Eskom kan gou weer krag by Kusile opwek

Die Kusile-kragsentrale naby eMalahleni in Mpumalanga. (Foto: Phill Magakoe/AFP)

Eskom kan nou binnekort weer meer krag by die Kusile-kragstasie in Mpumalanga opwek, nadat hy tydsame prosesse kon vryspring ten einde ʼn tydelike kragopwekkingsoplossing in te stel.

Dit sal waarskynlik meebring dat beurtkrag met twee fases verminder word.

Verskeie van Kusile se opwekkingseenhede is buite werking gestel ná grootskaalse skade aan die kragstasie se infrastruktuur in Oktober, wat veroorsaak het dat minder krag hier opgewek kan word.

Barbara Creecy, minister van bosbou, visserye en die omgewing, het Woensdag aangekondig dat die kragvoorsiener vrystelling gekry het van die lang proses wat nodig is om sy lisensie vir atmosferiese uitlating te wysig.

Hoewel dit goeie nuus vir kragverbruikers oor die hele Suid-Afrika is, sal die atmosfeer en omliggende gemeenskappe vir ʼn tydperk swaar trek weens die bykomende lugbesoedeling wat dié tussentydse oplossing sal veroorsaak.

Eskom se voorgestelde oplossing sal vereis dat hy teen November twee tydelike strukture oprig wat vir ʼn tydperk van 13 maande bedryf sal word sonder die gebruik van ʼn meganisme wat keer teen oormatige lugbesoedeling. Hoewel dié eenhede 2 100 MW tot die netwerk kan voeg, sal dit beteken dat die vrystelling van swaeldioksied in die gebied meer is as die huidige limiet wat vervat is in Kusile se lisensie vir atmosferiese uitlating.

Die herstelwerk aan infrastruktuur moet teen Desember volgende jaar voltooi word, het die minister gesê.

Die vrystelling is Dinsdag ingevolge die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Luggehalte goedgekeur. Eskom sal egter steeds onderhewig wees aan sekere streng voorwaardes.

Die kragvoorsiener het in sy aansoek aangevoer daar is ʼn dringende behoefte om die kragkrisis in die land te verlig, daarom moet ʼn tydelike opwekkingsoplossing so gou moontlik in werking gestel word.

Die kragvoorsiener sal wel nog by die Nasionale Luggehaltebeampte moet aansoek doen om ʼn eenmalige uitstel vir die nakomingstydraamwerk vir voorgeskrewe standaarde van minimum uitlating vir nuwe aanlegte. Die eenmalige uitstel kan ingevolge die toepaslike regulasies slegs tot 31 Maart 2025 geldig wees.

Krag, gesondheid opgeweeg

Volgens Creecy het sy die besluit geneem om Eskom vry te stel van die proses in die lig van die sosio-ekonomiese uitwerking van beurtkrag en die verreikende gevolge wat dit vir Suid-Afrikaners inhou.

“Ek is ewe bewus van die uitwerking wat die besluit op mense se gesondheid sal hê – veral die gemeenskap naby die kragstasie – wanneer swaeldioksied in die atmosfeer vrygestel word,” het sy gesê.

“Gegewe die uiteenlopende faktore is ek versoek om ʼn buitengewoon moeilike besluit te neem.”

As gevolg hiervan het Creecy besluit om die vrystelling goed te keur, mits Eskom aan die volgende voorwaardes gehoor gee:

  • Eskom moet ʼn openbare kennisgewing in twee nasionale koerante uitreik wat die redes vir hul aansoek verduidelik.
  • Eskom moet ʼn openbare deelnameproses uitvoer, onderhewig aan ʼn verkorte tydraamwerk van 14 dae.
  • Eskom moet aan Creecy en die portefeuljekomitee oor bosbou, visserye en die omgewing in die parlement verantwoording doen oor die vordering van die herstelwerk aan Kusile se kragopwekkingsinfrastruktuur.
  • Eskom moet maatreëls tref om die blootstelling van sy werknemers en die omliggende gemeenskappe aan die besoedeling te versag, wat minstens behels dat hy onafhanklike gesondheidsondersoeke en verwysings na toepaslike openbare gesondheidsfasiliteite moet doen waar nodig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Samuel ·

Dit is nogal ‘n tamaletjie. Lugbesoedeling of elektrisiteit.

Anel ·

Die “lugbesoedeling” het nooit iemand gepla nie. Hoekom nou ewe skielik? En wat het die nuwe minister tot dusver gedoen? Nog nie ‘n dooie woord van sy kant af nie, of verbeel ek my!

Piet 6 ·

Hy was Maandag aand op kykNET en het baie gepraat, meestal nonsens. Kyk maar beurtkrag die afgelope week. Selfs fase 1 op Sondag, nie baie kank nie toe verhoog dit. Vandag word die fase ewe skielik van 4 na 3 verander. Alles om te wys hoe baie hy al gedoen het. Alles oë veblindery om te wys hy is nodig.

Ons gaan nog groot donkerte sien agv dit, eenhede word weer tot die maksimum gedruk.

sopbeen ·

Hy druk nou letterlik die laaste bietjie lewe uit Eskom uit. Hierdie gaan ‘n bitter koue winter wees.

Sarel ·

Is dit nou nog ‘n Bull storie..
Soos wat ons weet gaan die volgende ” Breuk ” plaasvind.
So glo ESKOM nie meer nie

miche ·

So gaan hul seker elke haas (en seker ‘n hoender ook) uit die hoed uitruk so reg voor die verkiesing…

Truman Burbank ·

Die afrikaner nasie is n snaakse nasie. Met niks tevrede nie. As DR nou so iets aangekondig het, sou die mense vuis slaan om sy voete te was.

miche ·

Ons bevraagteken maar net die Regering se tydsberekening ( en hul motiewe) so reg voor die verkiesing , dis al.

Quinzie ·

Ek wonder nou, hierdie nuwe minister, moet hy nou by die cartelle gaan onderhandel sodat eskom meer krag kan opwek ?

Chris ·

Ek is al langer as ‘n naweek in die land. Iemand is besig om ons te belieg. Soos my Ingelse vriend sal sê, “I was born at night, not last night”. Eskom gaan skielik reg geruk word. En raai wat gaan die gepeupel sê., “Van De Ruyter (witman) weg is, gaan dit beter”

Witbaard ·

Hoeveel biljoen gaan die tydelike strukture nou weer kos?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.