons insamelingspunte af te laai.”

  • Besoek Circular Energy se webtuiste vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.