Eskom-loonverhoging sonder haakplekke op 7% vasgestel

Spuy Sebotsa van Numsa (links), Gideon du Plessis (middel) en Helgard Cronje van Solidariteit (Foto: Verskaf)

Solidariteit het vandag, ná vier rondes van strawwe onderhandelinge ʼn driejaar-loonooreenkoms met Eskom bereik. Die ooreenkoms is in samewerking met die metaalwerkersvakbond Numsa en die National Union of Mineworkers (NUM) gesluit.

Daar is onder meer ooreengekom op ʼn inflasieverwante verhoging van 7%.

Dit is die eerste keer sedert 2010 dat ʼn loonooreenkoms sonder ontwrigting bereik kon word.

Die ooreenkoms maak onder meer daarvoor voorsiening dat die 27 300 werkers wat deel van Eskom vorm, ʼn 7%-salarisverhoging per jaar vir die volgende drie jaar (van 1 Julie 2023 tot 30 Junie 2026) sal ontvang, en die behuisingstoelaag sal ook oor die volgende drie jaar met 7% per jaar vir die volgende drie jaar verhoog.

Dít terwyl die werkers ook ʼn belasbare kontantbedrag van R10 000 per jaar oor die volgende twee jaar sal ontvang.

Numsa het verder met Eskom ooreengekom om die volgende kwessies binne die volgende 12-maande-tydperk aan te pak:

  • Inkomsteverskille en salarisverskille
  • Jan H Smith-lening
  • Besigheidskema: voertuig- en selfoontoelaes
  • Vaste daaglikse toelaes
  • Terugbetaling vir sakereise
  • Moratorium op die sluiting van kragstasies

Solidariteit en Numsa beskou die ooreenkoms as ʼn oorwinning.

“Met die ondertekening van die ooreenkoms kan die fokus van alle rolspelers nou na die beëindiging van beurtkrag verskuif omrede drie jaar van arbeidsvrede die uitvloeisel van die ooreenkoms is. Die hoop bestaan ook dat die inhoud van die ooreenkoms die uitvloei van vaardige werknemers sal beperk, maar ook vaardige werknemers na Eskom sal teruglok,” sê dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.

“Die ooreenkoms kan as ʼn oorwinning vir gemeenskaplike bedinging beskryf word ná ʼn skikking vir die eerste keer sedert 2010 sonder ʼn dooiepunt of ʼn vorm van nywerheidsaksie bereik is, en dit was ook uitsonderlik dat die partye ter elfder ure tot ʼn meerjarige ooreenkoms ingestem het, nadat dit aanvanklik nie ʼn oorweging was nie. Vakbonde het ook ingestem om heelwat vergoedingsverwante eise te verwyder, sodat die fokus uitsluitlik op ʼn salarisverhoging kan wees.”

Phakamile Hlubi-Majola, woordvoerder van Numsa, sê die ooreenkoms is ʼn teken van ʼn verbetering in die verhouding met Eskom.

“Deel van ons bydrae is die ondertekening van ʼn meerjarige ooreenkoms sodat daar arbeidstabiliteit is. Dit sal toelaat dat werkers by Eskom op gehalte-instandhouding kan fokus, sonder om daardie proses met jaarlikse loonpraatjies te onderbreek,” sê Hlubi-Majola.

Eskom se waarnemende groephoof, Calib Cassim, sê die gemeenskaplike ooreenkoms sal baie help om die kragvoorsiener te stabiliseer deur aan Eskom genoeg ruimte en tyd te gee om saam te werk om die dringendste uitdagings te prioritiseer.

“Dit is opmerklik dat dit die eerste keer in meer as ʼn dekade is dat die partye ʼn ooreenkoms bereik,” sê Cassim.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Groot oorwinning ja. Ons is trots op julle. Baie trots.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.