Eskom voorspel R20 miljard se verliese

Argieffoto: GCIS

Eskom het vandag bevestig dat die kragvoorsiener ongeveer R20 miljard se verliese vir die huidige finansiële jaar verwag.

“Eskom se swak finansiële prestasie blyk meer bestendig te bly as sy vermoë om die ligte aan te hou,” het Ghaleb Cachalia, die DA se woordvoerder oor openbare ondernemings, in ʼn verklaring gesê.

Die DA het opnuut versoek dat die kragvoorsiener in sy geheel hersien moet word. “Eskom het die albatros van ons ekonomie geword, omdat dit die grootste bedreiging inhou vir ons fiskus.”

Cachalia het gesê die DA se hoofsweep, Natasha Mazzone, sal op 3 Desember 2019 amptelik die party se Wetsontwerp oor Goedkoper Elektrisiteit aan die portefeuljekomitee oor openbare ondernemings voorlê. “Dié wetsontwerp bied ʼn raamwerk om die koste van elektrisiteit te verlaag en betroubare kragvoorsiening ʼn hupstoot te gee. Eskom sal hierdeur in twee entiteite verdeel word – ʼn kragopwekkingsentiteit en ʼn oordrag/verspreidingsentiteit.

“Die kern van die DA se plan is om ʼn privaat kragopwekkingsentiteit op die been te bring wat Eskom se monopolie op die vervaardiging van elektrisiteit sal breek en sal verseker dat die nasionale kragvoorsiener meeding met onafhanklike kragvoorsieners.”

Cachalia het gesê die DA is van mening dat dit die enigste manier is om ʼn winsgewende, doeltreffende Eskom te waarborg en elektrisiteittoevoer in Suid-Afrika te verseker.

“Ons het nou ʼn stadium met Eskom bereik waar ons politieke verskille tersyde moet stel, omdat dit in ons almal se belang is dat Eskom weer vir alle Suid-Afrikaners werk. Versuim om dit te doen sal nie net beteken dat Eskom ineenstort nie, maar dat die hele Suid-Afrika ineenstort.”

Eskom het ʼn finansiële verlies van R20,7 miljard in 2018/19 aangemeld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Commie ·

Ek sou graag wil weet hoeveel skuld ander Afrika Lande wat krag van Eskom af kry, vir Eskom en indirek ons belastingbetalers. Lande soos Zimbabwe kry krag maar het omtrent niks geld nie. Hulle het onlangs net ‘n klein gedeelte van hulle skuld betaal ?

Christo ·

Enige ander besigheid wat teen so verlies bedryf word, word onmiddellik gesluit….so wat van ESKOM?????

John ·

Daardie ou koei wat daar ver in die hoekie in die warm son staan en nie naby die voerkrip of water toegelaat word nie, is die een wat soggens douvoordag gemelk word en die paar druppels aan die koning alleen bedien word… En dan word die ou koei afgeransel om maar weer in haar hoekie te gaan staan vir ‘n herhaling van dieselfde storie.
Slim boer… die een met die Robin Hood-hoedjie…

Sakkie ·

Gaan kyk na die R6.3bn se skuld van soweto wat afgeskryf is. Dan wonder n mens maar net

Wondermaarnet ·

Dit is tyd dat Eskom kompetisie kry dan sal hulle vinnig hul skuld invorder by Soweto en ander munisipaliteite wat nie betaal nie. Hulle is te bang die nasie brand en breek alles af as krag afgesny word. CR sal mos weer help so Eskom kan spandeer en mors soos hulle wil.

Siener ·

Die een koerant sê Eskom maak ‘n wins en die ander se Eskom maak ‘n verlies. Lyk my die media soek sensasie deur hulle beriggewing.

Andre ·

Wat maak Cachalia by die DA? Daardie familie was baie groot “vryheidsvegters” en ondersteuners van die regerende party. Die feit dat van hulle nou onder die DA se vaandel optree spreek boekdele.

HPV ·

Die meerderheid instansies, besighede ens het goeie winste getoon voor die ANC regime die land en sy eie instansies begin plunder het! Viva ANC !

Bert ·

Ek voorspel vir volgende jaar ‘n verlies van R24 miljard, daar gaan steeds minder mense wees wat hul krag rekening wil/kan betaal.
Boonop gaan baie mense wat wel hul kragrekenings kan en wil betaal oor op Solar as gevolg van eskom se onbetroubaarheid en prys verhogings.

n feit ·

Die enigste firma wat met 20m se verliese, wel aan personeel enige vorm van bonusse gee. As in ons firma ordentlike winste is en jy dit verdien, dan kry jy n klein produksie bonus.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.