Familie soek berusting ná afgetrede prokureur se moord

Hans Wessels is in Januarie in sy vakansiehuis in Kleinmond vermoor (Foto: Verskaf)

Die kinders van die vermoorde Hans Wessels (71), ʼn afgetrede prokureur, sê die feit dat hul pa se vermeende moordenaars tans agter tralies is, bring nie berusting nie, maar wel tevredenheid dat geregtigheid moontlik vir hul pa se dood gaan geskied.

Wessels is op 26 Januarie in sy vakansiehuis op Kleinmond in die Wes-Kaap vermoor. Die omstandighede rakende sy moord is nog nie bekend nie.

Maroela Media het vroeër berig die vermeende moordenaars het in sy peperduur Porsche gevlug. Hulle het die voertuig glo in Laingsburg vir ʼn bedrag van R50 000 probeer verkoop nadat die motor se brandstof opgeraak het.

Die polisie het hulle ʼn dag later in Laingsburg aangekeer en is só na Wessels se huis gelei.

Jonico Pretorius en Denver Hendricks het verskeie kere al in die hof verskyn. Hulle het in Junie in die landdroshof op Caledon verskyn waar hulle om borgtog aansoek gedoen het. Volgens Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in die Wes-Kaap, is hul borgtog teengestaan.

“Die saak is tot 27 September uitgestel terwyl daar vir die uitslae van forensiese toetse gewag word,” het Ntabazalila aan Maroela Media bevestig.

Hulle bly intussen agter tralies.

Wessels se vier kinders het net voor die borgtogaansoek in Junie ʼn petisie teen die twee beskuldigdes se borgtog van stapel gestuur. Hulle het ook elke hofsitting bygewoon.

Wessels se suster, Martie, sê die familie en veral die kinders ervaar ʼn warboel van emosies.

“Hul pa is van hulle weggeneem en niemand het die reg om iemand se lewe te neem nie. Die kinders probeer mekaar steun deur aan mooi herinneringe te dink, liefde te ontvang en te gee en die beste lewe te leef. Net soos hul pa hulle geleer het,” vertel Martie.

Volgens Martie was haar broer ʼn man wat sy liefde vir sy vier kinders, twee kleinkinders en vriende elke dag uitgeleef het.

“Ons almal en veral sy kinders het ʼn hegte band met hom gehad.”

Sy vertel ook dat Wessels die vermoë gehad het om enige geselskap op te kikker met sy kwinkslae.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Peach ·

R50k vir ‘n Porch….. onmiddelike gevaar ligte. Hoop die skarminkels kry wat hulle verdien. Medelye met die familie.

Blomme ·

Hoe verwerk mens soveel trauma en hartseer? Dat die skurke nie dink aan die emosionele skade wat hulle bring aan die naasbestaandes, gaan my verstand te bowe. Geen tronkstraf kan daardie seer regverdig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.