Eskom sê finansies verbeter; ontbondeling op koers  

André de Ruyter, hoof van Eskom. (Foto: ANA)

Eskom se finansiële posisie is besig om te verbeter en die proses om die kragvoorsiener in drie afsonderlike entiteite te ontbondel is op koers.

“Hoewel ons balansstaat steeds onder druk is, is daar ʼn mate van vordering in ons finansies en het ons ons skuld met 15% verminder,” het André de Ruyter, hoof van Eskom, Dinsdag gesê.

Eskom het ʼn voorlegging aan die portefeuljekomitee oor openbare ondernemings en die Nasionale Raad van Provinsies se gekose komitee oor openbare ondernemings en kommunikasie gedoen oor sy middeltermynresultate, die ontbondelingsproses sowel as energiesekerheid.

De Ruyter het toegegee dat bedryfsuitdagings die kragvoorsiener se grootste probleem bly, met die land wat steeds beurtkrag ervaar. Eskom se direksievoorsitter het die komitees verseker dat daar positiewe verwikkelinge rakende beurtkrag is en dat die kragvoorsiener in die volgende drie maande ʼn vorderingsverslag hieroor sal gee.

“Ek dink ons kom nader aan die bereiking van ons doelwitte. Beurtkrag bly ons grootste vyand en hoe gouer ons dit agter ons sit, hoe beter,” het Khaya Magaxa, voorsitter van die portefeuljekomitee oor openbare ondernemings, gesê.

“Ons is bly om kennis te neem van die vordering wat gemaak word om die probleme by Eskom te hanteer en beurtkrag aan te pak ten einde ononderbroke beskikbaarheid van elektrisiteit aan elke burger te verseker, en die ekonomie te laat groei.”

Die minister van finansies, Enoch Godongwana, het Dinsdag tydens sy begrotingsrede gesê daar is begrip dat Eskom se skuldvlakke ʼn bekommernis vir sy krediteure en beleggers is. “Die regering gaan voort om Eskom te help om finansieel volhoubaar tydens die oorgang te wees.”

Eskom het tot dusver R136 miljard ontvang om sy skuld te betaal, terwyl nog R88 miljard tot en met die 2025‑’26-boekjaar toegewys word.

(Argieffoto: GCIS)

Eskom se algehele skuld beloop sowat R392 miljard. Dit het ʼn regstreekse uitwerking op die instandhouding van kragsentrales, wat beteken Suid-Afrika word gedurig aan beurtkrag onderwerp.

By die mediakonferensie voor die lewering van sy begrotingsrede het die minister ook gesê Eskom moet self stappe doen om sy situasie om te keer en moeilike besluite sal geneem moet word.

“Ons konsentreer nou al 13 jaar lank daarop om Eskom reg te ruk. Dit kan nie reg wees nie. Hulle sal bates moet verkoop.”

Pres. Cyril Ramaphosa het tydens sy staatsrede gesê verskeie nuwe kragopwekkingsprojekte sal oor die volgende paar jaar van stapel gestuur word.

Hy het gesê Eskom se ontbondeling sal na verwagting teen Desember 2022 afgehandel wees. Die kabinet het ook vroeër wysigings aan die Wet op Elektrisiteitsregulering goedgekeur wat beskikbaar sal wees vir openbare kommentaar.

“Hierdie wysigings sal ʼn mededingende mark beskikbaar stel vir kragopwekking en die instelling van ʼn onafhanklike staatsbeheerde oordragmaatskappy,” het Ramaphosa gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
Willem

Klink bietjie beter maar raak eers ontslae van al die skelm werkers in jul diens en stop beurtkrag!!!!

Lillian

Ek haal my hoed af vir hierdie man, hy moet die gemors van dekades probeer opruim! Sterkte!

krodedil

Daar word geld gespaar ten koste van onderhoud. Bekwame tegnici verlaat Eskom op strepe maar dit hinder Eskom bestuur nie solank hulle net geld spaar. Die Tegnici wat oorbly is beslis nie op std nie. Dit is maar net die begin van daaglikse beurtkrag as Eskom so aangaan.

Herman

n Wyse man het een keer gese, “pas op dat jy jouself nie bankrot spaar nie”

AmY

My finansies het nooit weer verbeter vandat ESKOM met al hulle verhogings begin het nie. Ek het nog nooit in my lewe meer as ‘n 7% verhoging gekry nie.
Ek kan ESKOM nie meer bekostig nie. Hoe meer ek bespaar, hoe meer ‘vang hulle my uit.’
Ek is moeg en moedeloos.