Enyobeni-tragedie kon verhoed word – MRK

Ondersoekers op die toneel by die Enyobeni-taverne. (Foto: AFP)

Die Enyobeni-tragedie van 2022 kon verhoed gewees het as wetgewing behoorlik toegepas is.

Die Menseregtekommissie (MRK) het dié bevinding gemaak in ʼn verslag van meer as 80 bladsye waarin hy ook ʼn moratorium op die uitreik van nuwe dranklisensies in díe provinsie voorgestel het.

Maroela Media het vroeër berig oor die tragedie waarin altesame 21 tieners in die Enyobeni-taverne in Oos-Londen dood is.

Die kinders was almal tussen 13 en 17 jaar oud. Hulle het glo versmoor omdat die taverne oorvol was. Die owerhede het vroeër gesê daar was klaarblyklik metanol en alkohol in die tieners se bloedstroom ten tyde van hul dood. Tot op hede is die volle verslag hieroor nog nie bekend gemaak nie.

Luidens die verslag was die groep tieners by die taverne vir ʼn “pens down”-viering, ʼn partytjie wat ná die eindeksamen gehou word.

“Met die ondersoek het dit duidelik geword die tragedie wat by die taverne afgespeel het, kan nie in afsondering gesien word nie en daar moet na die breër konteks gekyk word oor hoe alkohol in Suid-Afrika gebruik word,” lui die verslag.

Die MRK het ook vinger gewys na die owerhede, spesifiek die Oos-Londense drankraad en die Buffalo City-metroraad, wat hul wetlike pligte versuim het.

Volgens die MRK het die raad sowel en die munisipaliteit versuim om drankregulasies voldoende toe te pas. Verder het die munisipaliteit ook versuim om sone- en bouregulasies af te dwing.

Luidens die verslag was die taverne nie ingevolge die bouregulasies tot ʼn onderneming verklaar nie.

Daar was ook ten tye van die tragedie slegs een inspekteur van die Oos-Kaapse drankraad vir die hele provinsie beskikbaar. Die situasie by die drankraad het intussen ook nie verbeter nie. Tans is 65% van die raad se poste vir drankwetstoepassingsbeamptes vakant.

Die MRK het by die ondersoek betrokke geraak nadat ʼn klagte van die Suider-Afrikaanse Alliansie vir Alkoholbeleid (Saapa) ontvang is. Saapa is ʼn nie-winsgewende organisasie wat hom beywer vir die verskerping van wetgewing oor drankgebruik in Suid-Afrika.

Leë kiste is by dié gedenkdiens vir die slagoffers van die Enyobeni-taverne-tragedie uitgelê. (Foto: Phill Magakoe / AFP)

As deel van die raad se ondersoek het hy onder meer die ouers van die slagoffers besoek, en die tieners se massabegrafnis bygewoon.

“Ondanks die huidige wetgewing en oorsigmaatreëls wat beskerming moet bied teen die gevare van alkoholmisbruik, is 21 siele verlore. Dit is ʼn ernstige vingerwysing na die tekortkominge wat voortduur.”

Die MRK se verslag is afsonderlik gedoen van die polisie se strafregtelike ondersoek na die tieners se dood.

Luidens die MRK-verslag sal ʼn geregtelike doodsondersoek, om te bepaal of iemand strafregtelik aanspreeklik gehou kan word vir die sterftes, later vanjaar in die landdroshof in Oos-Londen gehou word.

Vuyokazi Ndevu en haar man, Siyakhangela, eienaars van die Enyobeni-taverne, is reeds in Februarie vanjaar skuldig bevind dat hulle drank aan ʼn minderjarige verkoop het. Hulle is ʼn boete van R5 000 elk of 100 dae gevangenisstraf opgelê.

Al het die MRK volgens die verslag nie ʼn mandaat om die strafregtelike aanspreeklikheid van die tragedie te ondersoek nie, het hy ʼn regstreekse verband daarmee en die “stelselmatige en volgehoue kultuur van alkoholmisbruik” in die land aangetoon.

In sy bevindings het die MRK gesê die drankraad se optrede het kom neer op “fundamentele menseregteskendings”.

“Ondanks ʼn tekort aan werknemers het die raad voortgegaan om dranklisensies goed te keur sonder dat hy die nodige kapasiteit het om dit te polisieer.”

Die raad het dus willens en wetens versuim om kwesbare lede van die samelewing teen die onwettige handel in alkohol te beskerm.

Só ook het die polisie gefaal in die uitvoer van sy pligte deur nie klagtes oor die taverne, wat inwoners in 2021 aanhangig gemaak het, te ondersoek nie.

Hieruit spruit die MRK se aanbeveling vir ʼn onmiddellike moratorium op nuwe dranklisensies. So ʼn moratorium sal die owerhede die geleentheid gun om wetgewing te verskerp. Dit sal ook die drankraad kans gee om sy tekortkominge te pak.

Die volledige verslag is hier beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Friedrich ·

Weereens wette wat bestaan en dit verbied het, maar ook wette wat nie toegepas is nie.

Onthou julle nog in die 80er jare toe mense nog wette gehoorsaam het en die polisie gerespekteer het? Daai dae is verby, en niemand het respek vir die polisie nie. Dankie ANC. Wel gedaan.

Pieter ·

So MAW gaan die hele ding nou al vir jare aan en word miljoene op spandeer, net om tot die slotsom te kom dat die ding gebeur het omdat mense teen die wet opgetree het…. My genade, dis nou nuus. Well done! 80 bladsye wat absoluut dui dat van die mens op straat, tot die ou wat bo hulle aangestel is, almal het deel aan dit… So wie kry nou die blaam? seker weer apartheid se skuld.

Ore ·

Ek was in die drankbedryf. ID ‘s was baie gevra. Wat wel gebeur is dat tieners karwagte omkoop om namens hulle drank te koop. So koop ouer vriende , familie ens namens die tieners drank. Drankwinkels het geen beheer oor wat buite hulle persele gebeur nie. My vraag is waarom word die ouers nie ook aangekla van bv kinderverwaarlosing nie? Hoe word tieners toegelaat om middernagtelike ure uit die huis te wees? Dit blyk die die ouers nie veel bekommerd was nie. Die MRK bly maar ‘n grap.

SjN ·

Tipies, niemand vat verantwoordelikheid nie en dit met hul eie mense.

ANNAMARé ·

Kla die ouers ook aan, wat soek ‘n 13 jarige kind by ‘n taverne?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.