Enorme mamba in Durban gevang

Nick Evans by die swart mamba wat byna 3 meter lank is. (Foto: Facebook / Nick Evans)

Toe die Durbanse slangvanger Nick Evans Dinsdagoggend ontbied is om ʼn swart mamba by ʼn huis in Reservoir Hills te vang, het hy nooit verwag dat dit ʼn enorme 2,9 m lange reptiel sou wees nie.

Dié swart mamba – wat boonop lekker dik gevreet was – weeg ook ʼn volle 3,6 kg.

Dit was veral die slang se omtrek wat Evans verbaas het – iets wat hy sê die foto’s nie voldoende vasvang nie.

“Hy het waarskynlik rotte, dassies en dalk ook rondloperkatjies gevreet,” het Evans aan Maroela Media gesê.

Dit is juis dié diere wat slange na huise lok, asook rommel en oorgroeide tuine. Slange, en veral mambas, is volop in Durban en maak gereeld hul verskyning by huise in die omgewing.

“Met my aankoms kon ek die slang deur die heining sien. Dit het uitgestrek in ʼn boom gelê in ʼn klein spasie tussen twee huise.

“Ek het probeer om nie te veel aandag aan die slang te gee nie, omdat ek hom nie wou wegjaag nie. Ek moes eers die hek reg voor die mamba oopmaak, maar het gesukkel om die verdomde slot oop te kry. Die massiewe mamba het net vir my gestaar – gewoonlik sou ʼn mamba teen dié tyd gevlug het. Hy het dalk ʼn bietjie meer selfvertroue gehad,” vertel Evans. Hy was sowat 1,5 m weg van die slang.

Die swart mamba is byna 3 meter lank. (Foto: Nick Evans)

Evans sê mambas het dikwels ʼn slegte reputasie, hoewel hulle nie sommer sal byt of pik tensy hulle bedreig voel nie.

Toe hy die hek uiteindelik oopkry, was die vangs heel eenvoudig. Die slang het nie probeer wegkom terwyl hy nader beweeg het nie.

“Dit het net ʼn minuut geneem om hom te vang.

“Ek kon seker nog selfoonfoto’s geneem het, maar ek wou hom gryp voordat hy vlug. Sy kop was die naaste aan my, so ek het dit met die tang gegryp en met my hand gevang. Dit was vinnig en maklik.”

Evans sê hy het aanvanklik gedink die slang is sowat 2,5 m lank – veral oor sy omtrek so stewig was.

Tot sy verbasing was die slang 2,9 m lank – hy en die huiseienaar het die mamba boonop twee keer gemeet om seker te maak. Dié slange is gewoonlik tussen 2,2 m en 2,5 m lank.

“Hy was goed gevoed.

“Sy kop was groot vir ʼn mamba en hy het ʼn paar snye gehad. Hy lyk oud – as ek moet raai, is hy so 20 jaar. Om ʼn dier soos dié te sien en te red is baie, baie spesiaal. Dit het my dag gemaak.”

Evans sê die slang is tans nog by hom. Sodra ʼn veilige plek gevind word, sal Evans die slang weer in die natuur loslaat.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

domheks ·

Kry vir jou. Nee dankie – stel nie belang in slange nie!

isabelle ·

NAGMERRIES na daai foto…..mag die Here my genadig wees en enige slang veral n giftige een BAIE km van my af weg hou….

Henri ·

Daar leer ek ook iets! 20jaar oud! Ek het nog nooit eers gedink aan slange in terme van lewensjare nie. Ons woon op ‘n plaas in die Laeveld met baie slange, asook swart mambas. Hulle is slegs bedreig as hulle in ons tuin, en veral huis kom. In die veld is dit hulle gebied. Ons het ‘n baie bekwame slangpark naby ons, en het al vele kere hulle uitgeroep om slange te kom vang, maar die tyd wat hulle neem om te kom is ‘ta weer fort tot die voëltjies hom weer weggee oor ‘n dag of drie!

Astrain ·

Pragtige dier! Welgedaan om dit veilig te kon vang en beskerm. Slange het ‘n baie noodsaaklike funksie in die natuur – tensy jy meer van rotte en runderpes hou…

Maritza ·

Ek is baie bang vir slange en sal hardloop in die ander rigting as ek een sien maar hulle dien hulle doen en ek haal my hoed af dat hulle gered word en weer vrygelaat word

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.