(Effe) minder SA’ners werkloos

(Foto: Hennie Stander/ Unsplash)

Suid-Afrika se werkloosheidsyfer staan nou op 32,6%.

Dit is 0,3% minder as in die eerste kwartaal én ’n beter koers as wat die meeste ekonome te wagte was.

Statistieke Suid-Afrika (StatsSA) het Dinsdag bekend gemaak dat die aantal werkende mense vanaf die eerste tot die tweede kwartaal van 2023 met 154 000 tot 16,3 miljoen toegeneem het.

Die “werklike” of uitgebreide werkloosheidskoers (wat mense insluit wat nie meer werk soek nie) het ook met 0,3 van ʼn persentasiepunt gedaal en in die tweede kwartaal op 42,1% te staan gekom.

Indiensneming in die formele sektor het in hierdie tydperk met 143 000 toegeneem, terwyl indiensneming in die informele sektor oor dieselfde tydperk met 33 000 afgeneem het.

StatsSA het voorts – boonop in Vrouemaand – bekend gemaak dat daar in die tweede kwartaal van vanjaar 2 miljoen minder vroue as mans in diens was. Dít nadat die werkloosheidsyfer vir vroue oor die afgelope tien jaar altyd hoër as vir mans was.

Werkloosheid onder Suid-Afrikaanse vroue het van 27,5% in die eerste kwartaal tot 35,7% in die tweede kwartaal toegeneem.

Volgens StatsSA is 36% van jong vroue tussen die ouderdomme van 15 en 24 tans sonder werk. Hulle studeer ook nie verder nie.

Die syfer is wel 1,2 persentasiepunte minder vergeleke met die eerste kwartaal.

Slegs 54,3% van vroue van werkende ouderdom in Suid-Afrika vorm deel aan die arbeidsmag, hetsy as werksaam of op soek na werk.

Swart vroue is steeds die kwesbaarste groep, met ʼn werkloosheidskoers van 39,8% in die tweede kwartaal.

Nog syfers

Luidens die jongste syfers het die aantal ontmoedigde werksoekers in die tweede kwartaal van die jaar met 94 000 afgeneem vergeleke met die eerste kwartaal. Dit het gelei tot ʼn netto afname van ʼn duisend in die nie-ekonomies aktiewe bevolking.

Die aantal mense wat om ander redes as ontmoediging nie ekonomies aktief was nie, het met 93 000 tot 13,3 miljoen toegeneem.

Konstruksie (104 000), handel (92 000) en gemeenskap- en maatskaplike dienste (63 000) het die grootste werkswinste vanaf die eerste kwartaal tot die tweede kwartaal aangeteken.

Limpopo (+80 000), Wes-Kaap (+54 000) en KwaZulu-Natal (+48 000) het die grootste indiensnemingstoenames in die tweede kwartaal agter die blad. Werksverliese is egter gedurende dieselfde tydperk in die Vrystaat (-59 000) en die Noord-Kaap (-17 000) aangeteken.

The Transformation Alliance (TTA) sê die effense daling is eenvoudig nie goed genoeg nie.

“Die regering moet meer doen om die ekonomie te stimuleer sodat sakeondernemings kan floreer en werk skep,” sê Abel Tau, leier van die TTA.

“Hoewel TTA van hierdie statistieke kennis neem, is ons steeds nie tevrede nie, want dit maak nie ʼn bloue duit verskil nie. Suid-Afrika is die mees ongelyke land met die meerderheid wat onder die broodlyn leef. Dit is dus belangrik vir regerings om ekonomiese stimulasie vir werkskepping te prioritiseer.”

Cayla Murray, die DA se Wes-Kaapse woordvoerder oor finansies, ekonomiese geleenthede en toerisme, sê die jongste syfers is ʼn bewys van die opmerklike ekonomiese veerkragtigheid en groei in die Wes-Kaap; 40,3% van die land se nuwe werksgeleenthede wat oor die afgelope jaar geskep is, is in dié provinsie geskep.

Die Wes-Kaap se uitgebreide werkloosheidsyfer is boonop die laagste in die land (25,3%); dit is 16,8 persentasiepunte onder die nasionale gemiddeld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Johanncb ·

Die statistieke is iets verskriklik! Skaam die Regering hulle nie daaroor nie?

annie ·

En hoeveel werksgeleenthede was daar geskep wat wit werkers kon vul? Nul?

houopkruip ·

Die opskrif moes lees “Werkloosheid in SA steeds skrikwekkend hoog, en steeds van die hoogste in die wereld”.

Truman Burbank ·

Met die nuwe minimuum loon sal dit binnekort weer verander

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.