Fase 3-beurtkrag of hoër moontlik – Eskom

(Argieffoto: GCIS)

Eskom sal moontlik fase 3-beurtkrag, of selfs hoër, op kort kennisgewing moet instel indien nog opwekkingseenhede skielik onklaar raak. Die verwagting is egter dat ʼn aantal broodnodige opwekkingseenhede vanaf Donderdag weer by die kragnetwerk gevoeg sal word sodat beurtkrag teen die naweek ʼn ding van die verlede is.

Jan Oberholzer, Eskom se bedryfshoof, het Woensdag tydens ʼn mediakonferensie gesê dat beurtkrag vandeesweek ingestel moes word weens talle opwekkingseenhede wat verlede week nie beskikbaar was nie.

“Daar was ʼn aantal eenhede wat onklaar geraak het, wat vereis het dat ons te veel op die oopsiklus-gasturbines moes staatmaak vir langer periodes gedurende die dag. Dit het daartoe gelei dat die dieselreserwes vinniger gedaal het as wat dit aangevul kon word,” het hy gesê.

Die kragvoorsiener het onthul dat hy sedertdien  ʼn “massiewe” 270 miljoen liter diesel moes gebruik om die ligte aan te hou.

“Hoewel die druk op die kragnetwerk ietwat verslap het oor die langnaweek, was dit nie genoeg om die diesel- en damvlakke weer na normaal aan te vul nie. Ons is nou op ʼn punt waar ons die opgaardam- en dieselvlakke moet bewaar om beurtkrag tot fase 2 te beperk.”

Die kragvoorsiener het Woensdagoggend aangekondig dat fase 2-beurtkrag vandag tussen 10:00 en middernag ingestel sal word en dan vir die res van die week tussen 05:00 en middernag sal geld. Dit volg nadat altesaam vier opwekkingseenhede die gees gegee het en die kapasiteit van die kragnetwerk met 2 400 MW verminder het.

Oberholzer meen dat die verwagte koue weer boonop die situasie kan vererger.

“Hierdie kouefronte het ʼn dubbele impak op die vraag na elektrisiteit deurdat wind-energie aan die kus hoog is, maar daal soos die kouefront die sentrale dele van die land, soos Gauteng bereik. Die vraag na krag neem boonop toe namate die temperatuur daal,” sê Oberholzer.

“Wanneer die vraag toeneem, moet Eskom se opwekkers meer gereeld elektrisiteit genereer om die verlies aan windopwekking en die bykomende vraag aan te vul.”

Die jongste kouefront, wat veroorsaak is deur ʼn laedrukstelsel wat oor die Namibiese kus beweeg het, beteken daar is nie soos normaalweg gedurende die dag ʼn afname in die vraag na elektrisiteit nie.

“Eskom se kragopwekkers is dan onder druk gedurende hierdie tye en ons probeer alles moontlik om hoër fases beurtkrag te voorkom.”

Hoewel twee opwekkingseenhede onlangs by die Kusile-kragstasie onklaar geraak het – wat ʼn verlies van sowat 700 MW beteken – sal daar na verwagting teen die naweek altesaam vyf opwekkingseenhede by die kragnetwerk gevoeg word.

Een eenheid by die Kusile-kragstasie is reeds Woensdagoggend weer by die netwerk gevoeg, terwyl die tweede een eers na verwagting Maandag herstel sal word.

Vier uit die ses eenhede by die Tutuka-kragstasie verkeer ook tans onder geweldige druk. Volgens Oberholzer verskaf die kragstasie tans net die helfte van die aantal opwekkingseenhede wat dit normaalweg kan genereer.

Nietemin sal een eenheid by die Tutuka-kragstasie teen môre herstel word, terwyl nog vier teen Vrydag by die netwerk gevoeg sal word.

“Dit sal die stand van sake baie verbeter sodat ons hopelik teen die einde van die week beurtkrag kan opskort.”

Daar is wel ʼn vertraging in die herstel van eenheid twee van die Koeberg-kragstasie. Hoewel daar goeie vordering met die eenheid gemaak word, is sy tydlyn steeds met ʼn maand vertraag.

Die eThekwini-munisipaliteit, wat gebiede in en om Durban bedien, is steeds van beurtkrag gevrywaar totdat hy volkome van die onlangse oorstromings herstel het.

Eskom het Woensdag onthul dat hy sedert April al 40 dae van beurtkrag ingestel het. Daar was al altesaam 54 dae, oftewel sewe weke, van beurtkrag sedert die begin van die jaar.

Instandhouding dringend nodig

Rhulani Mathebula, Eskom se opwekkingshoof, het Woensdag gesê dat talle van sy opwekkers dringend voldoende instandhoudingswerk nodig het, maar dat dit nie in hierdie stadium moontlik is om aan daardie behoefte te voldoen nie.

“Gedurende hierdie tyd van die jaar doen ons nie baie instandhouding nie, juis omdat die land se vraag na elektrisiteit so hoog is,” het hy gesê.

“Ons moet in hierdie stadium die balans tussen vraag en instandhouding handhaaf al het ons opwekkers langtermyn‑instandhoudingswerk nodig ten einde volhoubaar te wees.”

Volgens Mathebula verloor Eskom elke dag ʼn gemiddeld van vier kragopwekkers weens verskeie redes. Afhangende van die aard van die probleem, word dit egter relatief vinnig herstel.

Tans is meer as 15 000 MW weens ander probleme onbeskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Johan ·

Nou wonder ek net wat van die strike wat tans by twee kragstasies aan die gang is weens salaris verhogings??? Glo nie meer hulle verskonings nie

Marius ·

Siestog hoe pateties is dit darem nie?
Dankie anc julle is die swakste.

Neelsie ·

Hoekom is dit die 2 nuwe kragstasies (Medupi en Kusile) wat die meeste probleme gee. Die ouer installasies is te verstane – daar is jare geen onderhoud gedoen nie en onder omstandighede doen hulle nie te sleg nie. Maar daardie 2 …….!!

Harley Davidson ·

Privatisering is al uitweg selfs met de Ruyter aan die stuur lyk dit nie asof die krag voorsiener die mas opkom nie .

groenboer ·

In ‘n onlangse onderhoud het De Ruyter self gesê die enigste uitweg is privaatopwekking; Eskom kan eenvoudig nie nog kapasiteit voorsien nie, en dit is in elk geval die regering se werk. Probleem is, regering moet permitte vir privaatopwekking uitreik, en Kameraad Mantashe sleep sy voete daarmee.

Burgermeester ·

Die ANC et al. het alles in die grond in bestuur, dat dit amper onmoontlik is om enige iets te red. Ek wonder hoeveel betaal ESKOM vir ‘n liter diesel, want 270 miljoen liter klink na baie geld.

Mariana ·

Waarsku betyds dat daar wel eenhede gaan onklaar raak. Berei voor want dit gaan gebeur. Die saboteurs is gereed.

Ettienne ·

Korrek verskonings,verskonings. Die afdraande pad waarop ESKOM is se helling raak nou vinnig steiler en hulle tel nou spoed op ondertoe toe totale black out

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.