EFF-LP stuur vertroulike verslag aan OB se kantoor

Floyd Shivambu. (Foto: ANA)

’n Vertroulike verslag van die Staatsveiligheidsagentskap (SVA) rakende die ondersoek na ’n sogenaamde geheime eenheid in die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), is deur EFF-LP Floyd Shivambu na die kantoor van die Openbare Beskermer (OB) gestuur.

Ponatshego Mogaladi, wat die uitvoerende bestuurder van ondersoeke in die kantoor van die OB was, het Donderdag voor die parlement se artikel 194-komitee, wat belas is met die proses oor die moontlike verwydering van Busisiwe Mkhwebane as OB, getuig.

Sy het getuig Shivambu was die klaer in die SAID-aangeleentheid en het die dokument per e-pos en WhatsApp aan haar gestuur. Mogaladi het gesê toe sy die verslag oopmaak en besef wat dit is, het sy bekommerd geraak en nie verder na die tweede bladsy gelees nie. “Ek was bekommerd oor die gevolge daarvan om net daardie dokument aan te stuur,” het Mogaladi gesê.

Volgens Mogaladi was geen waarskuwing in die e-pos dat die dokument wat sy op die punt was om oop te maak, ’n geklassifiseerde verslag was nie. Sy het met lede van die komitee saamgestem dat dit onwettig en ’n kriminele oortreding is om ’n vertroulike SVA-verslag of -dokument te versprei, ook om dit via e-pos of WhatsApp te versprei.

Mkhwebane se weergawe was dat die inspekteur-generaal van intelligensie se verslag oor die SAID-eenheid deur ’n anonieme fluitjieblaser by haar kantoor afgelaai is. Mogaladi het gesê sy het nooit aan enigiemand melding gemaak van die ontvangs van die verslag nie, aangesien sy nooit vermoed het dat dit dieselfde verslag was wat by die kantoor van die OB afgelaai is nie en sy nie met die inhoud van die verslag bekend was nie aangesien sy dit nooit gesien het nie.

Qubudile Dyantyi, komiteevoorsitter, het Mogaladi gevra of sy deel was van die span wat die OB tydens haar besoek aan pres. Cyril Ramaphosa oor die CR17‑Bosasa-aangeleentheid vergesel het. Mogaladi het haar teenwoordigheid by die vergadering bevestig en gesê sy is onbewus van enige private vergadering of sessie tussen die president en Mkhwebane. “Ons het almal op dieselfde tyd ná die vergadering vertrek. Ek dra geen kennis van ’n private vergadering met die president nie,” het sy gesê. Vorige getuies het aangedui dat die OB privaat met politici vergader het oor ander ondersoeke.

In antwoord op vrae van Dyantyi oor dissiplinêre stappe in die kantoor van die OB teen ander personeellede wat betrokke was by verslae wat ook hersien is, het Mogaladi gesê daardie personeellede is nooit soos sy deur dissiplinêre aanklagte in die gesig gestaar nie. Volgens Mogaladi was daar inkonsekwentheid in die wyse waarop dissipline in die kantoor van die OB toegepas is.

Die komitee sal sy werk vandag voortsit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Herman L ·

Gaan Shivambu hiermee ook weg kom? Landswette geld mos nie vir lojale kamerade nie!

Herman L ·

Die feit dat Mogaladi stilgebly het oor die verslag, maak haar ook skuldig.

Anton ·

@ maroelamedia. Wat het geword van die on point ondersoek???? Malema se maatskappy wat so 8 jaar terug ondersoek was??

Piet 6 ·

Ek stel voor u lees die berigte van 2 dae terug, dit is 24 Augustus 2023 op Maroelamedia om u antwoord te kry.

Cherokee ·

Pragtig! Dan kan ek die perde se wenuitslae van 2023 lees!

Samuel ·

Frank John, ek stem saam. Ons land het Jesus nodig, nie nog politici nie.

Pietertjie ·

Clueless. Die woord “confidential” beteken seker vir hom dat enige comrade daarmee vertrou kan word.

Johann ·

Wonder ek nou hardop…waar het die Rooi Floyiki die “verslag” gekry wat hy so ewe aanstuur?

Oosieoos ·

Gaan staat weer te lafhartig bang wees om Eff te vervolg. Hulle kom weg met alles

domheks ·

Floyd Shivambu/Fraser is seker hand om die blaas. Albei moet aangekla word.

Cherokee ·

Gaan die EFF as gevolg daarvan toegemaak word? Hopelik so!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.