E-tol opgeskort, maar rekening gaan nie net verdwyn

Sindisiwe Chikunga, Panyaza Lesufi, Themba Mhambi, Reginald Demana, SANRAL, e-tol, Gauteng premier, minister van transport, departement van transport

Panyaza Lesufi, Gautengse premier. (Foto: Isabel Venter / Maroela Media)

Gauteng se e-tolstelsel mag dalk iets van die verlede wees, maar motoriste wat nog uitstaande skuld hiervoor het, sal moontlik nog moet hoes daarvoor.

Panyaza Lesufi, Gautengse premier, en Sindisiwe Chikunga, minister van vervoer, het Woensdag by ʼn gesamentlike mediakonferensie by die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) se kantoor in Centurion benadruk dat die stelsel Donderdagaand afgeskakel word.

Die stap volg ná jarelange teenkanting en duisende motoriste wat geweier het om die e-tol te betaal.

Chikunga het egter slegte nuus vir diegene met sogenaamde historiese e-tolskuld gehad: Volgens die minister bepaal wetgewing dat enige motoris wat ʼn rekening ontvang vir die gebruik van ʼn tolpad, verplig is om dit te betaal.

“Ingevolge die wet is motoriste steeds verplig om te betaal, die wette het nie verander nie. Hoe dit afgedwing gaan word, moet nog bespreek word. As daar uitdagings is, is dit ʼn saak waarna ons sal kyk,” sê Chikunga.

Sindisiwe Chikunga, Panyaza Lesufi, Themba Mhambi, Reginald Demana, SANRAL, e-tol, Gauteng premier, minister van transport, departement van transport

Panyaza Lesufi, Gautengse premier, kondig Woensdag die finale skraping van die e-tolstelsel in Gauteng aan. (Foto: Isabel Venter / Maroela Media)

Lesufi sê daar word oor die kwessie van agterstallige skuld “met alle relevante rolspelers” vergader. Hy het ook beklemtoon dat dit ʼn ingewikkelde kwessie is.

“Dit is nie net so maklik nie. Mense het belasting betaal op die gelde, vervoermaatskappye word geraak, motors het van hande verwissel; daar is baie rolspelers wat insette moet gee,” sê Lesufi.

Hy het Woensdag ook ontken hy het ooit beloof dat motoriste, wat getrou hul e-tolgeld betaal het, terugbetaal sal word. Volgens die premier is hy verkeerdelik hieroor aangehaal.

“Die haakplek met e-tol was van die begin af gebrekkige konsultasie. Daarom moet die betaling of afdwing van skuld aan behoorlike konsultasie onderwerp word sodat mense nie weer kan sê ons neem ʼn besluit sonder om te konsulteer nie.”

Sodra die finale besluit geneem is, sal ʼn amptelike aankondiging gedoen word.

Motoriste wat nog nooit e-tol betaal het nie en agterstallige rekeninge het, sal ingevolge ʼn besluit wat in 2019 geneem is, nie vervolg word nie.

Lesufi sê die opskort van die stelsel bring ʼn einde aan iets wat inwoners van die provinsie in die eerste plek nooit wou gehad nie.

Die e-tolstelsel is op 3 Desember 2013 in werking gestel om die skuld van die Gautengse hoofwegverbeteringsprojek (GFIP) te delg.

Ná dese sal motoriste nie meer hoef te betaal wanneer hulle onderdeur ʼn e-tolhek ry nie. Die ligte en kameras van hierdie hekke sal wel aanbly, maar sal voortaan ingespan word as deel van die provinsie se misdaadbekampingsveldtogte, aldus Lesufi.

Sindisiwe Chikunga, Panyaza Lesufi, Themba Mhambi, Reginald Demana, SANRAL, e-tol, Gauteng premier, minister van transport, departement van transport

Sindisiwe Chikunga, minsiter van transport. (Foto: Isabel Venter / Maroela Media)

Chikunga sê ook die kameras sal ingespan word om spoedvrate voor stok te kry omdat die kameras goed geplaas is om motoriste se gemiddelde spoed te bepaal. E-skyfies sal ook nog gebruik kan word om by ander tolhekke of vir parkering te betaal.

