Feesproduksies in Wes-Kaap die nekslag toegedien

Coenie de Villiers en Deon Meyer (Foto: Suidoosterfees/Facebook)

Deon Meyer en Coenie de Villiers se gewilde Karoo Suite-produksies, wat later vanjaar by Atlantic Studios se inryteater aangebied sou word, is tot verdere kennisgewing uitgestel.

Dié besluit is genoodsaak deur ʼn skerp toename in Covid-19-infeksies wat in die Wes-Kaap aangemeld is.

De Villiers sê dit is ʼn geweldige teleurstelling juis omdat die inryteater-inisiatief in vele opsigte aan Covid-19-regulasies voldoen. Produksies word regstreeks op ʼn buitelugverhoog aangebied, terwyl gehore uit die gemak en veiligheid van hul motors na produksies op die silwerskerm kyk.

“Die hele produksiespan se vliegkaartjies en verblyf is bevestig, mense oor die hele land het reëlings getref om die vertonings by te woon en in ʼn oogwink is dit als verniet,” sê De Villiers.

“My hart gaan uit na die Suidoosterfees-span wat onverpoosd werk om die kunstebedryf aan die gang te hou,” sê hy verder. “Dit is immers by feeste waar die kunstebedryf asemhaal.”

Hoewel hulle teleurgesteld is, benadruk De Villiers dat die erns van die pandemie nie onderskat moet word nie. “Dit is ons burgerlike plig om alles binne ons vermoë te doen om die pandemie hok te slaan.”

De Villiers sê daar is reeds gesprekke aan die gang en hulle hoop om binnekort nuwe datums bekend te maak.

Volgens prof. Brian Figaji, die Suidoosterfees se direksievoorsitter, is alle goeie dinge die moeite werd om voor te wag.

“In die lig van die huidige situasie in die Wes-Kaap en die aandklokreël wat na verwagting heringestel gaan word, is ons genoodsaak om die produksie uit te stel.”

Figaji sê die Suidoosterfees en sy vennote bly verbind tot die projek. “Ons wil graag beklemtoon dat die vertonings uitgestel en nié afgestel word nie.”

Kaapstad se uitvoerende burgemeester, Dan Plato, stel inwoners en besoekers gerus dat aanbiedinge sal voortgaan sodra die pandemierisiko’s verminder het.

“Ons is bewus van die enorme druk waaronder die kunstebedryf verkeer en bly verbind tot die lewering van grensverskuiwende werk saam met die Suidoosterfees.”

Die Suidoosterfees het vroeër die week aangekondig dat ander produksies ook deur die besluit geraak word.

Emo Adams (Foto: Facebook)

Optredes wat na 2021 uitgeskuif word, is die drie Lockdown Legato-konserte: All that rapp, Rock & Rumba en Classics Fantastics; die Suidoosterfees se Talentsoektog-uitdunrondes en Sundowners in the park. Dié konserte sou van 3 tot 6 Desember vanjaar in Kaapstad se Kompanjiestuine plaasgevind het.

Die naweekprogram wat op 4 en 5 Desember by Welgemeend aangebied sou word, is ook uitgestel. Somerkersfees; Olga, die wandelende; Devonecia & Wilken en die Piekniekkonsert met Emo Adams is ook tot verdere kennisgewing uitgestel.

Alle feesgangers wat reeds kaartjies gekoop het, sal van die nuwe datums in kennis gestel word sodra dit gefinaliseer is. Die aankondiging sal ook in die media en op projekvennote se sosialemediaplatforms gemaak word.

Mense wat reeds kaartjies vir die vertonings gekoop het en reëlings vir terugbetalings of herbesprekings wil tref, kan Computicket nader of ʼn e-pos na die Suidoosterfees se kantoor stuur by [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Patch ·

Jy het duidelik nie ‘n geliefde aan die pandemie afgestaan nie en jy weet ook nie wat dit behels as jy dit wel opgedoen het nie, dan noem jy dit ‘n klug. Word wakker! Ek hoop jy, jou gesin, familie en vriende bly gesond.

Gawie ·

Gehasie – vertel vir die mense wat iemand deur Covid aan die dood afgestaan het, of dié wat in ICU veg vir hulle lewens, dat die pandemie ‘n klug is.
Word wakker!

Jaco ·

‘n Sterk sekondêre doel met inperking is om wit besighede te laat swaarkry en bankrot te maak. Dis seker maar reg en polities korrek in dié anti-wit SA. Maar wat van swart kunstenaars wat nou ook swaarkry onder inperking? Hulle het tog nie soos die wit mense iets “verkeerd” gedoen nie. Iets maak nie sin nie.

Alexander ·

Absoluut belaglik. Daar is voorsiening gemaak vir alle risiko’s. Die produksie sou vir niemand ‘n bedreiging ingehou het nie. Die probleem is in die townships waar alle reëls verontagsaam word.

Eend Bessinger ·

Dis tyd om aanlyn-vertonings te doen! Dan kry jy geen teleurstellings soos die nie.

Linda ·

Het ook al gedink dit is die regering se plan om wit besighede by te kom.

Mad Mike die Rhodesiër ·

‘n Mens speel nie met die virus nie. Die internet is beskikbaar vir almal wat vermaak wil word. Gebruik dit!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.