Ervare KZN-veldwagter sterf in seekoei-aanval

SP Mthembu, ’n veldwagter van die Mkhuze-wildreservaat in KwaZulu-Natal, is dood nadat hy deur ’n seekoei aangeval is. (Foto: Verskaf)

ʼn Ervare veldwagter van die Mkhuze-wildreservaat in KwaZulu-Natal is Sondag dood nadat hy deur ʼn seekoei aangeval is.

Sphamandla Phiwayinkosi (SP) Mthembu (31) het dié reservaat te voet gepatrolleer toe die noodlottige voorval plaasgevind het. Hy het nog geleef nadat sy kollega die seekoei doodgeskiet het, maar aan sy beserings beswyk terwyl hy op nooddienste gewag het.

Musa Mntambo, woordvoerder van Ezemvelo KZN Wildlife, sê Mthembu en drie van sy kollegas was besig om spoor te sny nadat inligting ontvang is oor stropers wat glo strikke in ʼn bepaalde gedeelte van die reservaat plaas.

Die groep het tydens die patrollie besluit om te verdeel en het verskillende rigtings ingeslaan.

“Binne ʼn paar minute het een van mnr. Mthembu se kollegas ʼn geweerskoot gehoor uit die rigting waarin mnr. Mthembu geloop het. Hy het ondersoek ingestel en gesien hoe ʼn seekoei hom aanval,” het Mntambo aan Maroela Media gesê.

“Mnr. Mthembu se kollega het skote op die seekoei afgevuur tot die dier dood was. Mnr. Mthembu het steeds gelewe en kon met sy kollegas praat voordat hy ongelukkig aan sy beserings beswyk het terwyl hy op hulp gewag het.”

Sihle Mkhize, uitvoerende hoof van Ezemvelo, het Mthembu se dood betreur.

“My hart het gebreek toe ek hoor wat gebeur het. Om die regte woorde te vind om met sy familie te praat, was nog moeiliker nadat ek verneem het dat Mthembu onlangs ʼn kind aan die dood afgestaan het. Sy familie was nog besig om dié verlies te verwerk toe hierdie voorval plaasgevind het,” het Mkhize gesê.

“My medelye gaan uit aan sy lewensmaat en ander kind, asook die Mthembu-familie.”

Volgens Mkhize staan Ezemvelo Mthembu se naasbestaandes sedert Sondag by.

Hy word na verwagting Saterdag begrawe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Olive ·

Waarom die seekoei skiet! Die persoon is gesien as ‘n bedreiging en die seekoei het nie oortree nie.

kommentaar ·

Simpatie aan sy mense.
Dis egter altyd hartseer as n dier in sy habitat moet boet…..

Colin ·

Hoeveel ander diere sal nie boet met hul lewe as dit nie vir mense soos hierdie was nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.