Motoriste mag dalk nog ʼn rekening ontvang vir ritte ná 11 April, maar hoef dit nie te betaal nie. “Ons voorsien dat daar vertragings met die posstelsel kan wees, maar ná 30 dae sal mense se rekeninge skoon wees; hulle sal ʼn skoon blad hê,” sê Lesufi.

Daar sal egter wel van motoriste wat die e-tolstelsel tot 11 April gebruik, verwag word om hul rekening ten volle te vereffen.

Die hardnekkige vraag oor waar Gauteng se gedeelte van die geld vandaan gaan kom om te betaal vir Sanral se agterstallige skuld vir die projek, het Lesufi gesê daar is ʼn ooreenkoms bereik.

Hy het weer die aandag daarop gevestig dat die Gautengse begroting in Maart vanjaar gewys het dat verskeie finansiële instellings genader is om die geld te leen. Verder is daar ooreengekom dat Gauteng sal help met die instandhouding van die paaie, al bly die e-tolpaaie steeds nasionale paaie.

Media Briefing

Posted by Sanral on Wednesday, April 10, 2024

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Adri ·

Wat van die tolhekke by die op en afritte? Hoekom is die tolhekke net by die buurte van middel tot laerklas woongebiede (Montana, East Lynn, Waverley) maar nie by Menlyn en Waterkloof nie?

koos10 ·

Skuus, maar ek is ook verkeerd verstaan, dat ek sal etol betaal. Nou is dit mos uitgesorteer, net soos Lesufi verkeerd aangehaal is.

Danie ·

hahaha jy gaan nie n sent uit my kry nie. As jy weier om my lisensie skyf te gee dan betaal ek my lisensie en ry sonder die skyf en as jy wyer om my bestuurslisensie te hernu dan ry ek sonder een en dit is dit.

Anel ·

Ek verstaan nou nie lekker nie. In die 1 paragraaf sê hy mense wat voor 11 April daar ry hoe nie te betaal nie en net in die volgende pararaaf sê hy mense wat daar ry tot 11 April, moet betaal.
Hy kan loop perde vye rook!!!

Nicky ·

As hy dink die wat nie betaal het nie gaan nou betaal, dan maak hy n fout want hy het reeds gese hulle het n fout gemaak om etol in te bring

Hazel Dean ·

Ek stem saam @Nicky… dink hulle as niemand ooit betaal het nie dat hulle nou agterstallige gelde gaan betaal omdat e tol afgeskaf is vd 11de april…gekke…kom ons maak asof dit n April fool’s joke is ????

willie ·

So uit hulle eie monde erken hulle dat etol nooit wettig was nie, nou hoe kan hulle verwag iemand moet betaal vir iets wat nooit wettig was nie?

Martie ·

Daar is ook oral in die Oosrand by die op en afritte tolhekke, wat nou daarvan en die hope op die pad tussen Springs en Johannesburg? Dit het daar gekom saam met die etol.

Andries ·

Stuur my rekening in die pos en ek sal my tjek met die pos stuur.

ES ·

Wag nou bietjie – julle skrap die E-tol want dit het nie gewerk nie en en en… maar mense moet nogsteeds vir iets betaal wat nog nooit regtig gewerk het nie / nie moes bestaan nie?

Wat is in julle water???

melaney ·

Stuur gerus my rekening wat sowat R50 beloop. Ek sal betaal. Ek belowe.

Heinrich ·

“Die haakplek met e-tol was van die begin af gebrekkige konsultasie.” Nee wat, ek dink nie so nie. Daar is baie gesê maar hulle wou nie luister nie. Dieselfde soos met die Bela wet, onteiening sonder vergoeding en die Nasionale Gersondheidsplan, die “konsultasieproses” was net vir die show.

Johann ·

Hoe kan jy betaal vir iets wat hulle uiteindelik erken verkeerd was???

Jacobus ·

Die eintlike probleem is dat “kick back” deelnemers nie summier van bruin koevert inkomste ontneem wil word nie. Nog ‘n Lesufi “miss fire”.

Di ·

Hulle gaan n baie groot verrassing kry, mense sal NIE dit betaal nie. Die spul is almal Ras en Geldmal!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.