Eskom verwelkom inhegtenisneming van bedrieërs

Kusile-kragstasie (2015) (Foto: Khulu Pasiwe/Eskom, Twitter)

Eskom het Woensdag die inhegtenisneming van twee voormalige werknemers van die internasionale ingenieursgroep ABB en hul gades verwelkom vir korrupsie met Eskom-kontrakte ter waarde van R2,2 miljard.

Maroela Media het vroeër berig die vier is gister deur die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) se ondersoekdirektoraat in hegtenis geneem vir korrupsie wat verband hou met ʼn kontrak wat in 2015 deur Eskom aan ABB toegestaan is.

Die verdagtes het glo hul invloed gebruik om onreëlmatig Impulse International as ʼn subkontrakteur aan te stel vir ʼn deel van die werk ter waarde van R549,6 miljoen. Dit was glo ten spyte daarvan dat Impulse nie eintlik gekwalifiseer was om die werk uit te voer wat vereis is nie.

Eskom het die NVG gelukgewens met die inhegtenisnemings in die saak en onderneem om alles in sy vermoë te doen om die ondersoek by te staan om ʼn suksesvolle vervolging te verseker. “Eskom hoop dit is net die begin en dat nog inhegtenisnemings sal volg in dié saak en die meer as 100 ander kriminele sake wat oor die jare by wetstoepassingsagentskappe aanhangig gemaak is,” het die kragvoorsiener in ʼn verklaring gesê.

Die voormalige ABB-werknemers Mohammed Mooidheen en Vernon Pillay staan tereg op aanklag dat hulle hul invloed misbruik en voordeel getrek het uit onreëlmatige betalings ter waarde van ongeveer R8,6 miljoen. Dit sluit kontant en luukse voertuie in, asook die onwettige toekenning van die subkontrak aan Impulse. Hulle gades het na bewering ook voordeel getrek uit die misdaad. Dit hou verband met werk aan die Kusile-kragstasie.

Die batebeslagleggingseenheid het reeds bates van die verdagtes en hul gades gekonfiskeer.

Die verdagtes is vrygelaat op borgtog en moet op 14 Oktober 2022 weer in die hof verskyn.

“Eskom was een van die hoof-misdaadtonele, soos blyk uit die bevindings van die Kommissie van Ondersoek na Staatskaping. Hierdie saak was een van die sake waar die kommissie se verslag vervolging aanbeveel het. Die wetstoepassingstelsel moet wys dat die tyd van diefstal en kriminele straffeloosheid verstreke is.”

Tydens Desember 2020 het ABB South Africa ingestem om ʼn bedrag van R1,577 miljard aan Eskom te betaal uit geld wat hy reeds onreëlmatig ontvang het ná die maatskappy vrywillig verklaar het dat hy in 2015 met sekere Eskom-beamptes saamgewerk het om ʼn kontrak van R2,2 miljard onreëlmatig toe te ken vir die Kusile-kragstasie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Henri ·

Dít is alles goed en wel, maar wat van die vakbonde? ‘n Miljard rand direk uit die stakings verdien, maar wat was die skade aan verlies aan inkomste en sabotasie? Gaan die vakbonde skokvry, ag ek bedoel skotvry daarvan afkom? Skokkend. Dis as daar krag is.

Papsak ·

Ek hoop hulle word gestraf vir skade wat hulle veroorsaak het

Nico ·

Sal Eskom die geld ooit terug kry, Eskom was dan self deel van hierdie bedrog spul.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.