E-tol: Leë beloftes vir SA motoriste

(Foto verskaf deur Outa)

Dit is reeds ʼn jaar sedert finansiesminister Enoch Godongwana ʼn einde aan e-tol belowe het, maar motoriste in Gauteng worstel steeds met dié onregverdige stelsel, sê die organisasie teen belastingmisbruik (Outa).

“Outa is ontsteld oor die regering se versuim om sy eie besluit te implementeer en sy belofte gestand te doen om e-tol te skrap,” sê Wayne Duvenage, uitvoerende hoof van Outa.

Godongwana het in sy mediumtermyn-begrotingstoespraak die regering se alternatiewe finansieringsmeganisme vir die Gautengse hoofwegverbeteringsprojek (GFIP)-skuld aangekondig. Dit het staatstoegekende fondse ingesluit.

Die aankondiging het hoop geskep vir diegene wat vir meer as ʼn dekade onder die e-tolstelsel gebuk gegaan het. Die Gautengse premier, Panyaza Lesufi, het kort daarna bevestig dat die e-tolskema teen 31 Desember 2022 gedeaktiveer sou word en selfs melding gemaak van die moontlikheid om R6,8 miljard te vergoed aan diegene wat voorheen betaal het.

In die mediumtermyn-begrotingstoespraak (MTBPS) van 2022 is ʼn bykomende R27,476 miljard aan Sanral beskikbaar gemaak: R3,740 miljard deur spesifiek vir GFIP bewillig en R23,736 vir Sanral se skulddelgingsfonds.

Outa het in November 2022 ʼn formele skrywe aan die staande en gekose komitees oor bewilliging gerig oor die MTBPS-belastingswetsontwerp en Sanral-oordragte (sien hier) en ʼn mondelingse voorlegging aan die komitees, sê Duvenage. “Ons het ʼn verduideliking versoek oor Sanral se skuld, die GFIP-skuld en wat afbetaal word. Die parlement het dié wetsontwerpe goedgekeur, maar ons het tot dusver nog nie ʼn verduideliking ontvang nie.”

Die begroting vir 2023 het ʼn verder R2,2 miljard ingesluit vir die GFIP en die vervoerstemmery het verwys na R23,736 miljard wat deur die MTBPS ontvang is vir Sanral-skuld as “ʼn gedeeltelike oplossing” vir die GFIP-skuld – sonder enige verduideliking van dié skuld, voeg Duvenage by.

“Nou, in Oktober 2023, is daar nog nie ʼn enkele tree geneem om die besluit om e-tol te skrap, in werking te stel nie. Die brandende vrae is: Wat sal dit neem vir die regering om sy eie belofte gestand te doen? Wat het Sanral met die bykomende fondse gedoen wat hy ontvang het om GFIP-skuld af te betaal?”

Sanral se geïntegreerde verslag vir 2022/23 dui daarop dat die Gautengse regering 30% tot die uitstaande GFIP-skuld sal bydra en die nasionale regering die oorblywende 70% (dit verwys na GFIP-skuld eerder as Sanral-skuld) en dat die R23,736 miljard die nasionale regering se “eerste bydra” was tot sy 70%-aandeel.

“Hierdie kwessie oortref die debat tussen die nasionale en provinsiale regerings se verantwoordelikhede: dit gaan oor die irrasionaliteit en onregverdigheid van ʼn skema wat Gauteng-motoriste vir te lank belas het. Die irrasionele e-tolstelsel het ʼn onregverdige finansiële las op burgers geplaas, en tog het die regering óf versuim óf geweier om dit te beëindig – ondanks ʼn duidelike besluit ʼn jaar gelede om dit te doen.”

Duvenage sê die administratiewe koste wat die regering aangegaan het om die e-tolinvorderingskontrak die afgelope jaar te verleng, moet ook nie onderskat word nie (sien hier) asook om rekeninge uit te stuur aan duisende motoriste vir ʼn stelsel wat al ʼn jaar gelede beëindig is. “Dié koste verteenwoordig verkwistende uitgawes en benadruk die onuitvoerbaarheid van e-tol.”

Duvenage sê die voortgesette vertraging om die e-tolstelsel te beëindig, is ʼn misbruik van die vertroue wat burgers in hul regering geplaas het. “Ons het geduldig gewag vir verligting van dié irrasionele stelsel en die regering se versuim om op te tree veroorsaak onnodige druk aan Suid-Afrikaanse motoriste. Outa doen ʼn beroep op die regering om onmiddellik op te tree op sy toewyding om e-tol te beëindig en die verligting te bring wat hy belowe het.”

  • Lees meer oor Outa se e-tolveldtog hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

KB ·

Ek verkwalik ook die instansies wat druk op die regering sou plaas om o.a. die e-Tol stelsel (wat uit die staanspoor vol bedrog en onwettig is) te skrap.
Hulle het met ʼn spoed weggespring, niks vermag nie, en toe in die niet verdwyn. Hier dink ons nie net aan die ANC, SANRAL, Lesufi, en Mbalula nie, maar ook aan Outa, Cosatu, en ander politieke partye en -burgerregte instansies.
Handel die saak nou af, en kry resultate!

Marius ·

Ons is al gewoond daaraan dat alles gese word en niks gebeur nie. Die regering lieg so baie dat hulself al glo.

Kokerboom ·

Geen aanspreeklikheid, geen verantwoordelikheid.
Kern van ANC DNA! En hul sal aanhou regeer!

Eclectus ·

Ek het tot vandag nie ‘n sent betaal nie. Die paar rekeninge wat opgedaag het, het in die papegaaie se hokke opgeland om te verskeur en op te…

Gaitsigubib ·

Jy is n voorbeeld vir almal omdat jy papier hergebruik. Stuur liefde vir jou eclectus!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.