Eskom gaan sukkel om loonooreenkoms te bekostig

(Argieffoto: GCIS)

Eskom het Dinsdag gesê hy gaan sukkel om ʼn loonooreenkoms te bekostig wat Dinsdag met vakbonde aangegaan is.

Maroela Media het vroeër berig Eskom het ʼn ooreenkoms bereik met die drie vakbonde. Die metaalwerkersvakbond Numsa, die mynwerkersvakbond NUM en Solidariteit het Dinsdag Eskom se aanbod van ʼn 7%-loonverhoging aanvaar. Eskom het kort ná die ondertekening gesê benewens die 7%-verhoging sluit die ooreenkoms ook ʼn verhoging van R400 per maand in die behuisingstoelaag in. Die verhoging geld van 1 Julie 2022 tot 30 Junie 2023.

“Dit bring ʼn einde aan die onderhandelings in die sentrale onderhandelingsforum en die skadelike, ontwrigtende en duur loondispuut,” het Eskom in ʼn verklaring gesê. Dit beteken ook dat alle werkers kan terugkeer werk toe.

“Die algehele impak van dié ooreenkoms is meer as R1 miljard oor die ooreengekome periode. Dit sal ʼn uitdaging wees vir Eskom om dit te kan bekostig,” het die kragvoorsiener bygevoeg.

“Dit is belangrik om kennis te neem dat die stelsel ʼn ruk lank sal neem om te herstel nou dat alle werkers terugkeer. Weens die staking is instandhoudingswerk uitgestel en dit sal ʼn tyd lank duur voor dié agterstand ingehaal is.”

Eskom maan alle werkers om dadelik terug te keer na hul werkstasies om druk op die stelsel te verlig en diens aan die mense van Suid-Afrika te lewer en om kragopwekking te herstel wat negatief geraak is deur die onwettige staking.

“Eskom bedank alle werknemers wat alles in hul vermoë gedoen het en bly werk het om die ligte tydens dié uitdagende tyd te laat brand. Ons bedank ook die lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens wat ʼn sleutelrol gespeel het om seker te maak dat ontwrigting tot ʼn minimum beperk word by kragstasies.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

JL ·

Hoe bereik mens n loonooreenkoms as daar al klaar voorspellings op die tafel is dat dit nie bekostigbaar is nie. Wanneer gaan hier klomp kluite besef daar is nie geld in ons land vir hulle rojale verwagtinge nie.

Nie Verbaas ·

Kluite besit geen konsep van generasie van kapitaal nie. Geld val mos uit die lug uit. Dit verg intellek om die bogenoemde te verstaan.

Jr ·

Nee hulle sal nie, die verbruiker sal dit moet betaal. NIEMAND ANDERS. ONLY IN SA.
NO ELECRICITY
9.5% INCREASE FOR NO ELECTRICITY
CLOSING AND LAYING OFF BUSINESS AND LABOUR DUE TO LOADSHEDDING
INCREASED LOADSHEDDING.
BUT THE WORKERS GET 7%. ONLY IN THE FAILED STATE OF ANC SA

Geert ·

Soos ek verstaan het ESKOM heeltemal te veel werkers, raak ontslae van genoeg stakers sodat daar nie verhoging is in die totale loon rekening is nie. Die staking was immers onwettig.

Friedrich ·

Ons gaan maar liewer sonkrag gebruik. Eskom is onbetroubaar, en hulle kragstasies is oud. Dit is 2022 maar hulle gebruik nog steenkool?

Cherokee ·

Voorspoed (met ‘n computer wat van 5vm tot 7nm ((in die somer!)) werk:-)))
En as dit bewolk is, is die download staàadig! – LOL

Christine ·

Cherokee, ons is op solarkrag en het GEEN probleem met rekenaars in die somer of met bewolkte weer nie. Jou solar of rekenaar is iets mee fout as jy probleme ondervind omdat dit bewolk is

Elizabeth ·

Lê af! Korporatiewe maatskappye herstruktureer elke paar jaar en dan kan werkers weer aansoek doen vir poste. Ideale tyd vir Eskom om dit toe te pas. Eskom hoort nie aan die unies nie. Waarom moet ander besighede hul deure sluit agv kragdeel? Is Eskom se personeel meer werd of belangriker as ander????

Pietertjie ·

Moenie worry nie, daar is genoeg melkkoeie wat hulle diensterekenings en gepaardgaande stygings gereeld betaal.

melaney ·

Ons is al amper by middernag maar blykbaar kom niemand dit agter nie. Dit is wanneer die pawpaw die fan strike.

Jaco ·

“Die verhoging geld van 1 Julie 2022 tot 30 Junie 2023”. Beteken dit dat daar op 1 Julie 2023 teruggekeer word na die ou huidige salarisse voor die verhoging? So oor ‘n jaar staak hulle almal weer?

Christine ·

Nee, op 1 Julie 2023 soek hulle weer nuwe jaarlikse verhoging. Eskom moet nou een-vir-een van die werkers ontslae raak voor dan.

Nie Verbaas ·

“Ons bedank ook die lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens wat ʼn sleutelrol gespeel het om seker te maak dat ontwrigting tot ʼn minimum beperk word by kragstasies.” Die realiteit bewys die teenoorgestelde.

Keelvol ·

Hoe blameer jy alweer die polisie? Die polisie mag nie sommer net optree teen stakers sonder dat daar n hofbevel is nie. So waar is eskom se hofbevel? Waar was die da? Waar was die vryheidsfront plus? Waar was Andre de ruyter?

Maritza ·

Natuurlik gaan hulle. Die belaglike salarisse wat hulle betaal

Jack ·

Maw onwettige stakings is nou wettig en word beloon met salarisverhogings en geen afleggings. Dit gaan n toenemende gemors veroorsaak in die land van die anc. Dit wys ook duidelik wie in beheer is van enige industrie in die land. Die manne in die kremlin glimlag seker breed.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.