Familie groet blommeboer maande ná wrede aanval   

Joop (86) en Carla (85) van Reeuwyk. (Foto: Verskaf)

Die familie van Joop van Reeuwyk (86), ʼn blommeboer van Noordwes, het Maandag tydens ʼn verassingsdiens van hom afskeid geneem nadat hy vroeër die maand in die Milpark-hospitaal se intensiewesorgeenheid dood is.

Van Reeuwyk en sy vrou, Carla (85), is op 8 Augustus wreedaardig op hul plaas by Mooinooi naby Brits aangeval en was albei sedertdien in die hospitaal. Carla het onlangs eers uit haar koma ontwaak en word nou in die hoërsorgeenheid van ʼn rehabilitasiekliniek behandel.

Van Reeuwyk, wat aanvanklik tekens van beterskap getoon het, is op 2 Oktober, vier dae voor sy 87ste verjaardag, dood.

Sy dogter, Astrid Poorter, het Dinsdag aan Maroela Media gesê dat haar pa longontsteking en verskeie infeksies opgedoen het, en gereeld met antibiotika behandel moes word.

“Sy liggaam en hart kon dit net nie meer volhou nie. Ons vermoed my pa is aan hartversaking oorlede, maar ons wag nog vir die uitslae van die staatslykskouer.”

Die dokter het die familie ʼn paar dae voor Van Reeuwyk se dood ingelig dat dit nie goed met hom gaan nie.

Poorter sê hoewel dit hulle tot ʼn mate voorberei het op sy dood, is ʼn mens nooit werklik voorbereid wanneer so iets wel gebeur nie.

Van Reeuwyk was die afgelope weke by tye by sy volle positiewe en het met die familie gekommunikeer deur sy oë te knik en sy kop te skud. Hulle het ook vir hom stemboodskappe van familielede regoor die wêreld gespeel, waaroor hy baie aangedaan en by tye emosioneel was.

Poorter glo haar pa sou nog lank kon lewe indien dit nie vir die aanval was nie. Sy sê Van Reeuwyk se broers en susters is almal in hul laat 80’s en 90’s en dat haar pa self ook perdfris en gesond was.

Joop van Reeuwyk (86). (Foto: Verskaf)

Haar ma is ook “85 jaar jonk” en saam was die Van Reeuwyk-egpaar ten tyde van die aanval nog aktief by die blommeboerdery betrokke. Van Reeuwyk het selfs ʼn sampioenprojek aangepak.

Carla sterk goed aan

“Ons fokus nou op my ma se gesondheid en om vuur te maak onder die polisie om die aanvallers te vang en sodoende die gemeenskap te beskerm teen toekomstige aanvalle en diefstal.”

Dit lyk intussen of dit al beter met Carla gaan, hoewel dit nog nie duidelik is wat sy van die aanval onthou nie.

“Sy kan hoor en verstaan wat vir haar gesê word. Dis wonderlik om te sien hoe sy herstel. Ons het nooit gedink dat sy uit haar koma gaan kom nie. Albei my ouers het slegte hoofbeserings opgedoen.

‘Gebroke oor aanval’

Die familie gaan tans voort met die boerdery en laat nie toe dat dinge stilstaan nie.

“Tyd sal leer wat met die plaas gaan gebeur,” het Poorter gesê.

’n Skermskoot van Joop van Reeuwyk se gedenkdiensbrief.

Die familie is egter gebroke oor die wrede aanval en sê dat haar ouers in die maande voor die aanval gereeld onder diefstal deurgeloop het, maar dat die polisie nooit iets aan Van Reeuwyk se klagte gedoen het nie.

“Dis so ’n sinnelose daad, en waarvoor? Vir ’n selfoon en ʼn skootrekenaar!”

Sy sidder om te dink waardeur haar ouers moes gaan en wat deur hul koppe moes maal.

Poorter sê buurtwaglede het al by verskeie geleenthede op gesteelde goedere – ook van ander diefstalvoorvalle – in die veld afgekom, maar dat die polisie se ondersoek oënskynlik stilstaan.

“Ons as familie is woedend oor die aanval en die feit dat niemand nog in hegtenis geneem is nie.

“Ons is glad nie geneë met die polisie [se hantering van die saak] nie. Ons wil antwoorde hê en weet dat die aanvallers aangekeer gaan word. My ouers was telkemale in die laaste paar maande besteel. Pappa het polisiestasie toe gegaan, maar heelaas is niks gedoen nie.”

Poorter is oortuig dat dié diewe ook vir die aanval op haar ouers verantwoordelik is.

“My pa was naderhand moedeloos van frustrasie, want hoe kan ’n mens boer of ’n bestaan maak as jy telkens besteel word, maar niks word gedoen en niemand word gevang nie.”

Kol. Adele Myburgh, polisiewoordvoerder, het bevestig dat die klag van poging tot moord op Van Reeuwyk na een van moord verander is, en dat die ondersoek voortduur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Mariana ·

RIV. Simpatie aan familie en sterkte aan Tannie. Die polisie sien onglukkig nie plaasanvalle as prioriteit nie. En boonop wit boer, nee jammer hulp bestaan nie.

Gaitsigubib ·

Net 2 kommentare? Dalk voel ander kommentators soos ek – ons weet wanneer ons eerder moet stil bly. Baie, sterkte me Poorter, ons dink aan julle.

flutterby ·

Ai dis hartseer! Rus sag oom Joop. Sterkte vir tannie Carla wat agterbly…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.