Eskom-voorsitter looi De Ruyter  

Mpho Makwana (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

Mpho Makwana, voorsitter van Eskom se direksie, het vandeesweek tydens ʼn mediakonferensie oor die beurtkragverwagtinge vir die winter, van die geleentheid gebruik gemaak om André de Ruyter by te kom.

De Ruyter het die afgelope week onder hewige kritiek deurgeloop, veral deur Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, wat die voormalige Eskom-hoof as alwetend, narsisties en melodramaties bestempel het.

Makwana het op sy beurt gesê De Ruyter het “vertroue op die afstootlikste wyse moontlik geskend” met sy bewerings en die publisering van sy boek.

“Oortredings is begaan deur ʼn uitvoerende beampte in ʼn fidusiêre posisie wat in besit was van vertroulike inligting van ʼn nasionale sleutelpunt,” het hy aangevoer. Makwana het De Ruyter verder daarvan beskuldig dat hy die Popi-wet oortree het, sowel as verskeie aspekte van ʼn uitvoerende direkteur se pligte, die Wet op die Bestuur van Openbare Finansies, en sy dienskontrakklousules oor vertroulikheid.

“Ons korporatiewe bestuurspanne hersien dit alles en sal toepaslike en redelike stappe doen om te verseker dat die direksie alle nodige aksies neem.”

Volgens Makwana word daar ook ʼn onafhanklike ondersoek gedoen rakende al De Ruyter se bewerings.

Ernstige druk op kragnetwerk verwag dié winter

Ter illustrasie (Foto: Andrey Metelev via Unsplash)

Omtrent die kragstelsel het Makwana gesê daar is ernstige beperkings, hoofsaaklik weens die swak prestasie van die Eskom-steenkoolvloot.

“Weervoorspellers verwag ʼn baie kouer winterseisoen as wat verlede jaar ervaar is, wat tot ʼn groter elektrisiteitsaanvraag sal lei, aangesien verhitting van ons huise en ruimtes vereis word.”

Makwana het weer eens benadruk dat beurtkrag toegepas word om die waarskynlikheid van ʼn algehele stelselineenstorting of ʼn totale landwye verduistering te verminder.

“Ons is nou 21 maande nader daaraan om die voorlaaste doelwit van ʼn 70%-energiebeskikbaarheidsfaktor teen 31 Maart 2025 te bereik.”

Volgens Makwana ondersteun die direksie die bestuur ten volle in sy pogings om die prestasie en lewensverlenging van Eskom se steenkoolkragstasies te verbeter.

Oor beurtkrag het Makwana gesê Eskom gaan voort om waardevolle lesse te leer van wêreldwye beste praktyke en landspesifieke gevallestudies.

“Lesse uit Viëtnam, Japan en Australië verskaf nuttige insigte oor hoe ons, as Eskom-, regering- en bedryfsleiers, elektrisiteitsvoorsiening en veerkragtigheid gedurende die winter kan verbeter. Eskom se uitmergelende impak op Suid-Afrika se ekonomie en mededingendheid is onmiskenbaar.

“Terwyl ons verwag om vanjaar vir die eerste keer deur die winter te gaan sonder die 960 MW van  Koeberg Eenheid 1, is dit ʼn noodsaaklikheid om die voltooiing van die lewensverlenging en die vervanging van stoomopwekkers te verseker. Die eenheid sal na verwagting in September 2023 weer in diens wees, en ʼn maand later sal Eenheid 2 se onderbreking volg. Die plan is om die 2024-boekjaar af te sluit met ʼn energiebeskikbaarheidsfaktor van 65%.”

Buiten sy eie opwekkingskapasiteit is Eskom ook besig met die transmissie-ontwikkelingsplan waarvolgens talle projekte in verskillende uitvoeringstadiums is om die transmissienetwerk uit te brei ten einde voorsiening te maak vir die aansluiting van nuwe kragopwekkers en voorsiening te maak vir netwerkstabiliteit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.