Fassinerende DA-leierstryd wag in Wes-Kaap

Bonginkosi Madikizela.

Die proses rakende die aanwysing van ʼn DA-burgemeesterskandidaat vir Kaapstad is op ys geplaas aangesien die korrektheid van die samestelling van die paneel wat die kandidaat moet aanwys, bevraagteken word.

Bonginkosi Madikizela, die DA se provinsiale leier, is verlede week geskors as provinsiale LUR vir vervoer, het teruggestaan as Wes-Kaapse leier en het gesien hoe sy veldtog om burgemeesterskandidaat te word uitmekaar val nadat dit aan die lig gekom het dat hy nie die B. Com-graad verwerf het waarop hy in sy CV aanspraak maak nie.

Die vreemde daarvan is dat die DA hom nou al jare lank tereg daarop beroep dat hy sy lede en kandidate se kwalifikasies presies nagaan, en daar geen rede is om daardie DA-stelling te bevraagteken nie.

Die vraag is dus hoe die DA jare lank onbewus was – of bewus was en stilgebly het – oor Madikizela se kwalifikasies, veral gegewe dat dit onder meer die huidige voorsitter van die party se dagbestuur, Helen Zille, is wat hom jare lank voorgestoot, in posisies aangestel en vir leiersposisies ondersteun het.

Daarom het opponente van die DA, soos die ANC en Good, hierdie week dadelik uitgewys dat die tydsberekening van die DA se beweerde skielike ontdekking dat Madikizela jare lank lieg oor sy kwalifikasies, hoogs verdag is.

Madikizela was een van drie kandidate vir die DA-kandidatuur om die Kaapse burgemeesterskap. Die oorblywende twee is die huidige burgemeester, Dan Plato, en die DA-parlementslid Geordin Hill-Lewis.

Plato het die afgelope drie jaar stabiliteit gebring ná al die intrige, vuilspel en ondergrawery met die afstaan uit die burgemeesterskap van Patricia de Lille.

Hill-Lewis, ʼn bekwame LP sonder enige stadsraad- of bestuurservaring, is van sy studentejare af op die allerhegste wyse aan Zille en die DA-establishment verbind, en dit word deur onkreukbare bronne aangevoer dat hy intern die uitgesproke en aktiewe steun van Zille en die DA-partyleier, John Steenhuisen, teen Plato geniet.

Plato se ondersteuners, wat verskeie van die DA se voorste Afrikaanssprekende sowel as bruin Engelssprekende en swart leiers insluit, skop egter tans vas, wat ʼn fassinerende en klipharde stryd om Kaapse burgemeester te word, in die hand werk – wanneer die gemors oor die keuringspaneel nou eers uitgesorteer is.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Nie Verbaas ·

Die ANC van alle mense praat oor kwalifikasie. Een derde van staat se senior posisies beskik nie oor nodige kwalifikasies nie. Ons kan ook verwys na n sekere kader van SAAT wat by Zondo kommisie getuig het wat n “geoktrooieerde rekenmeester” is.

Fedup ·

It’s not fascinating at all.
This is unacceptable and disappointing.

Jaco ·

Hiers my ondervinding met kwalifikasies tydens my werk soek proses: behalwe dat my velkleur vir klomp werke “verkeerd” was, is ek ook afgekeur omdat ek glo “te hoog” of “nie relevant tot die arbeidsmark” gekwalifiseerd was. Aan my velkleur kon ek niks doen nie, maar wel aan my kwalifikasies. Ek het nie meer my 2 universiteitsgrade op my CV aangedui nie. 4 jaar op universiteit het ek verander na ‘n eenvoudige “attended university for 3 years” en 1 jaar militêre diensplig het ek na 2 jaar verander. NIEMAND het my ooit oor dié goed uitgevra nie. Deur “dommer” voor te kom op my CV, het ek sowaar ordentlike werk gekry. MAAR die skade is gedoen: jare se skuld wat dateer uit die jare wat ek werkloos was omdat ek eerlik was op my CV, moet alkes terugbetaal word. Daars geen kans vir eendag rustig aftree nie.

Jaco ·

Iets maak nou nie sin nie: die swart leier van die DA in die Wes-Kaap is net ‘n gewone minister en ‘n senior wit DA lid is die premier. Hoe dan nou? Dít komende van ‘n party wat nogal vir regstellende aksie en BEE gestem het. Dalk steek daar tog waarheid in die ANC se gereelde woorde “die rassistiese DA”.

Dries ·

Vliegtuie met toeriste ka nou sommer uit die lug sien hoe brand SA en sommer n U-draai maak

Anoniem ·

Nou is al die GIFPENNE uit om hieroor te skryf. Luister maar net na die kommentare/. Ek neem aan dat almal wat die DA so wil kruisig stem nou vir die ANC> Ek bly DA …… Ek wil graag weet wat was Zuma se skool uitslae toe hy President geword het????

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.