Eskom: ‘Private sektor los kragkrisis op’ terwyl ministers baklei

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit. (Foto: Solidariteit)

Die privaat- en gemeenskapsektor is besig om die kragopwekkingskrisis op te los terwyl die land in die donker sit weens die nutteloosheid van die regering.

“Fase 6-beurtkrag is met ons en dit lyk of dit ons winter gaan wees. Fase 6 is egter bloot die som van die regering se ideologie en regeeronvermoë. Indien ʼn ideologie van ras en sentralisme gemeng word met gulsigheid, korrupsie, aanspraak, onvermoë en arrogansie dan is die som fase 6,” sê dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.

Fase 6-beurtkrag het tot Saterdagoggend gegeld nadat opwekkingseenhede by verskeie kragstasies onklaar geraak het. Fase 5 en 6 is die afgelope week om die beurt toegepas terwyl daar vertragings was om onklaar eenhede weer in diens te kry.

“Ten spyte van voor die hand liggende antwoorde wat aan die regering bekend is, maak die toksiese mengsel, soos bo genoem, dat daar min dringendheid en politieke wil aan die uitvoerende kant van die staat is,” meen Hermann.

Hy sê die werklikheid is dat minister Gwede Mantashe, minister van minerale bronne en energie, in die Staatskoerant kan afkondig dat noodopwekking van 6 000 MW nodig is en dat dit binne ’n jaar aanlyn moet wees. “Alles kan dan in werking gestel word om dit te doen. Hy kon dit al die afgelope dekade lank doen en het bloot nie, want hy wil nie.”

Kgosientsho Ramokgopa (Foto: GCIS)

Daar word intussen berig dat Mantashe, Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, en Kgosientsho Ramokgopa, minister van elektrisiteit, in ʼn twis betrokke is oor die beheer van Eskom en hoe om beurtkrag op te los.

Fikile Mbalula, sekretaris-generaal van die ANC, het gesê die ANC stel nie belang in territoriale gevegte by Eskom nie en dat pres. Cyril Rampahosa moet optree.

“Ramaphosa moet ingryp en kan nie anargie toelaat in ʼn tyd wat ons die ligte moet aanhou nie,” het Mbalula op ʼn mediakonferensie gesê oor die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK), wat vir die volgende vier dae vergader.

“Ons het nie ʼn minister van elektrisiteit aangestel om te veg vir magte wat hy ook al wil hê nie.”  Mbalula het benadruk dat Ramokgopa sekere magte moet hê om die nodige werk te doen en direk te kan ingryp aangesien dit sy werk is om met beurtkrag weg te doen.

“Ons het nie ʼn begeerte om ʼn houding aan te neem nie, maar eerder om te verstaan en blywende oplossings vir die energiekrisis te implementeer.”

Volgens Hermann het die private sektor, ten spyte van die regering se halsstarrigheid, op ’n reusemanier begin belê in opwekking.

(Foto: Maroela Media)

“Nersa het in die ganse 2022 net 1 600 MW se privaatopwekking geregistreer. Daar is net in Februarie vanjaar 1 300 MW se private opwekking geregistreer wat die totaal vir die jaar al op 2 300 MW laat. Dit is groot private kommersiële opwekkers wat of reeds gereed is of besig is om op te wek.  Wat hierby uitgesluit is, is sowat 4 000 MW wat reeds op dakke van Suid-Afrikaners is.

“Dit beteken dus dat daar bykans 6 000 MW se opwekkingsvermoë reeds in die hande van die private sektor luier. Dit is 6 fase-beurtkrag se kragvermoë wat nie op die netwerk is nie.”

Volgens Hermann is die privaat- en gemeenskapsektor dus besig om die opwekkingskrisis op te los. “Nou moet die regering net seker maak dat hierdie oplossings aan die netwerk kan koppel en elektrone kan versend met ʼn behoorlike tariefstruktuur. As koppeling tegnies en kommersieel moontlik gemaak word, gaan hier nog ʼn groter privaatoplossing ontplof. Dit privaatsektor bou dus op groot skaal kragstasies.

“Die momentum uit die privaatsektor en die woede van die gemeenskap word so groot dat die regering se struikelblokke net eenvoudig uit die weg geruim gaan word. Die regering frustreer antwoorde, maar hulle gaan dit nie stop nie. Die regering se werk moet wees om seker te maak dat private opwekkers maklik en vinnig aan die netwerk kan koppel en krag kan verkoop en versend. Die oplossing is duidelik en onstuitbaar, die regering is nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Republikein in die Wes Kaap ·

Die privaat sektor kan nie al die probleme oplos in hierdie mislukte hool nie. Die sakeomgewing is net te onvriendelik en dít word erger.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.