Eskom vandeesweek glo gesaboteer

Die Tutuka-kragsentrale in Mpumalanga. (Foto: Eskom)

Eskom het Donderdag bevestig dat daar ʼn aantal “sabotasievoorvalle” vandeesweek by die Tutuka-kragstasie in Mpumalanga plaasgevind het.

Van die beweerde sabotasievoorvalle het plaasgevind terwyl die kragstasie besig was met voorbereidings om die opwekkingseenhede weer op dreef te kry.

In een van hierdie voorvalle is ʼn kabel doelbewus afgesny wat daartoe gelei het dat die eenheid se terugkeer na die kragnetwerk met drie dae vertraag is, aangesien dit ʼn tyd geneem het om die fout op te spoor.

Nadat die kabel eindelik ontdek is, is dit vinnig herstel en die eenheid is tans weer operasioneel.

Op dieselfde dag wat hierdie kabel gesny is, net ʼn paar uur later, het dit aan die lig gekom dat daar ʼn skielike val in druk was en dieselfde eenheid se turbinestelsel het onklaar geraak.

“Daar is later ontdek dat die lugtoevoer na die turbinestelsel met kraggereedskap gesny is,” sê die kragvoorsiener in ʼn verklaring.

“Dieselfde pyp is later herstel en met lug gelaai voordat die druk genormaliseer het. Die eenheid sal na verwagting vandag weer in diens wees.”

Eskom meen dat hierdie dade opsetlik gedoen is om die bedrywighede van die stasie te belemmer. Gegewe die aard van die aanvalle kon dit slegs deur iemand gedoen word wat die stasie en die sekuriteitskenmerke in die gebied “redelik goed ken”.

Eskom het reeds strafregtelike klagte by die polisie aanhangig gemaak en forensiese personeel was reeds op die toneel.

Volgens Eskom is hierdie die vyfde voorval van sy soort sedert Maart verlede jaar.

Die kragvoorsiener het vroeër veiligheidsmaatreëls by hierdie kragstasie opgeskerp, insluitend bykomende veiligheidspersoneel en gevorderde tegnologiese aparte.

“Hoewel hierdie maatreëls die sekuriteit by Tutuka aansienlik verbeter het en kabeldiefstalvoorvalle verminder het, is dit duidelik dat die jongste voorvalle rede genoeg is om verdere veiligheidsverbeterings aan te bring sodat die voorsiening van elektrisiteit beveilig kan word.”

Beurtkrag is sedert verlede week al in die land van krag weens die grootskaalse tekort aan opwekkingskapasiteit.

Soos sake tans staan sal beurtkrag vir die res van die week voortduur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

27 Kommentare

Marius ·

Eskom moet van al sy saamryers ontslae raak en mense aanstel wat wil werk.

Eidel ·

Onbevoegde en sleg gekwaliverseerde werkers dalk. Baadjies vir boeties

Wielspore ·

Ons is ‘n IPP en het ook steenkool van die myne ontvang met groot stukke metaal in wat ons toerusting beskadig het. Mnr die Burgermeester, jou raadgewers doen nie hulle werk, sabotasie is ‘n groot probleem by van ESKOM se kragstasies.

Cherokee ·

Wat is die rede(s) vir sabotasie. Die antwoord daarop sal in een of ander groep se rigting dui.

Adri ·

Die sabotasie strek veel wyer as een of twee kragstasies: dit begin heel bo by die bestuur!

Frank ·

Nee, mense soos Andre de Ruyter staan tussen ons en algehele donkerte.

Hendrik ·

Wat presies is die werk van Oberhaulser? Ek was onder die indruk ht kyk na die klas van dinge. Miskien is hy die gevaar teken by Eskom.

Nie Verbaas ·

Dieselfde gemors wat die toerusting beskadig werk moontlik daar, word maandeliks n salaris betaal maar werk net wanneer hy skade aanrig. Mentaliteit verstaanbaar as gevolg van ANC beleid.

Di ·

Vind hierdie TERRORIS en gooi hom in die tronk vir ‘n lang tyd. Glo dat daar meer as 1 persoon hierby betrokke is. Daar is ‘n SEKERE groep mense wat hierdie sabotasies beplan, vind hulle!

Nicky ·

Om hulle te vind is maklik gee vir die mense n leunverklikker toets

JL ·

Daar moet absoluut sonder enige verweer teen dié opgetree word wat ons land biljoene kos.

Manie ·

Dit kan nie te moeilik wees om die skuldige(s) op te spoor nie. Begin by wie die betrokke dag, datum, tyd aan diens was, asook by sekuriteit, want die kameras was blykbaar buite werking gestel in die betrokke afdeling waar dit plaasgevind het.

Kokerboom ·

Eenheid vir eenheid moed leuenverklikkertoetse op al die werkers gedoen word en so die skoonmaakproses begin word

Andries ·

En almal het De Ruiter se kop ge-eis. Ek reken al die onvoorsienbare onderbreekings is om van hom ontslae te raak.

Piet ·

Dalk moet ons (Ongelukkig is ek al te oud daar voor) ons eie geheime diens op die been bring en insypel om die skurke vas te trek. Ons het polisie om die taak te verrrig nie.

Eidel ·

Wat kry die wat die skade aanrig. Dit is duidelik vir my daar is ‘b mafia wat daar after sit. Verplaas die werkers. Of dank hulle af as sabotasie bewys kan word. Die land gaan ten gronde as gevolg hiervan. Doen agtergrond “checks” op personeel se leef wyse standaarde

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.