Eskom-‘bedrieër’ se geestestoestand vertraag uitlewering

Die Kusile-kragstasie. (Foto: Wikus de Wet/AFP)

Die Westminster-landdroshof in Londen het die uitleweringsverhoor van ʼn Britse burger en voormalige Eskom-kontrakteur, Michael Harry Lomas, tot volgende jaar uitgestel. Dit volg nadat Lomas se regspan vertoë aan die hof gerig het op grond van ʼn nuwe mediese toestand.

Lomas, ʼn voormalige voorsitter van Tubular Construction, word in Suid-Afrika gesoek in verband met honderde miljoene rande se korrupsie by die Kusile-kragstasie in Mpumalanga.

Sindisiwe Seboka van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) se ondersoekdirektoraat sê Lomas se regspan het in die hof aangevoer dat sy mediese toestand nou ook ʼn invloed op sy geestesgesondheid het.

“Lomas se verhoor sal nou eers volgende jaar van 3 tot 5 Mei in Londen voortgesit word.”

Hy is op 15 April in Londen in hegtenis geneem waar hy eindelik op borgtog van £100 000 (sowat R1,7 miljoen) vrygelaat is. Hy moes ook ʼn borgtogwaarborg van £250 000 (sowat R4,3 miljoen) onderteken.

Maroela Media het vroeër berig dat Lomas glo betrokke was by die korrupsiesaak waar Eskom R745 miljoen aan Tubular Construction Projects betaal het. Dit het Eskom aan oorbesteding van R1,4 miljard blootgestel.

Vier ander beskuldigdes is ook vroeër vanjaar in Suid-Afrika in hegtenis geneem vir hul beweerde betrokkenheid by hierdie saak. Hulle sal na verwagting op 30 Maart weer in die Palm Ridge- gespesialiseerde kommersiële misdaadhof verskyn.

Lomas was in die buiteland ten tyde van dié vier se inhegtenisnemings en sedertdien het die ondersoekdirektoraat ʼn uitleweringsaansoek deur die Britse sentrale owerhede ingedien.

Die direktoraat hoop om die Europese Konvensie oor Uitlewering, asook die VN se Konvensie teen Korrupsie aan te wend om Lomas Suid-Afrika toe te bring sodat hy verantwoording kan doen vir die aanklagte teen hom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.