Eskom verbrand R65 miljard se diesel in vyf jaar

(Argieffoto: GCIS)

Bewyse het aan die lig gekom dat Eskom diesel verbrand het teen ʼn koers en skaal wat die jaarlikse begroting van NSFAS verdwerg.

Mimmy Gondwe, die DA se skaduminister oor openbare ondernemings, sê dit volg ná die droewige versuim deur die minister van elektrisiteit, Kgosientsho Ramokgopa, en die voorsitter van die Eskom-raad, Mteto Nyati, om duidelikheid te verskaf oor Eskom se dieselverbruik.

In reaksie op ʼn parlementêre vraag deur die DA het die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan, onthul dat Eskom die afgelope vyf jaar altesaam R65 miljard aan diesel spandeer het om sy oopsiklus-gasturbines aan die gang te hou. “Dit kom neer op meer as R1 miljard se diesel per maand oor vyf jaar,” sê Gondwe.

In die 2022/2023- finansiële jaar het dieselverbruik byna verdriedubbel en bly sedertdien op verhoogde vlakke met ʼn gemiddeld van sowat R21 miljard per jaar.

“Aangesien Eskom steeds grootliks op oopsiklus-gasturbines (OCGT’s) staatmaak om sy tekorte in kragvoorsiening aan te vul, is bewerings deur Eskom-raadsvoorsitter Nyati dat die dieselspandering vir die 2024/2025- finansiële jaar oënskynlik onwaarskynlik.”

Gondwe sê dit is nie volhoubaar om oorvloedige hoeveelhede diesel teen ongekende vlakke te verbrand nie. “Dit verduidelik deels waarom verbruikers met dubbelsyfer-tariefverhogings getref is deur Nersa. Dit is geen toeval nie dat Eskom se 31,4%-tariefverhoging – wat oor twee jaar versprei word, in die 2022/2023- finansiële jaar goedgekeur is toe dieselverbruik byna verdriedubbel het.”

Dit beteken dat verbruikers gevra word om Eskom se mislukkings te subsidieer, aangesien die entiteit meer diesel verbrand om ʼn “illusie van verbeterde kragopwekking vol te hou”.

“Met die jongste onthulling is minister Ramokgopa se bewering, dat Eskom ʼn draai gemaak het, heeltemal vals. Om diesel te verbrand kan nooit ʼn permanente oplossing wees tot die beurtkragkrisis nie. OCGT’s, wat deel is van Eskom se sukkelende kragsentrales, is veronderstel om slegs tydens spitstye gebruik te word wanneer die stelsel onder druk is. Eskom se inligting oor aanvraag en verskaffing dui daarop dat hy steeds op OCGT’s steun om tekorte aan te vul. As enigiemand die beurtkragkrisis as ʼn wapen gebruik, dan is dit minister Ramokgopa, want hy maak bewerings van verbeterde kragopwekkingskapasiteit wat nie ondersteun of gestaaf word deur feite nie.”

Gondwe sê die eenvoudige vraag wat die minister moet antwoord, is: As Eskom die afgelope 30 dae nie van OCGT’s gebruik gemaak het waar daar geen beurtkrag was nie, sou Eskom die ligte kon aanhou?

Om drie miljard liter diesel oor vyf jaar te verbrand kan nooit gebruik word as ʼn maatreël van sukses in die beurtkragkrisis nie. “Trouens, dit onthul die onderduimse taktieke wat die ANC-regering aanwend om staat te maak op duur korttermyn-planne om Suid-Afrikaners om die bos te lei dat Eskom oor die ergste is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

koos10 ·

Dit verduidelik dan ook die diesel tekorte wat ons ondervind het.
Hoeveel sonkrag plase kon gebou gewees het? Die kan binne 2 jaar aan die netwerk gekoppel wees, maar nee, ons sal maar diesel koop, heel moontlik by ‘n kader wat ‘n miljoen ‘n maand in sy sak druk en niks anders as ‘n middelman is nie.

Theo ·

En die meeste van dit was seker die laaste paar dae om seker te maak die ligte bly aan voor die verkiesing!

Kokerboom ·

Voeg daarby die onvermoeë van onbevoegde “dink hul weet alles” Kade aanstellings wat die treurmare voortsit Sonder om te besef hul kan NIE werk doen span die kroon. Almal lieg vir almal!Ons lewe in ‘n voorgee kunsmatige wêreld in SA

Kokkies ·

Hoeveel privaat maatskappye het aangebied om te help, om hulle reserwe krag in die netwerk in te sit? Maar nee, hulle sal miljarde rande betaal vir diesel sodat hulle die krag se prys kan opstoot, ons verarm en hulle te verryk. Hoeveel van daai diesel gaan in privaat karre in? Iemand (ANC kaders) trek voordeel hier uit.

Danie ·

Daardie diesel kon baie boere in nood gehelp het.Maar wat help dit om te kla dis down the drain.Die geld is weg so se hulle.

ekweetniks ·

stemdag is nog ver weg, so nog miljarde sal geblaas word om die ligte aan te hou tot dan

Casper ·

Feit van die saak is die minister van elektrisiteit het gelieg oor die verbetering in opwekkingskapasiteit en die toevoeging van MW tot die stelsel.Dit is miljarde rand se diesel en dit hy hy nog nooit genoem nie wat vir my een ding duidelik maak,na die verkiesing gaan ons ……..onder beurtkrag.

domheks ·

nog ‘n kader wat van lieg en bedrieg aanmekaar gesit is!

Amelia ·

As ek reg onthou is ramaposa die een wat iets te doen het met diesel dink op fb gepraat daaroor

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.