Nuwe benadering tot voëlgriep ‘dringend nodig’

Lêhenne. (Foto: Maroela Media)

Hoenderboere se ongeneentheid om pluimvee die afgelope tien jaar teen voëlgriep in te ent, het ‘n groot bydrae gehad tot die krisis wat die pluimveebedryf tans beleef, al het boere tot dusver goeie rede gehad om dit nié te doen nie.

Só sê prof. Robert Bragg, verbonde aan die Universiteit van die Vrystaat se departement van mikrobiologie en biochemie.

Bragg verduidelik dat veeartsenykundige dienste die afgelope tien jaar ongeneë was om pluimvee teen voëlgriep in te ent, omdat daar ʼn goed-georganiseerde stelsel in Suid-Afrika in plek is om die uitbreking van voëlgriep te monitor en bestuur. Die basis hiervan is om deurlopend vir teenliggame teen voëlgriep in kommersiële pluimvee te kyk. Die stelsel is egter net moontlik indien die voëls nie ingeënt is nie.

“Indien die virus in ʼn trop hoenders bespeur word, is die trop summier van kant gemaak. Hierdie metode het in die verlede goed gewerk en voëlgriep is tot en met die jongste uitbreking suksesvol beheer. Dit het egter nou alles verander.”

Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai, stem saam dat bogenoemde manier van doen goed gewerk het, maar dat daar nou dringend ander planne gemaak moet word. “Dit het sin gemaak, want jy wil nie onnodig inent nie. Ek dink wel daar moes vinniger opgetree gewees het toe die tekens van ʼn uitbreking rugbaar geword het.”

Die regering het intussen die invoer van ʼn entstof goedgekeur.

Izaak Breitenbach, hoof van die Suid-Afrikaanse pluimveevereniging (Sapa) se braaikuikenafdeling, het aan Maroela Media gesê die departement landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling (DALRRD) het ingestem dat entstowwe vir die twee stamme ingevoer kan word. Dit sal tussen twee en ses maande duur voor dit ingespan kan word. Plaaslik word daar ook ʼn H7-entstof ontwikkel.

Bragg meen egter dit is te min te laat. “Dit sal wel die beheer van die siekte op die langtermyn help, maar min doen om die huidige probleem op te los. Die rede hiervoor is dat dit tyd neem vir ingeënte voëls om teenliggame te ontwikkel. Dit kan tot twee weke neem vir die voëls se immuunstelsels om genoeg teenliggame te produseer om hulle genoegsaam te beskerm.”

Volgens Sapa is daar net meer as 5 miljoen lêhenne van kant gemaak; dit verteenwoordig 20% van die nasionale trop. Daar is tans ʼn tekort aan eiers, maar aangesien 80% van die lêhenne steeds eiers produseer, meen kenners die verskaffing van eiers sal nie opdroog nie.

Dr Shahn Bisschop, uitvoerende hoof van Avimune, het egter in ʼn onderhoud met Plaas TV gesê verbruikers kan ʼn tekort aan hoendervleis in die volgende vier tot ses maande verwag. Bragg meen Suid-Afrika sal dan nog meer afhanklik wees van ingevoerde hoenders om aan die plaaslike aanvraag te voldoen.

Hy sê die enigste korttermyn oplossing om die huidige situasie te takel, is die implementering van goeie biodiversiteit. “Totdat die inentings die voëls begin beskerm, is die enigste opsie ʼn deurlopende en volledige ontsmettingsprogram, waartydens ʼn geregistreerde ontsmettingsmiddel selfs in die voëls se water gespuit word.”

Nietemin meen Bragg die gevolge van die voëlgroepuitbreking, tesame met die deurlopende uitdaging van beurtkrag, kan ʼn doodskoot vir klein tot medium hoenderboere wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Peetjie ·

Wàs daar entstof beskikbaar? Ek vra maar net – ek weet nie…????

Piet parys ·

Met al die entstowwe om te keer dat hoenders vrek wonder ek nou wat se nagevolge hou dit in vir mense .?

Johan ·

Die artikel dui aan dat die oorspronklike metodes om voëlgriep te beheer tot nou toe effektief was, maar dat alles nou verander het. Dit brei egter nie uit oor wat presies verander het, wat die bestaande tegnieke nie meer effektief is nie. Dalk kan iemand kundig hieroor uitbrei?

Danie ·

Die het n geweldige impak in alle opsigte en raak almal. Minder hoenders beteken verliese van die boer tot by die tafel. Die boer wat mielies verskaf lewer minder mielies aan die maatskappy wat hoenderkos vervaardig, Die boer wat met hoenders boer se getalle krimp en slag nie meer so baie hoenders, minder hoenders minder eiers wat ook beteken die verpakkings maatskappye kry swaar. Die pryse skiet die hoogtes in die man op straat kan nie eiers of hoender bekostig nie want dit word nou te duur. Wat is volgende. Mense word afgele en werklose getalle groei. Dan sit jy met n besluitlose regering wat als sal vernietig net om oor scrap te regeer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.