Eldoradopark: Derde polisieman glo ‘aandadig’ aan jong seun se skietdood

Nathaniel Julies. (Foto: Twitter)

Die derde polisiebeampte wat in hegtenis geneem is in verband met die dood van die 16-jarige Nathaniel Julies van Eldoradopark, word nou daarvan beskuldig dat hy aandadig aan die seun se moord was.

Ndileka Cola, woordvoerder van die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod), het gesê sers. Vorster Netshiongolo het Donderdagoggend in die Protea-landdroshof in Soweto verskyn waar die aanklagte teen hom gewysig is.

Netshiongolo, ʼn speurder verbonde aan die Eldoradopark-polisiestasie, staan nou tereg op aanklag van regsverydeling, asook dat hy aandadig aan die moord was.

“Dit beteken dat die sersant ná die moord op die kind onregmatig en doelbewus die ander twee beskuldigdes gehelp het om aanspreeklikheid vry te spring of geregtigheid te ontduik,” het Cola verduidelik.

Netshiongolo sal na verwagting op 10 September weer in die hof verskyn. Hy bly in aanhouding tot dan.

Maroela Media het vroeër berig twee polisiebeamptes, verbonde aan die plaaslike polisie se misdaadvoorkomingseenheid, is reeds verlede week in hegtenis geneem in verband met Nathaniel se dood.

Hulle het Maandagoggend in die hof verskyn op aanklagte van moord, die afvuur van ʼn vuurwapen, die onwettige besit van ammunisie en regsverydeling.

Die twee sal na verwagting ook op 10 September weer in die hof verskyn.

Nathaniel het verlede Woensdag na bewering in die kruisvuur tussen ʼn bende en die polisie beland en is later die dag in ʼn hospitaal dood.

Die skietgeveg tussen die bendelede en die polisie het ontstaan nadat die polisie ʼn wenk opgevolg het oor gesteelde motoronderdele wat in die omgewing gehou word.

Nathaniel, ʼn downsindroomlyer, se familie voer luidens berigte aan hy is dood omdat hy nie op versoeke van die polisie gereageer het nie. Hulle sê egter weens sy sindroom kón hy nie reageer nie.

BBC het vroeër berig die seun was op pad om te gaan koekies koop toe hy doodgeskiet is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Trotse Boervrou ·

Met ander woorde die wit polisieman, wie se gesig, naam ens.so op sosiale media versprei is, was toe nooit betrokke nie? Dit nogal met die woorde “moenie sy naam of gesig vergeet nie en dat hy verantwoordelik was vir Nathaniel se dood” by dit!

Misky ·

Ek dink jy het dalk twee sake deurmekaar Trotse Boervrou. Die enigste wit polisieman van wie ek weet wat onlangs betrokke was by nuusmakende sake, was die biker optog vir plaasmoorde. Daar was n blanke polisieman betrokke wat verantwoordelik was vir onregmatige inhegtenisnemings. Sover ek weet was al die polisie beamptes by die Nathaniel saak bruin/swart

Trotse Boervrou ·

Dankie Misky. Maar gaan Google gerus. Jy sal dit opspoor. Die polisieman se gesig is langs Nathaniel s’n. GOOGLE: “Joss Dylan tweet meet brigadier”……

Trotse Boervrou ·

Jammer, dit moet wees “Josh Dylan tweet meet brigadier”….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.