Eskom kom skuldbelaaide munisipaliteit tegemoet

Argieffoto (Foto: stevepb, Pixabay)

Eskom het vandeesweek ingestem om ’n gedeelte van die Maluti-a-Phofung-munisipaliteit (Harrismith) in die Vrystaat se bevrore fondse beskikbaar te stel sodat die munisipaliteit van sy uitgawes kan dek.

Eskom het Saterdag in ’n verklaring gesê die kragvoorsiener het Vrydag ingestem om R90 miljoen van die munisipaliteit se bevrore fondse beskikbaar te stel sodat die munisipaliteit sy werknemers se salarisse kan betaal en ander lopende koste kan dek.

Dít volg nadat die munisipaliteit se bankrekening vroeër vandeesweek ingevolge ’n hofbevel bevries is sodat Eskom onbetaalde skuld deur die munisipaliteit kan verhaal.

Die hofbevel is reeds in 2018 bekom nadat die Maluti-a-Phofung-munisipaliteit herhaaldelik versuim het om sy verpligtinge teenoor die kragvoorsiener na te kom. Die munisipaliteit se kragrekening is tans R5,3 miljard oortrokke.

Luidens die verklaring toon die munisipaliteit se bankrekening tans ’n saldo van R220 miljoen. Dié bankrekening sal ingevolge ’n hofbevel geblokkeer bly totdat die munisipaliteit ’n ooreenkoms met Eskom teen 7 Augustus aangaan oor hoe hy sy skuld gaan verminder.

“Eskom sal voortgaan om alle beskikbare regsweë te ondersoek om te verseker dat die uitstaande munisipale skuld verhaal word,” het die kragvoorsiener gesê.

“Die algehele uitstaande munisipale skuld van R30,9 miljard aan die einde van Junie bedreig Eskom se volhoubaarheid. Munisipaliteite het ʼn verantwoordelikheid om hul finansiële verpligtinge vir elektrisiteitsvoorsiening by die groot maat na te kom.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Johan ·

Hoe gaan hulle betaal as die salarisse net bly verhoog en kaders word vergoed vir lojaliteit. Een groot siek spul

Jaco ·

ANC-beheerde eskom kom ANC-beheerde munisipaliteit tegemoet. Volgende stap is seker om die skuld heeltemal af te skryf.

Niklaas ·

Kry die burgemeester darem nog sy top salaris, reistoelaag en groot jaarlikse bonus? Natuurlik….

Jacobus ·

Weer ‘n voorbeeld waar almal gedreig word terwyl die klein groep goeie betalers eenvoudig uitgesluit word. Probleem is dat die ‘amptenare’ nie ‘n flenter omgee nie. Hulle moet slegs die ‘sheeples” elke verkiesing met beloftes by stembus lewer. Feitlik elke klein munisipaliteit het die probleem. Dik gevrete amptenare met ‘n minderheid inwoners wat hulleself bankrot betaal aan rugsteunstelsels ten duurste (+vat).

Herpiet ·

5.3 miljard kragskuld en die ligte BLY AAN. Animal Farm. Some are more equal than others.

Jack ·

Blm kom al n lang pad in ons land en daarmee saam bankrotskap

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.