Eierkrisis: Kleinhandelaars staan bont

In sommige streke en winkels word verbruikers beperk op die aantal eiers wat hulle mag koop. (Foto: Du Preez de Villiers)

Kleinhandelaars in Suid-Afrika staan bont om midde die huidige tekort aan eiers, steeds aan hul klante se vraag na dié gewilde en goedkoop bron van proteïene te voldoen. Dit sluit in ʼn beperking op die hoeveelheid eiers wat klante mag koop.

Weens die nuwe H7-voëlgriepstam wat in Gauteng en omliggende provinsies amok saai, word staatsveeartse verplig om lêhenne in groot getalle van kant te maak, wat daartoe lei dat ʼn skaarste aan eiers landswyd ontstaan het.

Die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging (Sapa) sê die krisis sal nog etlike maande duur, aangesien die regering nog besig is om ʼn entstof vir noodgebruik goed te keur.

Maroela Media het by drie kleinhandelaars gaan uitvind hoe hulle die voorraadtekort hanteer.

Spar sê die uitbreking het ʼn aansienlike impak op sommige van sy eierprodusente gehad, wat gelei het tot beperkte beskikbaarheid van voorraad, wat ʼn vraag-aanbod‑uitdaging skep.

“Benewens ons primêre kleinskaalse plaaslike verskaffers, werk ons aktief saam met groter verskaffers om die probleem die hoof te bied,” sê Jacques Roets, afdelingskommoditeitsbestuurder van die Spar-groep. “Ons ondersoek nuwe geleenthede om ʼn stabiele eieraanbod te verseker en risiko verder te verminder. Hierdie diversifikasiestrategie sluit samesprekings met verskeie lande in Suider-Afrika in, om moontlik eiers in te voer, ontwrigting tot die minimum te beperk en in ons klante se behoeftes in hierdie tyd te voorsien.

“Ons neem leiding van Sapa en werk nou saam met ons goedgekeurde private handelsmerkverskaffers en vennote om voorraad te verseker wat ooreenstem met ons normale gemiddelde klantaanvraag.”

Pick n Pay verseker sy klante dat daar nog eiers op sy winkelrakke is.

“Ons vra klante egter om asseblief verantwoordelik inkopies te doen,” sê ʼn woordvoerder van Pick n Pay. “Ons sal aankope beperk tot een of twee pakkies per klant, afhangend van die streek. In gebiede waar verskaffers geraak word, sal ons met hulle saamwerk om die voorraad fyn te bestuur.”

Die Shoprite-groep het dit beaam en sê hulle werk nou saam met verskaffers om soveel moontlik voorraad te verseker en gebruik sy voorsieningsketting om dit na streke wat tekorte ervaar, te vervoer.

Roets sê voedselveiligheid en gehaltestandaarde kry ook nou baie aandag deur streng beheermaatreëls. Verder word voorraadvlakke beheer deur deurlopende voorraadmonitering, aanpassing van bestellings soos benodig, en die handhawing van ʼn goed gebalanseerde voorsieningsketting.

Hy sê dit is egter belangrik om daarop te let dat aangesien Spar se winkels onafhanklik besit word, die nasionale bestuur nie die kleinhandelaars kan dikteer oor die rantsoenering van eiers of pryse nie.

Spar sê dit is nie net die eierkrisis wat vir hulle hoofbrekens besorg nie. “Ons moet verskeie eksterne faktore hanteer wat ons vermoë om ʼn diens te lewer, beïnvloed. Die voëlgriep is een so ʼn faktor, maar daar is ook beurtkrag, die voortslepende oorlog in Oekraïne wat lei tot hoër kunsmispryse en waterskaarste wat ongelukkig die koste van produkte opjaag. Die jongste brandstofprysstyging is nog ʼn faktor wat ʼn regstreekse impak op die waardeketting se koste het. Bogenoemde verhoog ook algehele produksie-uitgawes, wat nie deur ons kleinhandelaars beheer kan word nie, maar ons sal voortgaan om ons bes te doen,” sê Roets.

Hy sê verder dat Spar sal voortgaan om die situasie te monitor en gereelde opdaterings oor sy gebeurlikheidsplan deur dié kettinggroep se kanale sal vrystel.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Nina Uit ·

Alles goed en wel, maar hoe regverdig SPAR om skielik R99 vir 30 eiers te vra???? Dis deel van wat mens so siek maak in hierdie Land. Ons bloei almal verder uit wat reeds steier. Hoe jul eiers Spar, hou dit. Soos in Covid, nou is dit “die loadshedding, petrolpryse” en so foeter ons aan. En die verbruiker trek aan die korste end.

Cecilia ·

Ek stem saam ons arm verbruikers ly onder alles wat n mislukking is van staat toedien…ek moes Saterdag vir 18 eieren by Spar R75.00 betaal. Dis belaglik hoe ketting winkels hulle pryse met tot 300% lig omdat daar n tekort is HOEKOM. ek meen regtig mens dis n tekort hou jul prise die selfde.. waar kan mens wikels soos Spar, Chekers, Pick En Pay rapporteur omdat hul die pryse met so belaglike prys lig REGTIG DAAR MOET IEMAND WEES WAT ONS KAN BYSTAAN!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.